Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studenteleier: Ek sprei met selfvertroue my vlerke

Gepubliseer op: 7 Augustus 2023

Augustus is Vrouemaand in Suid-Afrika en gedurende dié maand, en méér nog op Nasionale Vrouedag – wat op 9 Augustus is, vier Akademia sterk vroue wat elk op ʼn unieke wyse baie vir die gemeenskap en die mense om haar beteken. Een so ʼn vrou is Myrtle Endley, Akademia se studenteraadsvoorsitter vir die 2022/2023- asook die 2023/2024-termyn.

Vir Endley, ʼn derdejaarstudent wat die BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)-program op Akademia se voltydse kampusmodel volg, klink die opgelegde titel as rolmodel vreemd op die oor. Sy verkies dit eerder om as ʼn rentmeester gesien te word, en neem die verantwoordelikheid wat hiermee gepaard gaan baie ernstig op. “As studenteleier sien ek dit as my plig om op só ʼn wyse op te tree dat ek ander kan help om tot die besef te kom dat hulle werklik tot enigiets in staat is, en dat hul potensiaal onbegrens en onbeperk is,” verduidelik Endley.

Haar selfversekerheid en doelgerigtheid, veral as jeugleier, is iets waaraan Endley baie hard moes werk om te ontwikkel. Sy onthou dat sy vóórdat sy by Akademia aangesluit het in 2021 skaars geweet het wat sy met haar lewe wou doen. Sy is dit egter eens dat Akademia haar nie net as student omvorm het nie, maar haar soos ʼn spreekwoordelike skoenlapper die vryheid en leiding gebied het om, simbolies gesproke, pragtige helderkleurige vlerke te ontwikkel wat haar tot nuwe en ongekende hoogtes voer.

“Ek kan ʼn boek skryf oor my groei-ervaring by Akademia, en ek staan daagliks verstom as ek terugkyk oor my persoonlike groei oor die afgelope drie jaar,” sê Endley. Sy voeg by dat hierdie metamorfose haar opnuut opgewonde maak oor die toekoms en dat sy nou, anders as vroeër in haar lewe, glo dat die Here ʼn plan vir haar lewe het en dat haar potensiaal soveel méér is as wat sy ooit gedink het.

Endley is van mening dat ʼn leierskapsmondering uit vaardighede soos dapperheid, kwesbaarheid, integriteit en inisiatief moet bestaan. Sy verduidelik: “ʼn Leier moet dapper wees omdat sy nie mag wegskram van moeilike gesprekke nie. In die lig hiervan speel integriteit ʼn sleutelrol omdat ʼn leier doen wat sy sê en nie net op lippetaal staatmaak nie. Dit is ook belangrik en nodig dat ʼn leier se waardes belyn is met haar dade. Laasgenoemde maak van haar ʼn veilige vesting vir die mense wat in haar vertrou.” Endley verduidelik voorts dat kwesbaarheid nie as ʼn swakheid gesien moet word nie, maar eerder as ʼn tipe eerlikheid teenoor jouself en ander, wat jou bevry van die druk om ʼn skynbeeld voor te sit. Laastens, beskryf sy ʼn leier se inisiatief as ʼn onderskeidende dryfveer wat dinge laat gebeur en die toekoms ʼn werklikheid maak.

Voordat sy die rol as SR-voorsitter aanvaar het, het Endley as eerstejaarstudent in 2021 op Akademia se eerste voltydse studenteraad gedien. Sy was gemoeid met die taal, kultuur en erfenis-portefeulje. Dit was gedurende hierdie tyd dat haar pad met dié van dr. Jannet Davel, hoof: Personeel en Ontwikkeling by Akademia, gekruis het. Endley beskryf Davel as haar rolmodel omdat sy deur haar wysheid, deursettingsvermoë en liefde vir die Here ʼn kragtige leierskapsgetuienis lewer.

Endley dink blinkoog na oor die toekoms en dit is haar hartsbegeerte dat Akademia se toekomstige jeugleiers nooit sal ophou om doelgerig na ʼn beter môre te beweeg nie. “Dit is my droom dat die instelling se leiers met versekerde treë in die rigting van hul drome sal loop, op ʼn pad wat die Here hul uitwys,” sê Endley. Sy voeg by dat Akademia-studente, oftewel Fonties, moet voortgaan om entoesiasties in hul lewens deel te neem, sodat hul denke en hul harte gevorm kan word en hulle trots as mede-rentmeesters na vore sal tree.

Myrtle Endley is passievol oor jeugleierskap en as die SR-voorsitter vir die 2022/2023- asook die 2023/2024-termyn neem sy haar rol as rentmeester by Akademia baie ernstig op.