Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia vier Afrikaansdag as trotse Afrikaanse hoëronderwysinstelling

Afrikaans is op 8 Mei 1925 as amptelike taal van Suid-Afrika erken en dit word sedertdien jaarliks as Afrikaansdag gevier. Vandag, 98 jaar later, staan hierdie taal steeds volwaardig sy plek binne die hutspot van ampstale vol. Akademia, as ʼn trotse privaat hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe, vier hierdie spesiale dag saam met alle Afrikaanssprekendes vir wie die liefde vir die taal in elke faset van hul lewens verweef is.

Daar word sedert 2012 trots in Afrikaans by Akademia klas aangebied. In die lig daarvan, hiermee elf wyses waarop die instelling bydra en help bou aan ʼn volhoubare Afrikaans:

  1. Geleenthede te skep vir individue, ongeag waar in die wêreld hul hulself mag bevind, om op ʼn tersiêre vlak onderrig in Afrikaans te kan ontvang.
  2. Die lewenskragtigheid van moedertaalonderrig uit te leef en te vier. Die aflewering van ʼn rekordgetal van 384 kwalifikasies, oor elf programme, tydens die mees onlangse kwalifikasieplegtigheid is ʼn sprekende voorbeeld hiervan.
  3. ʼn Dinamiese aanbod van ʼn verskeidenheid hoëronderwyskwalifikasies by wyse van vyf fakulteite, naamlik: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Natuurwetenskappe, Regsgeleerdheid, Geesteswetenskappe en Opvoedkunde bied aan studente die vryheid van keuse.
  4. Die daarstelling van ʼn vriendelike, verstaanbare en gehalte onderrigsomgewing waarbinne Afrikaans gehuldig word as ʼn ontwikkelde en moderne universitêre taal in beide sy voltydse kampusmodel asook die nauurse afstandsmodel.
  5. ʼn Passievolle verbintenis om die taal op die hoogste vlak te gebruik en daarom gedy die taal in sentrale universitêre funksies soos navorsing en dosering.
  6. Aktiewe deelname aan die vestiging en verdere ontwikkeling van die taal as ʼn lewendige akademiese en wetenskapstaal ten einde volhoubaarheid te help verseker.
  7. ʼn Bruisende studentelewe verleen stukrag by tot die versterking en vernuwing van Afrikaans as ʼn sosialiseringstaal.
  8. Skryfnet, ʼn gesamentlike projek tussen Akademia en Maroela Media, bied aan Afrikaanse skrywers, professionele persone en skoolleerders die geleentheid om hul skryftalent te slyp deur kort- en langer kursusse aanlyn of via kontakwerkswinkels aan te bied.
  9. As onafhanklike uitgewer van hoofsaaklik akademiese publikasies, streef Akademia Uitgewery deurentyd daarna om Afrikaans as kulturele en navorsingstaal verder uit te bou.
  10. Die aanbied van praktykgerigte kortkursusse via die kortkursusplatform Akademia et al.
  11. ʼn Deurlopende belegging in die voortbestaan van Afrikaans kry onder meer gestalte in aktiwiteite soos die aankoop van woorde in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Die instelling het reeds nege woorde aangekoop, waaronder: universiteit, dekaan, alumni, pionierswerk, studentelewe, koshuis, kortkursus, professor en Fontie.

Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke as die hart van studente gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms. Afrikaans is die spreekwoordelike goue draad wat die denke en hart van Akademia aan mekaar verbind. Die instelling wens elke Afrikaanssprekende ʼn gelukkige Afrikaansdag toe.

Akademia en sy studente vier vanjaar met trots Afrikaansdag.