Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus: “Droom gróót, want drome word waar”

Gepubliseer op: 21 Augustus 2023

“ʼn Dogtertjie met ʼn droom word ʼn vrou met ʼn visie,” aldus Akademia-alumnus, Marilie Louw.

Vir dié alumnus, wat in 2022 die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie by wyse van die nauurse afstandsmodel voltooi het, was ʼn kleintyddroom van besigheidsukses die motivering wat sy nodig gehad het om skouer aan die wiel te sit. Vandag staan sy haar plek in die besigheidswêreld vol as projekbestuurder én menslikehulpbronbestuurder. Eersgenoemde rol is in die gewilde Maak my ʼn Miljoenêr: Entrepreneur van die Jaar-kompetisie wat op VIA-tv verskyn, en die tweede by Imbokodo – ʼn ingenieursfirma bestaande uit ʼn netwerk van 32 aktiewe professionele ingenieurs.

“ʼn Droom, maak nie saak hoe klein of groot nie, gee jou daardie ekstra motivering om jou verantwoordelikhede én uitdagings aan te pak,” meen Louw en voeg by dat elke smakie van sukses haar opgewonde maak om nóg groter te droom. Sy vertel dat haar ouers hierdie ingesteldheid by haar gekweek het, en dat sy by hulle geleer het dat sukses nie ʼn vervaldatum het nie.

Vandat Louw kan onthou wou sy deel wees van ʼn dinamiese werksomgewing binne die besigheidsektor, en het ʼn bestuursrol vir haar ʼn magiese bekoring ingehou. Gedrewe deur dié vooruitsig het sy vir BCom (Ondernemingsbestuur) ingeskryf en die res is, soos hulle sê, geskiedenis. Sy is dit eens dat hierdie kwalifikasie haar voorberei het met die nodige kundigheid om vandag haar rol as projekbestuurder vol te staan, terwyl die opsie om nauurs te kon studeer haar gehelp het om die nodige ervaring op te bou terwyl sy studeer het.

Entrepreneurskap is iets wat Louw na aan die hart lê, nie net vanweë haar betrokkenheid by die Millionaire at 22-inisiatief van haar verloofde, Albert van Wyk nie, maar ook omdat sy op ʼn daaglikse basis sien en ervaar hoe entrepreneurs sukses behaal. Dié sukses gaan egter sonder uitsondering gepaard met harde werk, slim besigheidstrategieë en doelgerigtheid.

“Ek is baie opgewonde oor die toekoms, want danksy entrepreneurskap is daar ʼn besliste ommeswaai besig om plaas te vind ten opsigte van finansiële vryheid en die manier waarop veral die jeug na die wêreld van werk kyk,” verduidelik Louw. Sy vertel dat mense in die verlede geglo het dat hulle moet studeer om ʼn werk te kry en om sodoende ʼn lewe vir hulself te maak. Vandag word die teendeel bewys, naamlik dat jy deur studie en selfontwikkeling jouself só kan posisioneer om aan die stuur van jou eie welvaartskepping te staan.

As dit kom by die vaardigheidsmondering van ʼn entrepreneur, meen Louw dat ʼn leergierige gees, ʼn positiewe ingesteldheid, aanpasbaarheid en onwrikbare deursettingsvermoë van kardinale belang is. “Ek sal altyd dankbaar wees teenoor Akademia vir die leiding en ontwikkeling wat ek as student ontvang het. Vandag kan ek hierdie vaardighede aan ander oordra en vir seker wéét dat ek, soos my alma mater, ʼn bydrae lewer tot die ontwikkeling van beide die denke en die hart,” sê Louw.

2024-studieaansoeke om BCom (Ondernemingsbestuur) voltyds op die Centurion-kampus óf nauurs via afstandsonderrig te studeer is nou oop.

Marilie Louw staan haar plek in die besigheidswêreld met selfvertroue vol en meen dat drome en gehalte kwalifikasie as ʼn wegspringplek vir die toekoms moet dien.