Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaans en die rol van die GRA: ʼn taalreis vanaf minderwaardigheid tot volwassenheid

Gepubliseer op: 14 Augustus 2023

Geskryf deur prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia

Afrikaanssprekendes het verskeie redes om in Augustusmaand die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875 te vier. Vanweë die invloed wat die GRA uitgeoefen het, het Afrikaans sy eerste tree gegee om uiteindelik ʼn volwasse taal te word – ʼn taal wat op elke terrein van die lewe presteer.

Ek wil hieronder op een besondere rede wys waarom die stigting van die GRA vandeesmaand presies 148 jaar gelede in die Paarl so belangrik was. Dit hou met die ‘politiek van vergelyking’ tussen tale verband.

Taalgemeenskappe vergelyk dikwels hul eie tale met ander tale. So het Europese tale hulself in die sewentiende en agtiende eeue met Frans vergelyk; in die negentiende eeu het dieselfde tale begin om hulself met Engels te vergelyk.

In sy vroeë ontwikkeling het Afrikaanssprekendes dikwels Afrikaans met Hollands vergelyk. Later het Engels ons taal van vergelyking geword. Vandag is Engels steeds die vergelykingstaal – nie net vir Afrikaans nie, maar ook vir alle tale in Suid-Afrika.

ʼn Belangrike vraag wat taalgemeenskappe vra is hoe die status van hul eie taal met die van ander tale vergelyk. Het my eie taal meer status in onder meer die politiek, die ekonomie en die letterkunde as ander tale?

Genoemde vergelykings is nie noodwendig onskuldig van aard nie. Dikwels speel ʼn politieke drama homself in die agtergrond daarvan af. In vele opsigte hang die toekoms van tale daarvan af. Waarom?

Die antwoord hou met die probleem van taalminderwaardigheid verband. Tale wat hulself met ʼn sogenaamde taal van ʼn hoër status vergelyk, ervaar hulself dikwels as minderwaardig. Wanneer laasgenoemde gebeur, kan hulle hulself daarvan weerhou om op hul eie bene te staan en tot volwasse tale te ontwikkel. Uit minderwaardigheid keer hulle eerder hul rug op hulself en omhels die taal wat in hul oë deur ʼn hoë status gekenmerk word.

ʼn Voorbeeld hiervan die Afrikatale. Tydens die afgelope sowat ʼn eeu en ʼn half het Afrikatale hulself as minderwaardig ten opsigte van Europese tale soos Frans, Engels en Portugees ervaar. Histories gesproke het dit daartoe gelei dat Afrikatale kwalik tot op die hoogste vlakke – aan universiteite, in die kultuurlewe en in die politiek – ontwikkel is. Ter wille van status het veral die politieke elites in Afrika verkies om eerder die Europese tale na te boots en te gebruik.

Tale is egter nie uitgelewer aan die magtige invloed van die sogenaamde status-tale nie. Tale wat daarin slaag om hul eie krag, skoonheid en waarde te ontdek, kan die slaggat van minderwaardigheid ontsnap.

Gelukkig is daar in Afrika ʼn groep intellektuele wat reeds vir ʼn geruime tyd op die probleme van taalminderwaardigheid wys. Tegelyk teken hulle ʼn betekenisvolle apologie aan vir die krag en skoonheid van hul eie tale. Een so ʼn denker is Ngũgĩ wa Thiongʼo, ʼn skrywer en akademikus van Kenia.

Bogenoemde bring ons by die uitsonderlike plek wat Afrikaans in die geskiedenis van taalvergelyking beklee. Vandag kan ons kwalik aan die ontwikkeling van Afrikaans tot volwassenheid (tot op die hoogste vlakke by wyse van die standaardisering van Afrikaans) dink sonder die voorbeeld en rol van die GRA onder leiding van ds. SJ du Toit en sy bondgenote.

Teen dié agtergrond van bogenoemde klem op die kwessie van taalvergelyking en -minderwaardigheid het ons egter ʼn spesifieke rede om die destydse geboorte van die GRA te vier. Een van die heel belangrikste vrae waarop die GRA destyds ʼn antwoord was, het verband gehou met die vergelyking tussen Afrikaans en Hollands. Talle Afrikaanssprekendes het toe geoordeel dat Afrikaans in vergelyking met Hollands ʼn minderwaardige taal is; dat Afrikaans daarom nie in die kerk, onderwys en politiek gebruik kan word nie, en dat dit slegs in die private wêreld (in die kombuis en op die werf) tuishoort.

In antwoord hierop het die GRA met oortuiging aangevoer dat Afrikaans oor die potensiaal beskik om tot op dieselfde vlakke as die hoogs ontwikkelde (en geleerde) Hollands te kan ontwikkel. Die oproep van die GRA aan die Afrikaanssprekende wêreld was daarom ook duidelik: ‘Hou op om jou deur jou vergelyking met Hollands te verlam, skud jou minderwaardigheid af, staan op jou eie voete, kyk die wêreld as gelyke vierkantig in die oë, en ontwikkel jou taal tot op die hoogste denkbare vlakke.’

In die dekades wat op die stigting van die GRA gevolg het, het Afrikaans inderdaad daarin geslaag om sy minderwaardigheidsgevoel ten opsigte van Hollands af te skud. As gevolg daarvan het Afrikaans soos kwalik geen ander taal in die twintigste eeu nie op uitsonderlike wyses gepresteer – ook aan die universiteitswese. Laasgenoemde is dan ook waar vir Akademia, ʼn trots-Afrikaanse onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Akademia bevorder Afrikaans as akademiese taal deur sowel opleiding as opvoeding op ʼn uitstaande wyse in Afrikaans aan te bied.

In die globale wêreld van vandag speel die vergelyking tussen tale steeds ʼn groot rol. Kleiner tale swig onder hul eie minderwaardigheidsgevoel jeens ʼn taal soos Engels. Vanweë die voorbeeld van die GRA weet ons egter dat die ontdekking van kleiner tale se eie waardigheid, krag en status nie net moontlik is nie, maar dat dit ook noodsaaklik is om hul plek as gelyke taalvennote met selfvertroue tussen die ander tale in te neem.

Prof. Danie Goosen meen dat Afrikaans daarin geslaag het om sy minderwaardigheidsgevoel af te skud en gevolglik op uitsonderlike wyses te presteer, ook in die universiteitswese.