Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia tree as gasheer op vir internasionale filosofiese NAWG-kongres

Gepubliseer op: 10 Augustus 2023

Akademia het vanjaar as gasheer opgetree vir die Nederlands-Afrikaans Wysgerige Genootskap (NAWG)-kongres wat elke anderhalfjaar plaasvind. Die kongres is vanaf 2 tot 4 Augustus 2023 in Centurion aangebied en bygewoon deur verskeie belangrike filosowe vanuit Suid-Afrika en Nederland, sowel as lede van die publiek.

Volgens prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, snoer die NAWG sedert 2005 Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse filosowe saam deur roterende kongresse. Op 5 Augustus het die kongres ook aangesluit by die 25ste herdenking van Lamé Ebersöhn se filosofiekafee. Volgens Duvenage het verskeie van die sprekers by die NAWG-kongres al vantevore by dié filosofiekafee opgetree.

Die oorhoofse tema van die kongres was Kantelpunte. Duvenage noem dat die tema beteken dat ons in ʼn tyd van onsekerheid en verandering lewe. Hy noem voorbeelde soos die koronaviruspandemie die verandering in die hele ekonomiese sisteem en nuwe vorme van bespieding (oftewel surveillance). Hy voeg by dat Ad Verbrugge se tema rakende die gesagskrisis van ons tyd ook ʼn belangrike tema was wat in die kongres aangeraak is. “Dit is vir Akademia belangrik om kennis te neem van hierdie kwessies aangesien ons self in ʼn tyd van kantelpunte leef.”

Die sprekers van die NAWG-kongres het ingesluit:

  • Carel Boshoff, bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel en hoof van die Vryheidstigting
  • Hercules Boshoff van Akademia
  • Jean du Toit van die Noordwes-Universiteit (NWU), Potchefstroom
  • Pieter Duvenage van Akademia
  • Mariana Kruger van die Universiteit Stellenbosch (US)
  • Louise Mabille van die AP Akademie, Pretoria
  • Koos Malan van die Universiteit van Pretoria (UP)
  • Daniël Maritz van die NP van Wyk Louw-sentrum
  • Charl-Pierre Naudé van die Universiteit van die Vrystaat (UV)
  • Bert Olivier van die Universiteit van die Vrystaat (UV)
  • Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad
  • Anton van Niekerk van die Universiteit Stellenbosch (US)
  • Ad Verbrugge, filosoof van Nederland
  • Anné H. Verhoef van die Noordwes-Universiteit (NWU), Potchefstroom
  • Mark Wildschut, ʼn vertaler van Nederland

Volgens Duvenage was daar baie goeie sinergie tussen die bydraes tydens die kongres. “Daar het goeie en kreatiewe gesprekke tydens die kongres ontstaan oor belangrike temas in hierdie tyd van voortdurende verandering,” sluit Duvenage af.

Dr. Hercules Boshoff, Ad Verbrugge, prof. Danie Goosen, Anné Hendrik Verhoef en prof. Pieter Duvenage by die NAWG-kongres.
Ad Verbrugge was een van die sprekers by vanjaar se NAWG-kongres wat deur Akademia gehuisves is.
Mark Wildschut het aanlyn vanaf Nederland ingeskakel om sy aanbieding by die NAWG-kongres te lewer.