Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia hou inligtingsessie oor nauurse afstandstudie vir 2024

Gepubliseer op: 16 Augustus 2023

Akademia bied vir jou die geleentheid om ʼn gehalte kwalifikasie in Afrikaans te voltooi, terwyl jy bedags werk of ander drome nastreef. Die nauurse afstandsmodel en die verskeie nauurse studierigtings word tydens ʼn aanlyn inligtingsessie op 7 September bespreek wat vanaf 18:00 tot 19:00 gehou word.

Het jy geweet dat die nauurse afstandsmodel ʼn gerieflike rooster bied vir enige persoon wat graag in 2024 wil werk én studeer? Jy het boonop die keuse om vir klasbywoning by ʼn nabygeleë sentrum aan te sluit of om bloot via e-leer vanaf enige plek in die wêreld te studeer.

Indien jy hunker na ʼn aktiewe studentelewe, moenie bekommerd wees nie! Nauurse afstandstudente word in Akademia se studentelewe opgeneem by wyse van deelname aan verskeie aktiwiteite. Daar is byvoorbeeld verskillende studenteklubs, soos die fotografieklub, boeke-en-boneklub en stapklub, om net ʼn paar te noem.

Die insiggewende inligtingsessie se program gee nuttige inligting oor die instelling, die onderrigleermodel en die beskikbare studierigtings asook nuttige raad oor aansoeke en toelatingsvereistes om onsekerhede uit die weg te ruim.

Lizán Maree, bestuurder van Studentewerwing nooi alle belangstellendes uit om tydens dié sessie enige vrae wat hulle mag hê of aspekte waaroor hulle onseker mag wees te opper en só gemoedsrus oor hul toekomstige studies te verkry. “Ons is slaggereed om jou vrae te antwoord tydens die inligtingsessie, en sien daarna uit om met jou, ʼn toekomstige Fontie, kennis te maak,” sê Maree.

Maree noem verder dat die sessie opgeneem word, so in gevalle waar beurtkrag bywoning mag hinder, sal geregistreerde belangstellendes steeds toegang tot dié opname hê. Die aanlyn sessie is ook ideaal vir gesinne, omdat die hele gesin kan inskakel met een maklike registrasie.

Waarvoor wag jy? Maak seker dat jy hierdie belangrike inligtingsessie bywoon en jou nauurse studieopsies verken. Bespreek jou aanlyn sitplek hier. Studieaansoeke vir 2024 is reeds oop. Akademia, jou loopbaanreis begin hier!

Studente wat op Akademia se nauurse afstandsmodel studeer, kan inskakel by ʼn sentrum of via e-leer klas bywoon vanaf enige plek ter wêreld.