Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Kenners staan reg met raad by Akademia-vakkeuseaand vir graad 9’s

Indien jy of jou kind tans in graad 9 is, is julle moontlik tans besig om die groot besluit van vakkeuses te neem. Akademia bied weer vanjaar ʼn aanlyn vakkeuseaand op Donderdag 25 Mei vanaf 18:30-20:30 aan.

Volgens Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die skolemark by Akademia, is die regte vakkeuses die eerste stap na die besluit oor watter studierigting jy eendag gaan aanpak. “Dit is daarom baie belangrik om kenners se raad in te win om sodoende ʼn ingeligte besluit te kan neem oor wat die beste moontlikhede vir jou sal inhou.”

Die kundiges wat deel vorm van vanjaar se paneel is volgens Pretorius werklik kenners vanuit hul betrokke velde. “Ouers en skoliere kan dus verseker wees dat hul gehalte inligting en raad tydens die sessie sal ontvang.”

Susan O’Reilly is ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia en sy beskik oor ʼn meestersgraad in Psigologie en ʼn professionele onderwyskwalifikasie. Sy gaan tydens die vakkeuseaand gesels oor die belangrikheid van identiteit en waardes in die keuse van vakke vir ʼn toekomstige loopbaan. Sy gaan ook gesels oor die kombinasie van vakke en die kompleksiteit daarvan.

Pieter Jordaan is ʼn direkteur van die Futuresmart Loopbaanvoorligtingsentrum en hy het ʼn graad in BSocSci in Bedryfsielkunde voltooi. Hy is ʼn gesertifiseerde meesterkonsultant vir Crown Career Direct, asook ʼn gesertifiseerde lewensafrigter by die NLP Life Coach Opleidingsakademie. Hy gaan tydens die vakkeuseaand ʼn paar algemene wenke en rigtingwysers gee oor hoe om goeie vakkeuses te maak as jy nog nie presies seker is oor jou loopbaankeuse nie. Hy gaan ook help om die groot vraag te beantwoord: Wiskunde vs. Wiskundige Geletterdheid, watter een is nou eintlik die regte opsie?

Hui-mari Meyer is ʼn opvoedkundige kenner met meer as twintig jaar se onderwyservaring. Sy is ook tans betrokke by WIRED Flip the Switch. Dit is haar passie om leerders na selfontdekking te lei en sy gaan tydens die vakkeuseaand gesels oor hoe jou temperament, belangstelling en vermoëns ʼn belangrike rol speel in hoe mens vaar in verskillende vakgebiede.

Daar sal ook ʼn halfuurlange vraag-en-antwoordsessie wees wat deur die paneel gefasiliteer sal word. Tydens hierdie sessie kan ouers en skoliere enige kwelvrae aan die paneel rig om sodoende enige laaste onsekerhede uit die weg te ruim.

Volgens Pretorius is Akademia ʼn akademiese instelling maar ook ʼn gemeenskapsinstelling. “Akademia wil in diens van die gemeenskap optree en daarom het ons in 2020 die jaarlikse vakkeuseaand op die been gebring. Ons verstaan hoe belangrik vakkeuses is en die invloed daarvan op jou loopbaanopsies,” sê Pretorius.

Pretorius moedig enige graad 9-leerder of ouer van aan om Akademia se vakkeuseaand by te woon indien hulle onseker is oor die moeilike keuse wat voor hul deur lê. Klik daarom hier vir meer inligting. Indien jy die vakkeuseaand wil bywoon, klik gerus hier om jou kaartjie te koop. Die kostes beloop R50 per gesin.