Search
Close this search box.

Geldwassery en die gryslys – Implikasies vir Suid-Afrika

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia

Suid-Afrika het ʼn gesofistikeerde finansiële stelsel – van die beste ter wêreld. Ten spyte daarvan dat die Reserwebank finansiële instellings onder streng toesighouding plaas, loop instellings steeds die gevaar om deur geldwasserybedrywighede misbruik te word. Derhalwe het die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF), wat toesig hou oor geldwassery en finansiering van terrorisme, Suid-Afrika in Februarie 2023 op die internasionale gryslys geplaas. Waarom?

Dit is alombekend dat misdadigers daarvan hou om gesofistikeerde finansiële stelsels te gebruik vir hul geldwassery, soos ook te sien kon word in die onlangse verslag oor die Goudmafia wat deur die televisieprogram Al Jazeera gebeeldsaai is. Ons het almal met skok verneem van die ondersoek na staatskaping wat die Zondo-kommissie bestuur het. Steeds word daar nie genoeg gedoen om internasionale finansiële misdadigers op te spoor en te vervolg nie. Die ondersoeke word wel gedoen, maar sodra dit by ʼn punt van vervolging kom, is daar groot gebreke. Die gevolg is dat talle sake net halfhartig ondersoek word. As voorbeeld is daar die Phala Phala-sage van ons eie president en ons het ook verneem van die Gupta-broers wat nie vanaf Dubai uitgelewer word nie weens gebrekkige dokumentasie, vervalsing en ander gebreke.

Ongelukkig word Suid-Afrika nou as ʼn hoërisikoland vir beleggers beskou. Voorgestelde kriteria van FATF vir finansiële instellings sluit in die behoorlike ondersoek van kliënte (die sogenaamde ken-jou-kliënt-beginsel). Daarvolgens behoort ʼn risikogebaseerde proses gevolg te word alvorens krediet en veral toegang tot buitelandse finansiële instrumente goedgekeur word. Addisionele dokumentasie en bewyse sal in die toekoms van kliënte verwag word en nog meer wetgewing in hierdie verband is op die punt om goedgekeur te word.

Wat is die gryslys?

Die FATF-gryslys verwys na die praktyk om lande te identifiseer wat tekortkominge het met voorkoming van geldwassery en die bestryding van die finansiering van terrorisme (Anti-Money Laundering / Combating the Financing of Terrorism – AML/CFT).

Suid-Afrika het swak gevaar in die 2021-evaluering en moes betekenisvolle verbeterings aanbring. Alhoewel daar goeie vordering was, het dit nie FATF tevrede gestel nie, en is daar nou agt addisionele aanbevelings wat hanteer moet word. Oor die algemeen neem dit ʼn land ongeveer drie jaar om van die gryslys afgehaal te word. In die lig van die swak ekonomiese omstandighede waarin Suid-Afrika hom tans bevind, kan ons dit nouliks bekostig.

Wat is geldwassery?

Geldwassery verwys na misdadigers wat poog om die oorsprong van geld te versteek wat onwettig verkry is. Die term het ontstaan toe Al Capone, ʼn berugte mafiabaas in Amerika, ʼn reeks wasserye gebruik het om die oorsprong van sy geld te versteek. Die idee is om die oorspronklike geld so ver as moontlik van die misdaad te verwyder om vervolging vry te spring. Die idee is dus dat die geld dan “skoon” is en nie aan die betrokke misdaad gekoppel kan word nie. Misdadigers geniet nou hul lewe ten koste van die ekonomie en sosiale welstand van die land.

Gevolge vir Suid-Afrika

Ongelukkig is die gryslys nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie. Dit gaan belegger- en sakevertroue knel – iets wat ons beswaarlik kan bekostig. Internasionale fondsbestuurders sal hul investering in Suid-Afrika hersien en finansiële instellings sal nou ʼn hoër risikopremie moet betaal ten einde beleggings te lok. Dan sal ʼn sekere kategorie beleggers afgeskrik word deur die addisionele dokumentasie wat fondsbestuurders van kliënte sal vereis en ander sal bloot in meer veilige bestendige beleggings belê. Alhoewel Suid-Afrika alreeds sub-beleggerstatus het, sal internasionale graderingsagenskappe ons heel waarskynlik verder afgradeer.

Die meeste internasionale finansiële instellings, pensioenfondse en beleggings se kriteria impliseer dat lande wat op die gryslys is nie gunstig bejeën word nie. Omdat Suid-Afrikaanse beleggings nou hoërisiko-beleggingsstatus het, mag hierdie instellings nie in riskante lande belê nie en sal beleggings in Suid-Afrika dus dienooreenkomstig verminder. Daarbenewens kan reguleerders in ontwikkelde lande soos Amerika, die Europese Unie en Brittanje beperkings plaas op transaksies met Suid-Afrikaanse instansies wat internasionale kapitaalvloei en investering verder sal verminder. Vanaf Suid-Afrika sal instansies dit ook nou baie moeilik vind om fondse in die buiteland te verkry en sal hul ook ʼn baie hoë risikopremie moet betaal indien hul wel beleggings verkry. Die verminderde kapitaalvloei het natuurlik ook ʼn invloed op die waarde van die rand en ons kan verwag dat die rand onder druk sal verkeer.

Volgens ʼn verslag van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal daar oor die lang termyn ʼn aansienlike vermindering in kapitaalvloei plaasvind. Daarvolgens ondervind lande wat op die gryslys geplaas word, ʼn netto kapitaaluitvloei van 7,6% van die BBP wat Suid-Afrika veral op hierdie stadium glad nie kan bekostig nie. Analiste verwag egter nie dat dit so drasties vir Suid-Afrika sal wees nie. Suid-Afrikaanse grondstowwe bly gesog (veral die edelmetale) en dit gee hoop omdat daar ʼn groter internasionale vraag na edelmetale is gedurende tye van groot onsekerheid soos wat ons tans beleef met die oorloë en gerugte van oorloë.

Suid-Afrika se finansiële stelsel moet soos goud opgepas word en moet met groot sorg bestuur word. Dit is inderwaarheid die toegang tot nie net Suid-Afrika nie, maar ook Afrika, aangesien baie van ons buurlande tot ʼn groot mate afhanklik is van Suid-Afrika om finansiële vloei te fasiliteer.

Indien jy wil sin maak van rentekoerse en die nasionale begroting, klik gerus hier vir meer oor die Ekonomiese en fiskale beleid-kortkursus van Akademia et al. Hierdie kortkursus bied aan individue en voornemende sakelui ʼn oorsig oor ekonomiese beleid in Suid-Afrika. Die kursus bied die kursusganger die geleentheid om die ekonomiese omgewing te verken wat ʼn impak op sakebedrywighede het en elkeen se begroting beïnvloed.

Dr. Sandra Adendorff is ʼn dosent in Ekonomie en Internasionale Handel by Akademia.