Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Net een letter kan ʼn groot verskil maak

Geskryf deur Karien Brits, Akademia se taalpraktisyn

Sosiale media gons oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank wat daarvan beskuldig is dat hulle ʼn “spelfout” op die R100-banknoot gemaak het. Die Tsonga vir Reserwebank het van Banginkulu na Bangikulu (sonder die n) verander en nou is daar van die sprekers wat ongelukkig daaroor voel. Die versoeking is groot om soos wafferse taalpolisie rooi penne rond te swaai en te kla oor mense wat onbevoeg is, maar daar is dalk meer wat ons uit hierdie bohaai oor een n kan leer.

Dit is eerstens belangrik om net die emosie uit die saak te haal en te kyk na die proses wat gevolg is. Die verandering is op aanbeveling van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) aangebring. Trouens, dit is deur die Tsonga Nasionale Taalraad goedgekeur en is in ooreenstemming met die nuwe bygewerkte spelreëls wat in Mei 2022 gepubliseer is.

Die vraag is wat ons nou hieruit kan leer. Goeie taalpraktyk is nie ʼn lukrake oefening wat op eie voorkeure gegrond is nie. Daar moet goeie beredeneerde redes vir veranderinge verskaf word. In hierdie geval is daar goeie redes verskaf. Bangikulu is ʼn samestelling wat uit twee dele bestaan, bangi (die selfstandige naamwoord “bank”) en -kulu (die byvoeglike naamwoord “groot”). In die Sintutale word selfstandige naamwoorde in verskillende klasse opgedeel en op grond van die klas word die byvoeglike naamwoord aangepas (oftewel verbuig). Die nkulu wat in die vorige weergawe gebruik is, word streng gesproke gebruik om na mense te verwys. Bangi is nie ʼn mens nie en daarom moet dit net –kulu sonder die n wees.

Dit is moeilik om ʼn soortgelyke voorbeeld in Afrikaans te kry omdat ons nie byvoeglike naamwoorde verbuig op grond van die selfstandige naamwoorde wat dit beskryf nie, maar miskien help die Engelse voorbeeld om die beginsel te illustreer. In Engels verbuig ons die werkwoord “(to) talk” soos volg: “he talks” teenoor “I talk”. As ek skryf “I talks”, weet mense wat ek probeer sê, maar dit volg nie die reëls vir die standaardweergawe van Engels nie. (Terloops, ek maak dan nie ʼn spelfout nie maar ʼn taalfout. Daar was dus streng gesproke nie ʼn spelfout op die vorige noot nie maar ʼn taalfout.)

Dit bring my by die volgende aspek, naamlik standaardtaal. Ek gebruik die term “standaardtaal” met groot omsigtigheid en bedoel eintlik hier die weergawe van ʼn taal wat deur die meeste mense gebruik en verstaan word. (Dit beteken dus nie dat ander weergawes substandaard is nie.) Daar moet dus ter wille van goeie kommunikasie op ʼn weergawe besluit word wat vir die meeste mense verstaanbaar is en dit is die standaardtaal. Dit is dan ook die rol van die taalliggaam vir Tsonga – om seker te maak dat daar ʼn standaardweergawe is wat die meeste mense sal verstaan. Dit beteken nie dat almal met die weergawe gelukkig gaan wees nie en dit is ook in hierdie geval geïllustreer. Dink maar net hoe ongelukkig mense al in Afrikaans oor verandering was. So kan daar talle ander voorbeelde uit ander tale gegee word.

Daar is laastens ook ʼn verskil tussen gesproke en geskrewe taal. En elkeen het sy plek. Dit is onnatuurlik om die hele tyd te praat soos wat ons skryf. Die omgekeerde is ook waar. Mense sal nie formele kommunikasie ernstig opneem as dit geskryf is soos wat ons praat nie. Dit is ook waar in hierdie geval. Mense mag dalk nie praat soos wat dit op die banknoot staan nie, maar ons wil tog eerder die formele taal op die banknoot sien omdat dit amptelik is.

Aan die begin het ek gesê dat ons die emosie uit die taal moet haal, maar in praktyk is dit nie so eenvoudig nie. Die ongelukkigheid oor die gewaande “spelfout” is tog positief in die sin dat mense erns maak met taal, maar dan moet mense oor erns maak met die regte aspekte van taal. Daar rus dus nog ʼn groot verantwoordelikheid op taalkundiges om mense in te lig oor taalbeginsels, taalveranderings en die redes vir taalveranderings.

Bron:

https://www.pansalb.org/pansalb-clarifies-xitsonga-spelling-on-new-banknotes/

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.