Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Ooptoegangsinisiatief plaas filosofiepublikasie binne bereik van wêreldwye leserspubliek

Gepubliseer op: 11 Augustus 2023

Dit is verblydend om te sien dat daar vandag ʼn groot aantal akademiese werke, van hoogstaande gehalte, in Afrikaans verskyn. Anders gestel: dié werke getuig nie net van die seggingskrag van Afrikaans nie, maar soos in weinig ander tale breek dit die wêreld op ʼn onvergelykbare wyse oop. Laasgenoemde is ʼn rede tot hoop én feesviering.

Met die oog op die viering van Afrikaanse Taaldag op 14 Augustus, stel Akademia Uitgewery opnuut met trots die boek Middeleeuse filosofie bekend as deel van ʼn opwindende ooptoegangsinisiatief. Dié werk, uit die pen van prof. Johann Beukes, spesialisnavorser in Middeleeuse filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), bied ʼn omvattende blik op ʼn millennium se ontwikkeling in die Westerse intellektuele en kulturele wêreld.

Die waarde van ooptoegangsbronne

Die waarde van ooptoegangsbronne lê volgens Beukes daarin opgesluit dat vakwetenskaplike publikasies ná afloop van portuurevaluering en eindredigering kosteloos en vinnig aan ʼn gespesialiseerde navorsingsveld voorsien kan word. Dié voordeel lei tot die algehele verbetering van die navorsingstempo binne die betrokke veld. Publikasies van Middeleeuse filosofie se omvang wat in harde kopie uitgegee word, is ook buitengewoon duur. Beukes verduidelik dat hierdie werk, waarin ook ʼn groot aantal kleurafdrukke opgeneem is, danksy ooptoegangsformaat kosteloos aan ʼn wêreldwye leserspubliek voorsien kan word, sonder dat ekonomiese oorwegings die optimale verspreiding van die publikasie verder beperk.

Karien Brits van Akademia Uitgewery meen gegewe die skatkis van inligting wat dié werk verteenwoordig, dit ʼn natuurlike stap was om dit as ʼn oopbron beskikbaar te stel. Sy sê voorts dat sy opgewonde is oor die impak van hierdie ooptoegangsinisiatief en die waarde wat dit vir die toekoms inhou.

Meer oor die publikasie

Middeleeuse filosofie is ʼn omvattende versameling van oor die 1 600 bladsye in twee volumes, en fokus op die lewe en werk van 145 filosowe oor die tydperk vanaf 410 tot 1464. Hierdie denkers – onder wie die bekende Augustinus, Boethius, Abelardus, Aquinas en Ockham, maar ook minder bekende figure, waaronder ʼn aantal vroulike denkers soos Marguerite Porete, Katharina van Siëna en Hildegard von Bingen – se beskouings word vanuit ses nuutverantwoorde periodes in Middeleeuse filosofie hanteer. Die inhoud word gevolglik nie as een aaneenlopende historiese verhaal of tematies-gesentreerde ontleding aangebied nie, maar as ’n reeks van altesaam 145 intellektuele portrette van Middeleeuse denkers, kronologies georden. Hierbenewens word die mees onlangse spesialisnavorsing in Duits, Engels, Frans en Nederlands bygewerk terwyl elke afdeling vergesel word van ʼn bibliografie en kommentaar per eindnotas.

Die werk is nie bloot ʼn akademiese naslaanwerk van formaat nie, maar ook ʼn insiggewende leesboek vir ʼn wyer belangstellende leserspubliek wat in die na-Romeinse kultuurgeskiedenis en Middeleeuse ideëgeskiedenis belangstel. Meer nog: dit is ʼn betekenisvolle toevoeging tot die korpus vakkundige literatuur oor Middeleeuse filosofie.

“Johann Beukes se geduldige monnikewerk oor die Middeleeuse filosofie is wel ook deeglik in gesprek met ons eie tyd. Die helder en soepel taal waarin dit geskryf is, verdien ’n breë-ingeligte leserspubliek in Afrikaans,” sê Pieter Duvenage, dekaan van Akademia se Fakulteit Geesteswetenskappe.

Op sy beurt beskryf Kobus Krüger, emeritusprofessor in Godsdienswetenskap aan Unisa en navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP), die publikasie as “ʼn deeglike oorsig oor en oorspronklike insig in die Middeleeuse denke, in aansluiting by en betekenisvol bydraend tot die internasionale navorsing op hierdie terrein.” Hy voeg verder by dat die publikasie van “onskatbare betekenis vir die Afrikaanse teologie en filosofie, taal en kultuur” is.

Prof. Johann Rossouw, hoof van die Departement Filosofie en Klassieke aan die UV, beskryf die boek as ʼn “wêreldgebeurtenis vir die eietydse filosofie, Middeleeuse filosofienavorsing en die Afrikaanse taal”.

Middeleeuse filosofie is as twee aparte volumes nou in oop toegang beskikbaar by Akademia Uitgewery. Kyk gerus hier na ʼn gesprek tussen Duvenage en Beukes wat tydens die oorspronklike bekendstelling in Augustus 2020 by Akademia gevoer is.

Meer oor die skrywer

Johann Beukes, DLitt et Phil (Filosofie, RAU), PhD (Teologie, UP), is ’n ereprofessor in Middeleeuse filosofie in die Departement Filosofie en Klassieke aan die UV.

Hy is verbonde aan navorsingsentra vir Middeleeuse studies by verskeie Nederlandse universiteite, en lid van onder meer SIEPM (Société Internationale pour l’Étude de la Philosophie Médiévale) en Foucault Cirkel Nederland/België. Beukes is die skrywer van meer as 80 portuurgeëvalueerde artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte, ’n veeltal hoofstukke in akademiese redaksiewerke, asook ’n monografie oor die Franse filosoof Michel Foucault.

Die ATKV-SA Akademieprys is reeds twee maal, in 2020 en 2022, aan hom toegeken. In 2023 is hy ook in Amsterdam bekroon met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se Jacques van der Elstprys.

Prof. Johan Beukes, skrywer van die boek Middeleeuse filosofie.