Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Tuisskoolleerders vind aanklank by Akademia se nauurse afstandsmodel

Bianca Pretorius is ʼn eerstejaarstudent by Akademia wat besig is om haar LLB-kwalifikasie op die nauurse afstandsmodel te voltooi. Sy werk ook bedags voltyds as ʼn persoonlike assistent en ontvangsdame by ʼn gevestigde regsfirma in Centurion.

Pretorius was vanaf graad 10 ʼn tuisskoolleerder en sy noem dat dié studiemodel vir haar baie voordele inhou. Net soos haar tuisskoolloopbaan bied die model haar die geleentheid om teen haar eie pas en op haar eie tyd op haar akademiese doelwitte te fokus en dit te verwesenlik.

Die nauurse model bied ʼn gerieflike rooster aan studente, en Pretorius meen dat die keuse om vir klasbywoning by ʼn nabygeleë sentrum aan te sluit of om bloot via die e-leerstelsel in te skakel haar tydsbeplanningsproses vergemaklik.

Volgens Pretorius was die aanpassing van tuisskool na studentewees by Akademia naatloos en sonder moeite danksy die opsie om haar studies nauurs aan te pak. “Aangesien ek reeds gewoond was aan selfstudie en die dissipline wat dit vereis, voel die nauurse afstandstudie vir my soos tweede natuur. Die kersie op die koek is egter die geleentheid om my kwalifikasie in my moedertaal, Afrikaans, te kan verwerf.”

Pretorius sê sy geniet dit baie om ʼn Akademia-student te wees. “Hier word ek terselfdertyd toegelaat om myself prakties in die werkplek te vestig en ook as ʼn afstandstudent ten alle tye gehalte onderrig te ontvang.”

Sy voeg by dat haar kontaksessies deurentyd van deeglike voorbereiding, goeie beplanning en die kundigheid van haar dosente getuig. “My ervaring as ʼn nauurse student is werklik ʼn plesier. Alles van die aansoekproses tot die inskakel by die virtuele leerruimtes verloop sonder moeite. Ek kan met ʼn geruste hart Akademia vir ander tuisskoolleerders aanbeveel as ʼn wen-wen-studieoplossing!”

Pretorius droom daarvan om in die toekoms aan die stuur van haar eie regspraktyk te staan en sy is opgewonde oor die vooruitsig om as regspraktisyn ʼn daadwerklike bydrae in die wêreld te lewer. Akademia hou haar toekomsdrome met afwagting dop.

Wil jy in 2024, soos Pretorius, werk én studeer? Klik gerus hier om meer uit te vind.

Bianca Pretorius is ʼn voormalige tuisskoolleerder en nou ʼn eerstejaarstudent by Akademia waar sy besig is om die LLB-kwalifikasie nauurs te voltooi.