Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Nuwe studenteraad gereed om Akademia se studentelewe na nuwe hoogtes te neem

Gepubliseer op: 4 Augustus 2023

Op Donderdag 3 Augustus is Akademia se studenteraad (SR) vir die 2023/2024-termyn amptelik ingehuldig op die instelling se Centurion-kampus. Die nuwe SR staan gereed om met passie en toewyding hul nuwe rolle aan te pak en Akademia se studentelewe na nuwe hoogtes te neem.

Volgens Douard d’Assonville, bestuurder van studentelewe en koshuise by Akademia, is die SR die sleutelfaktor vir ʼn gestruktureerde en georganiseerde studentelewe. Hy noem dat dié groep die geleentheid het om ʼn reeds bestaande fondasie te neem en daarop te kan voortbou.

Hy voeg by dat die instelling se vormingsideaal aan die studente oorgedra word deur die SR wat as voertuig hiervoor optree. “Die SR skep ʼn veilige ruimte waar karaktervorming in studente kan plaasvind. Ons studenteleiers doen meer as wat van hul verwag word en deur die studenteraadstruktuur kweek ons studente wat die vormingsideaal uitleef.”

Die SR vir 2023/2024 en hul portefeuljes is as volg toegeken:

Myrtle Endley – SR: Voorsitter

Johannes van Jaarsveld – SR: Adjunkvoorsitter (voltyds)

Desiré Fourie – SR: Adjunkvoorsitter (nauurs)

Demarco Robinson – SR: Bemarking (voltyds)

Elcke Katzke – SR: Bemarking (nauurs)

Miné Hermann – SR: Kuns en Kultuur

Christiaan Wessels – SR: Sport

Hanri Noëth – SR: Gemeenskap

Louisa Visser – SR: Verenigings

Kyle du Toit – SR: Projekte

Chanellé Booyens – SR: Studenteaktiwiteite (nauurs)

Volgens d’Assonville is die nuutverkose SR ʼn besonderse en uiteenlopende groep. “Ons het tydens die onderhoudproses gesien dat die groep se spandinamika uitsonderlik is. Hulle vul mekaar goed aan deur hul verskillende sterkpunte.”

Wat vir d’Assonville uitstaan van die groep is dat elkeen ʼn diepbegronde en opregte “hoekom” het. “Elkeen het in die aansoekproses dit duidelik gemaak dat dit hulle roeping is om ander te dien. Dit gaan nie vir hulle oor die titel of posisie nie maar om werklik ʼn verskil te maak.”

Sy wens aan die nuwe SR is om te onthou om alles wat hul aanpak tot eer van die Here te doen en waarlik hul roeping uit te leef. “Ek wil hulle ook aanmoedig om elke oomblik van studentwees te geniet en die gesonde studentelewe verder by Akademia te bevorder,” sluit d’Assonville af.

Akademia wens elke nuwe studenteraadslid voorspoed toe vir die termyn wat voorlê. Mag elkeen ʼn ware verskil maak in mekaar, in hul medestudente en in Akademia. Die instelling sien uit na alles wat hulle as span in die termyn gaan bereik.