Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Eerste openbare lesing vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum ʼn sukses

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia

Ek het vir professor Reitze Rodseth saam met sy vrou, Miranda, en twee seuns, Joshua en Nathan in 2017 in Pietermaritzburg ontmoet toe ek en twee vriende vir so paar dae by sy gesin aan huis was. Naas sy reeds indrukwekkende akademiese CV was hy toe boonop nog deeltyds besig met ʼn M-graad in filosofie. Sedert 2017 het hy, veral vanuit die filosofie en mediese wetenskappe, homself diep in die gesprekke en vrae rakende geslagsidentiteit ingelees.

Volgens hom is die area van geslagsidentiteit nie iets wat hy self sou kies as ʼn navorsingsveld nie, maar dit het vir hom, gegewe die skielike relevansie daarvan, as ʼn onvermydelike navorsingsveld na vore getree. Vandag reis hy oor die land om kerke, skole, ouers en universiteite op hierdie tema toe te spreek en word hy beskou as een van die voorlopers wat navorsing in hierdie veld betref.

Op 9 Mei was Akademia bevoorreg om vir prof. Rodseth te ontvang vir ʼn openbare lesing getiteld “Geslagsidentiteit: ʼn Metafisiese en wetenskaplike benadering”. Heelwat van Akademia se personeel en studente, saam met mense van die breër publiek, het hierdie lesing bygewoon en dit geweldig waardevol gevind. Daar was ook genoeg tyd vir die gehoor om vir hom vrae te vra om sodoende verdere gesprek aan te moedig. Selfs ná die amptelike vraag-en-antwoord-sessie het studente nog in ʼn ry gaan staan om vir hom vrae te vra.

Prof. Rodseth het deur die lesing vir die gehoor heelwat inligting gegee wat hulle definitief sal help om die moeilike en sensitiewe gesprekke rondom geslagsidentiteit te navigeer. Volgens hom is die vraag na identiteit in hierdie konteks, wat dikwels geformuleer word as “wie is ek as ʼn man of ʼn vrou”, onlosmaaklik verbind aan ʼn dieperliggende vraag: “wat is ek as ʼn mens”. ʼn Mens is nie alleenlik ʼn siel of alleenlik ʼn liggaam nie, maar ʼn verbinding van siel en liggaam wat, Christelik gesproke, ʼn beelddraer van God is. Dit is die onvermydelike wegspringplek vir baie van hierdie gesprekke.

Verder het hy vanuit die wetenskap skerp onderskeid getref tussen die kategorieë van “disorders of sex development”, “persistent gender dysphoria”, “transient gender dysphoria”, en “rapid onset gender dysphoria.” Dit is, volgens hom, belangrik om te weet dat gevalle binne hierdie verskillende kategorieë nie verwar moet word in gesprekke nie. Ter afsluiting het prof. Reitze, ook eie aan Akademia se roeping, die gehoor heengewys na die werklikheid toe. Dit is uiteindelik onregverdig van enigiemand om van die werklikheid te verwag om by ons eie emosies en gevoelens aan te pas. Ons roeping is eerder om die metafisika, ook wat geslagsidentiteit betref, te ontdek en te respekteer soos wat God dit in die werklikheid ingeweef het.

Dit is belangrik om te noem dat dit ook die eerste openbare lesing was wat vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum gereël is. Dié sentrum word eersdaags amptelik bekendgestel. Gegewe dat dié sentrum Akademia se denkforum is, vorm die reël van openbare lesings oor verskeie belangrike en relevante temas ʼn groot deel van die NP van Wyk Louw-sentrum se verantwoordelikheid. Soos wat Akademia die bronne en kultuur van die klassieke Christelike wêreld en universiteitswese herwin, is gereelde openbare lesings en dialoogvoering by wyse van die oop gesprek onlosmaaklik deel hiervan.

Dit is Akademia se manier om beide sy eie personeel en studente, asook die breër publiek te bedien en deel te maak “van die denkende gees wat deel van die oop gesprek wil wees”.[1] Uiteindelik bied openbare lesings ʼn baie mooi geleentheid vir enige iemand “binne” en “buite” Akademia om te leer, uitgedaag te word, verryk te word, en bowenal deel te neem aan die soeke na en geleidelike ontdekking van, die ware, die goeie en die skone.

Wees op die uitkyk vir nog vele openbare lesings en debatte vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum.

[1] Dit is ʼn aanhaling uit Akademia se universiteitslied uit.

Prof. Reitze Rodseth het op 9 Mei ʼn openbare lesing aangebied by Akademia se Centurion-kampus.
Dr. Daniël Maritz is die bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.