Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Afrikaans is nie net lippetaal nie – voeg die boek by die woord!

Gepubliseer op: 14 Augustus 2023

Geskryf deur Karien Brits van die Akademia Uitgewery

Afrikaansdag word jaarliks op 14 Augustus gevier en dit is terselfdertyd die Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag, ʼn inisiatief deur die Vriende van Afrikaans (VVA). Dit is met goeie rede dat Afrikaanssprekendes op hierdie dag aangemoedig word om Afrikaanse boeke te koop. Die geskrewe woord is die lewensaar van ʼn lewenskragtige taal. Hoe gesonder die boekebedryf van ʼn taal hoe gesonder is ʼn taal.

Die Akademia Uitgewery wil ook deur middel van akademiese publikasies Afrikaans laat gedy. Daar is ʼn aantal boeke wat die afgelope paar jaar die lig gesien het en waarop kopers op 14 Augustus 10%-afslag kan kry. Gaan maak gerus ʼn draai op Die Winkel, Akademia se aanlyn winkel, en gebruik die koeponkode “Afrikaanse boekdag” om 10%-afslag op uitgesoekte boeke te kry.

In Plato se dialoogtrilogie in die laaste dae van Sokrates, soos vertaal deur dr. Piet Boshoff, praat die ou Griekse wysgere van 400 v.C. die mooiste Afrikaans. Die dialoë begin met Eutuphro, ʼn gesprek oor vroomheid tussen Eutuphro en Sokrates. Dié gesprek word opgevolg met Die verdediging van Sokrates waarin dié filosoof homself verdedig in die saak wat teen hom ingebring is, naamlik dat hy die jeug van Athene verlei en nie die gode vereer nie. In die laaste dialoog, Krito, word die leser ʼn toeskouer van Sokrates en sy vriend Krito se gesprek in ʼn tronksel in Athene, waar Sokrates op die voltrekking van sy doodsvonnis wag.

Ter wille van wille van oorlewing, ideologie en geld, geskryf deur Johannes D. Froneman, is ʼn pragtige koffietafelboek van 340 bladsye wat handel oor die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek. Dit is nie ʼn omvattende geskiedenis van die massamedia nie, maar dit vertel wel die boeiende verhaal van hoe die Afrikaanse joernalistiek gehelp het om ʼn taal en ʼn betekenisvolle leefwêreld te skep.

Prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, word beskou as een van dié vooraanstaande lewende Afrikaanse filosofiese denkers. In Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen word daar hulde gebring aan dié hedendaagse denkleier, en word die ryke invloed van Goosen se intellektuele arbeid op prominente plaaslike akademici en gemeenskapsleiers geïllustreer.

Daar is nie net ernstige akademiese publikasies nie, maar daar is ook ʼn aktiwiteitsboek vir die jongspan. Fontieland – ʼn Pret-aktiwiteitsboek vir kinders is geskik vir leerders van graad 4 tot 7. Hierin ontdek kinders die avontuur van Fontie-wees saam met Hennie en Stella terwyl prettige aktiwiteite soos ʼn blokkiesraaisel, vind die verskille, soek die Fonties en nog vele meer voltooi word.

Afrikaans is nie net lippetaal nie, maar word lewenskragtiger met elke boek wat geskryf en gekoop word. Voeg vandag die daad by die woord en koop ʼn Afrikaans boek.

Karien Brits van die Akademia Uitgewery met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.