Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Dogter, jong dame, vrou – jy is genoeg

Gepubliseer op: 8 Augustus 2023

Geskryf deur Charmain Kruger, dosent in Sosiale Wetenskappe-onderwys by Akademia

Tans gons die wêreld onder ʼn pienk kleed van Barbie-manie. Elke dogter (bo die ouderdom van dertien) vergesel haar groepie vriendinne na die teaters om hierdie ikoniese Mattel-speelding in lewende lywe op die groot skerm te sien. Barbie, die gewilde modepop, is die uitvindsel van Ruth Handler van die bekende speelgoedvervaardiger Mattel. Barbie, vernoem na Ruth se dogter Barbara, is op 9 Maart 1959 aan die publiek bekend gestel.

Greta Gerwig, regisseur en skrywer, verleen diepte en eksentrisiteit aan die storie van een van die mees populêre speelgoed wat die wêreld nog gesien het. In die ʼn perfekte pienk wêreld van Mattel kan elke vroulike karakter in Barbie-land enige beroep of karakter aanneem. Haar werk wissel van ʼn dokter tot ʼn president, meermin, ruimtevaarder, prokureur en sakevrou.

Die kompleksiteit van Barbie se bestaan dra by tot die onderdrukkende patriargale konvensies wat vroue in bokse hou, net soos die boks waarin ʼn Barbie-pop verkoop word voordat ʼn dogter haar uithaal en haar eie verbeeldingswêreld begin verken.

Met die klem op elke jong meisie se verbeelding is daar ook die hunkering om uit te staan, voor te loop en ʼn impak te maak. In ʼn artikel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Die Vroue van Leiers, word vertel hoe die vroue van trekleiers hulself gestaal het teen die vyand. Mevroue Nonnie de la Rey en Nelie de Wet het vir maande lank rondgevlug ter beskerming van hul kinders. Hoe sou die dogters hul ma’s ten opsigte van leierskap beleef het? Wat sou deur die gedagtes van hierdie kinders gegaan het? Sou dit die dogters sterk ten opsigte van ʼn leiernalatenskap?

So word daar in elke nasie, volk en geslag leiers gebore. Aspirasies van leierskap word gebou uit die voorbeelde wat deur vorige geslagte gestel word. Voorbeelde word oorgedra van wat goed en reg en opbouend is en ook voorbeelde van wat afbrekend en hartseer is.

Vandag in ons wêreld, ver verwyderd van die pienk perfeksie van Barbie-land, is ʼn generasie van dogters wat binne die kompleksiteit van geslagsrolidentiteit as jong dames hul plek moet volstaan. In dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, se woorde “het leierskap te make met die invloed van ʼn persoon op ʼn groep of individue om hulle te motiveer en inspireer om ʼn gesamentlike doelwit te bereik.” Hierdie vermoë om te motiveer en te inspireer is reeds gedeponeer in die definisie van vrouwees.

In ons samelewing is daar toenemende bewustheid oor die belangrikheid om vroue toe te rus en die bevordering van gelykheid tussen geslagte. Met die oog op Vrouemaand in Augustus skuif die fokus na leierskapsgeleenthede vir dogters. Leierskapprogramme vir dogters bied ʼn platform waar hulle kan leer om hul stemme te laat hoor, hul idees en opinies uit te druk, en ander te inspireer.

Rick Moser skryf ʼn program genaamd “Becoming a Lady” vir dogters in hul graad 7-jaar (min of meer 13 jaar oud) voor. Hierdie vier weke program fokus op die jong dame se voorbereiding op haar pad na volwassenheid. Die kursus word aangebied as ʼn verhoudingsboukursus tussen die dogter en haar ouers en fokus op haar Godgegewe gawes, lewensdoel, aspirasies en unieke vrouwees. Een van die voordele van leierskapprogramme vir dogters is die bevordering van selfvertroue en selfbeeld binne die ontdekking van haar identiteit, haar invloed, die wonder van haar eie skoonheid en haar erflating as fondasiestene vir toekomstige geslagte.

Binne ons gemeenskappe en samelewing is dit van kardinale belang dat ons die nodige ondersteuning en hulpbronne bied om leierskapprogramme vir dogters te bevorder. Deur die skep van ʼn omgewing waarin dogters kan floreer en leierskap kan ontwikkel, bou ons aan ʼn toekoms waarin elkeen se potensiaal ontsluit word, ongeag geslag.

Die aktrise America Ferrera het onlangs in ʼn monoloog die toonbeeld van vrouwees beskryf. Hier is slegs ʼn uittreksel:

“Jy moet lei, maar jy kan nie ander mense se idees onderdruk nie. Jy is veronderstel om daarvan te hou om ʼn ma te wees, maar moenie die hele tyd oor jou kinders praat nie. Jy moet ʼn vrou wees met ʼn loopbaan, maar ook altyd uitkyk vir ander mense. Jy moet altyd uitstaan en altyd dankbaar wees. Jy moet nooit oud word nie, nooit onbeleefd wees nie, nooit opvlieënd wees nie, nooit selfsugtig wees nie, nooit misluk nie, nooit bevrees wees nie en nooit die pas verloor nie. Dit is te moeilik! Dit is te teenstrydig en niemand gee jou ʼn medalje of sê dankie nie!”

Hierdie monoloog bevestig die realiteit van vrouwees binne ʼn wêreld met verdraaide perspektiewe en verwarde geslagsrolle. Die samelewing is dus genoodsaak om haar jong dames te koester en te ontwikkel.

In die woorde van Jess Goldsmith, ontwerper: “Ek glo nie in mislukking nie, en ek glo nie in mededinging nie. Die enigste keer wat jy kan misluk, is wanneer jy ophou, en die enigste persoon waarmee jy mededinging moet oorweeg, is wie jy gister was.”

Binne dit alles is jou unieke vrouwees beskore om uit te staan. Dogter, jong dame, vrou – jy is genoeg!

Charmain Kruger is ʼn passievolle dosent in Sosiale Wetenskappe-onderwys by Akademia