Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die impak van kunsmatige intelligensie op die onderwys

Geskryf deur DJ Cloete, dosent: Afrikaans, Afrikaansonderwys en Afrikaans as Taal van Onderrig en Leer by Akademia

Kunsmatige intelligensie (KI) het reeds ʼn groot verskeidenheid industrieë getransformeer en die onderwys is geen uitsondering nie. Met die vermoë om groot hoeveelhede data te ontleed en leerervarings meer persoonlik te maak, het KI die potensiaal om die manier waarop ons onderrig radikaal te verander, so ook die manier waarop ons leer. Soos enige nuwe tegnologie laat die gebruik van KI in die onderwys egter vrae en kommer ontstaan oor die impak daarvan op leerders, onderwysers en die onderwysstelsel as ʼn geheel.

Om die potensiaal van KI in die onderwys te verstaan, wil ek graag die kompas as ʼn metafoor gebruik – ʼn kompas wat leerders op hul leerreis help om by hulle eindbestemming uit te kom. Net soos ʼn kompas ons help om te navigeer deur ʼn onbekende terrein, kan KI leerders help om onbekende inligting te verwerk en so die vaardighede ontwikkel wat nodig is om te floreer binne ʼn bepaalde veld. Voorts kan KI leerders help om hul sterk- en swakpunte te identifiseer en sodoende hul werkswyse aan te pas om eindelik leer te bevorder.

KI kan ook rigtinggewend wees vir ʼn onderwyser deur byvoorbeeld data wat ingesamel is te ontleed, patrone te identifiseer en terugvoer te voorsien wat pasgemaak is vir elke leerder.

Die wanfunksionering van ʼn kompas kan egter veroorsaak dat die gebruiker op ʼn dwaalspoor gelei word, net so kan KI ook leerders en onderwysers op ʼn dwaalspoor neem. Dit is dus belangrik dat KI verantwoordelik aangewend word en gebruikers hulself moet toerus met die nodige vaardighede om dit wel tot hul voordeel aan te wend.

Dwaalspore van KI sluit in, maar is nie beperk nie, tot die volgende:

  • Verminderde betrokkenheid: As leerders te afhanklik raak van KI as deel van hul opleiding, kan hulle motiveringsvlakke daal en belangstelling in die leerproses verloor. Dit kan lei tot ʼn gebrek aan deelname in die klas.

    • Verminderde kritiese denkvaardighede: KI kan vinnig antwoorde en oplossings verskaf, en kan leerders ontmoedig om krities te dink of probleme op hul eie op te los. Dit kan lei tot ʼn vermindering van kritiese denkvaardighede en probleemoplossingsvermoëns.

    • Sosiale isolasie: As leerders te swaar steun op KI, kan hulle die sosiale interaksie en samewerking misloop wat noodsaaklik is vir effektiewe leer. Dit kan lei tot sosiale isolasie en ʼn gebrek aan interpersoonlike vaardighede.

    • Gebrek aan kreatiwiteit: KI kan oplossings bied wat gebaseer is op bestaande data en algoritmes, maar dit kan ook leerders se kreatiewe denke kniehalter om op hul eie met innoverende oplossings vorendag te kom. Dit kan lei tot ʼn gebrek aan innovasie in die leerproses.
    • Kommer oor privaatheid: Indien sensitiewe leerderdata nie voldoende beskerm word nie, kan dit kwesbaar wees vir misbruik of uitbuiting, wat ʼn negatiewe uitwerking op leerders se privaatheid en sekuriteit kan hê en moontlik ook hul leerervarings.

Ten spyte van die moontlike dwaalspore, kan KI ook uiters rigtinggewend wees, mits KI in die onderwys op so ʼn manier geïmplementeer word dat dit billik en deursigtig is. Die potensiële voordele van KI in die onderwys is te groot om te ignoreer. Deur persoonlike leerervarings en insigte te bied, kan KI leerders help om hul volle potensiaal te bereik en hulle voor te berei op sukses in ʼn vinnig veranderende wêreld. Ons moet egter verseker dat KI ontwikkel en verantwoordelik gebruik word, met die doel om menslike potensiaal te verbeter eerder as om dit te vervang.

Daar is baie maniere waarop onderwysers en KI kan saamwerk om die potensiële risiko’s die hoof te bied en die voordele van KI in die onderwys ten volle te benut. Hier is ʼn paar voorbeelde:

  • Samewerkende onderrig: Eerder as om onderwysers te vervang, kan KI hulle help om die individuele behoeftes van hul leerders te identifiseer en hul onderrig daarvolgens aan te pas. Onderwysers kan met KI saamwerk om persoonlike leerplanne vir elke leerder te ontwikkel wat hul sterkpunte, swakpunte en leervoorkeure in ag neem.
  • Verrekening van moontlike vooroordele: Onderwysers en KI kan saamwerk om te verseker dat KI-algoritmes vry is van vooroordeel en ontwerp is om billik te wees. Dit kan bereik word deur datastelle te hersien en algoritmes aan te pas om kulturele en taalkundige verskille te verreken.
  • Terugvoer en assessering: KI kan intydse terugvoer gee oor die prestasie van leerders, wat onderwysers in staat stel om gebiede te identifiseer waar leerders sukkel en ingryp voordat die probleem te groot word. Dit kan veral nuttig wees in groot klasse waar dit moeilik is vir onderwysers om individuele aandag aan elke leerder te gee.
  • Tydbesparing: KI kan onderwysers help met administratiewe take sodat hulle meer tyd tot hulle beskikking het om te fokus op meer betekenisvolle interaksies met hul leerders. Dit kan die gehalte van onderrig en leer verbeter deur onderwysers meer tyd te gee om boeiende lesse te beplan en individuele aandag aan hul leerders te gee.
  • Hulpbronverdeling: KI kan skole help om hulpbronne op ʼn meer doeltreffende wyse toe te ken deur leerderdata te ontleed en gebiede te identifiseer waar addisionele ondersteuning nodig is. ʼn Voorbeeld hiervan is ʼn aanlyn kursus oor ʼn bepaalde onderwerp wat leerders kan ondersteun wat nie die inhoud onder die knie het nie. Dit kan skole help om te verseker dat hulpbronne benut word waar dit die nodigste is, wat die algehele prestasie van die skool sowel as die leerders verbeter.

Lees gerus die bloginskrywing “How Artificial Intelligence (AI) is transforming education: 8 cutting-edge applications” deur West Agile Labs hier. Hierdie bloginskrywing voorsien voorbeelde van verskeie toepassings en praktiese voorbeelde van hoe KI die onderwys kan bevoordeel.

Dit is egter ook belangrik om te noem dat verskeie berigte al die lig gesien het wat KI binne die Suid-Afrikaanse konteks verreken. Dit is nie ʼn maklike taak om te verseker dat die digitale gaping nog groter word en ons onsself bevind aan die uiterste pole van die kompas nie. Daar is struikelblokke wat veroorsaak dat KI nie ten volle benut kan word nie, soos ongeletterdheid, armoede, beurtkrag en die koste van data en tegnologie. Lees gerus die berig “Artificial Intelligence and its impact on education in South Africa” deur Alison Scott hier. Hierdie faktore kan nie buite rekening gelaat word wanneer KI oorweeg word as deel van die onderrig-leerpakket nie. Onderwysers sal hierdie leerhindernisse op ʼn kreatiewe en innoverende wyse moet aanpak om seker te maak dat leerders nie verdwaal op hul pad na hul eindbestemming nie.

DJ Cloete is ʼn dosent in Afrikaans, Afrikaansonderwys en Afrikaans as Taal van Onderrig en Leer by Akademia.