Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-boekrakke kreun onder ryke literêre skenking

Die opbou en uitbreiding van Akademia se mediasentrum – en meer nog die sentrum se Africana-versameling – het onlangs ʼn groot hupstoot gekry ná ʼn uitsonderlike skenking deur die bekende Afrikaanstaalkenner en -liefhebber, dr. Natie van Vuuren.

Dié skenking, wat uit meer as 2 000 Afrikaanse literêre werke bestaan, vervat die room van Afrikaanse skrywers en van die titels dateer so ver terug soos 1867. Volgens Lianda Coetzer, bibliotekaris van die Akademia-mediasentrum, is van die kleinode wat in die versameling ingesluit is ʼn oorspronklike gedig in die handskrif van Arnoldus Pannevis, een van die vaders van Afrikaans, asook ʼn eksemplaar van Raka met NP van Wyk Louw se handtekening daarby. Baie van die ander werke is eerste uitgawes.

“As ʼn trots Afrikaanse hoëronderwysinstelling is dit vir die mediasentrum belangrik om waardevolle Afrikaanse publikasies in ontvangs te neem en te bewaar vir nie net toekomstige navorsing nie, maar ook om studente bloot te stel aan die ryk erfenis van Afrikaanse literatuur,” sê Coetzer. Sy voeg by dat die lees van literatuur geskryf deur die vaders van Afrikaans sterk aangemoedig word binne Akademia se onderskeie leeskringe.

Die versameling kan by die mediasentrum op die Centurion-kampus bestudeer word deur Akademia-studente en -personeel, en sal op meriete aan navorsers uitgeleen word.

Meer oor dr. Natie van Vuuren

Dr. Natie van Vuuren (89) is ʼn Karoo-klong met ʼn hartklop vir Afrikaans. Hy behaal ʼn BA-graad met Afrikaans en geskiedenis as hoofvakke by die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en begin sy gevierde loopbaan as ʼn Afrikaansonderwyser in die destydse Potgietersrus, voordat hy ʼn betrekking by Potchefstroom Gimnasium aanvaar.

Later van tyd aanvaar hy ʼn pos as Afrikaansdosent aan die Potchefstroomse Onderwyskollege en vir twee dekades lank werk hy moeiteloos en passievol daaraan om ʼn liefde vir die taal by jong onderwysstudente te kweek. Gedurende die laaste nege jaar voor sy aftrede was hy die hoof van die destydse Wes-Transvaalse Sentrum vir Begaafde Leerlinge.

Akademia betuig hiermee sy hartlike dank aan dr. Van Vuuren vir die skenking en sien uit om hierdie pragversameling beskikbaar te stel vir navorsing en die verryking van ons studente se literêre kennis.

Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia se mediasentrum, by van die 237 bokse waarin die skenking na Akademia in Centurion versend is.
Dr. Natie van Vuuren het oor die jare noukeurig rekord gehou van die boeke in sy versameling. Hierdie katalogus vorm deel van sy skenking aan Akademia.
ʼn Afdruk van een van Gregoire Boonzaaier se linosnee getiteld ‘Winterboom’, word met toestemming van die kunstenaar as embleem vir dr. Natie van Vuuren se boekery gebruik.