Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die waarde van die tradisionele skoolbiblioteek in die 21ste eeu

Geskryf deur dr. Nic de Jager, dosent: Opvoedkunde by Akademia

Daar is baie te sê oor die gevoel van ʼn boek in ʼn mens se hande. Vergeet van die clichés, dit is die gevoel van die papier, die reuk van die ink, die aksie van die omblaai en die omslagontwerp wat ons dikwels op reise neem na verre lande en oorleweringe.

Om te lees, soos dit voor die koms van skermtegnologieë daar sou uitsien, is in wese ʼn selfreflektiewe, kropgevoel-ervaring, en een wat steeds vir talle mense ontsnapping bied uit ʼn rumoerige wêreld wat blyk om vinniger en nóg vinniger te draai. Die getuienis hiervan lê veral in die groot boeke; hul skeppers, hul lesers, en hul geharde aanhangers.

Dit blyk dat die boek, of dit nou ʼn geskrif uit die oudheid of ʼn moderne roman is, groter is as die som van sy dele. Tog is dit hul kleinste deeltjies ‒ hul letters, woorde, verse of enkele sinsnedes ‒ wat die hardste uitskreeu vir ons aandag, ons insig en ons begrip.

Die formaat en materiële vorm van die boek, soos ons dit vandag ken, is egter die gevolg van duisende jare se ontwikkeling op allerlei artistieke, literêre en tegnologiese gebiede, volgens Lyons. In die antieke oftewel klassieke periode (ongeveer 3000 v.C.-400 n.C.) was lang rolle van saamgepersde papirus- en rysblare die voorkeur van skrifgeleerdes oor die wêreld heen. Die spykerskrifkleitablet het egter die perkamentrol met sowat 400 jaar voorgeloop.

Op die kleitablet is ons menswees ‒ ons drome, ons vrese, ons oorwinnings en ons begrip van die natuurlike wêreld oor die algemeen ‒ vir die eerste keer vasgevang in opgetekende geskiedenis. Eers in die 15de eeu sien die tradisionele “boek” die lig van dag; ʼn kodeks met opgestapelde bladsye, binne ʼn stewige omslag.

Met hierdie ryk geskiedenis van die boek in ʼn neutedop, ontstaan die vrae: Waar vind die boek sy heenkome ‒ sy ideale tuiste? Waar vind hierdie stomme tekste hul weg na die verstand wat wil leer, beredeneer, bevraagteken, of selfs net vir ʼn oomblik wil ontsnap uit die moeras van verwarring, of nuwe wêrelde wil skep uit blote lug?

As ons aanvaar dat die bewaring van alle kennis en menservarings eintlik in die hande van ons jeug lê, sal die antwoord dan nie die skoolbiblioteek wees nie? Dit is myns insiens die ideale plek om opnuut ʼn liefde vir lees by kinders te kweek. In die Suid-Afrikaanse konteks is dit egter ʼn ingewikkelde kwessie, wat nie binne die bestek van hierdie meningstuk hanteer kan word nie. Biblioteke kos geld, en die logistieke faktore agter die vergestalting van ʼn skoolbiblioteek is talryk en uiteenlopend ‒ veral as die gemeenskaplike ondersteuning, befondsing en/of skenkings daarvoor ontbreek.

Sou daar ʼn biblioteek op die grond van ʼn sekere skool wees, kan ons natuurlik ook vra: Wil kinders lees, en wil hulle nog uit boeke uit lees? In hierdie verband blyk daar ʼn lig aan die einde van die tonnel te wees. Volgens De Waal is daar sedert 2019 ʼn toename van 4,7% in die verkope van fisiese boeke landswyd. Volgens ʼn onlangse studie is sowat 66% van hierdie verkope deur die Departement van Basiese Onderwys behartig, met kinders en jong volwassenes as hul teikenmark.

Die onus lê egter op ouers, onderwysers, bestuur, en die skoolgemeenskap oor die algemeen om kinders te sensitiseer tot die genot en magdom kennis wat uit boeklees verkry kan word. Of dit nou deur boekeklubs, leesperiodes of biblioteekdiens geskied ‒ of selfs die moontlikheid dat gereelde lesers toegang tot die fasiliteite gedurende pouse kan kry ‒ moet die skoolbiblioteek in ʼn sin bemark word as die hart van die skool.

Bygesê, daar sal altyd leerders wees wat nie só tuis voel op die sportgrond nie, en eerder hulself wil uitleef binne die blaaie van ʼn goeie boek. Ek sluit met die volgende af, en dit kom uit persoonlike ervaring. Dit is hier, in die biblioteek, waar jy werklik veilig voel, waar jy voel jy word verstaan, en waar jy kan wegraak in ʼn betowerde landskap met kastele, konings, ridders, drake, magiese swaarde … en die belofte van avontuur.

Dr. Nic de Jager is ʼn dosent in Opvoedkunde by Akademia.