Inligtingsessies en opedae

Search
Close this search box.

Akademia stig vanjaar die NP van Wyk Louw-sentrum

Gepubliseer op: 24 Januarie 2023

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Vanaf die agtiende eeu word die moderne era gekenmerk deur verskeie rewolusies wat soos golwe oor ons wêreld breek. In ʼn sekere sin begin die rewolusies by die Franse Rewolusie van 1789, maar word voortgesit (dikwels met verhewigde intensiteit) deur rewolusies soos die Russiese Rewolusie van 1917, die Chinese Rewolusie vanaf die 1940’s, die antikoloniale rewolusie vanaf die 1950’s, die studenterewolusie van die 1960’s, die anti-apartheidsrewolusie vanaf die 1970’s, die postmoderne rewolusie vanaf die 1980’s en die woke-rewolusie aan universiteite vanaf die 1990’s.

Elkeen van hierdie rewolusies gaan met omvattende gevolge nie net vir kultuur en politiek gepaard nie, maar ook vir die universiteitswese. Ons noem slegs enkele daarvan:

  • Die moderne rewolusies het meestal (dikwels teen die bedoelinge van die rewolusionêre) tot verdrukkende vorme van gelykskakeling, onvryheid, geweld en tirannie – ook aan universiteite – gelei.
  • Vanweë die rewolusies word die Westerse mens toenemend van sy verlede afgesny. In die oë van die rewolusionêre is die verlede verderflik. Dit moet verwerp word. Laasgenoemde word saamgevat in die slagspreuk wat Jesse Jackson, die Amerikaanse aktivistiese leier en prediker, in 1987 op die kampus van die Universiteit van Stanford uitgeskreeu het: “Hey, hey, ho, ho, Western Civilization has got to go”.
  • Met die afskeid van die verlede word ʼn belangrike voorwaarde vir die intellektuele en universitêre lewe vernietig, naamlik die “lewende gesprek” met ons geestelike en intellektuele bronne uit die verlede. In plaas daarvan om die ‘mooie’ uit die verlede te haal en jou toekoms daarop te bou, word die Westerse mens tot die ‘hier en die nou’ ingeperk – ʼn mens sonder ʼn verlede. Maar ook sonder ʼn toekomsperspektief.
  • ʼn Laaste gevolg waarna ons wil verwys, is die feit dat die belangrike beginsel van ‘gelykheid’ deur die rewolusionêre verabsoluteer en vanuit sy bedding in die teologie en die reg (‘in die oë van God en die reg is almal gelyk’) uitgehaal word. Die gevolge daarvan is vernietigend, omdat universiteite inderwaarheid nie tot intellektuele gelykheid nie, maar tot die aristokratiese strewe na hoër ideale soos die ware, die goeie en die skone verbind is.

Die groot historiese vraag, wat reeds vanaf die agtiende eeu aan die Westerse wêreld gestel word, is hoe om op die rewolusies te antwoord.

Nou, gelukkig hoef ons nie al die antwoorde te herhaal nie. Ter wille van ons doeleindes wys ons na slegs enkele antwoorde wat Akademia in aansluiting by die verskeie ander figure en strominge op die rewolusies gee – ook iemand uit ons eie kultuur, naamlik NP van Wyk Louw, ons groot Afrikaanse digter en denker. Louw se denke is in vele opsigte vol van sprankelende idees waarmee op die rewolusionêre geskiedenis geantwoord kan word. Ons formuleer weer eens puntsgewys.

  • In sy werk sny Louw hom nie soos die rewolusionêre van die verlede af nie, maar lewer ʼn voorspraak vir ʼn voortdurende gesprek met die geestelike, kulturele en intellektuele bronne vanuit die verlede. Vir Louw is so ʼn gesprek die voorwaarde vir ʼn lewende kultuur.
  • Louw lewer ʼn voorspraak vir ʼn “dieper reg”. Laasgenoemde kan as ʼn antwoord op die gelykskalingsprojekte van die rewolusionêre beskou word. Laasgenoemde is nie ʼn reg wat almal gelykskakel en ons so van ons vryhede beroof nie, maar ʼn reg waarvolgens elkeen tot sy eie reg kan kom.
  • Louw is – teen die rewolusionêre gees van gelykskakeling in – verbind tot die aristokratiese strewe na die ware, die goeie en die skone. Laasgenoemde strewe verteenwoordig die lewensbloed van die universiteitswese.
  • Louw is nie téén verandering nie, maar hy is teen verandering wat bloot ter wille van verandering deurgevoer word.

Akademia gaan vanjaar die NP van Wyk Louw-sentrum bekendstel. Die sentrum sal as ideeforum van Akademia funksioneer. In die besonder sal dit verantwoordelik wees vir die “vormingsideaal” by Akademia.

As ons die vormingsideaal bondig kan saamvat: dit gaan in wese oor die herstel van ons intellektuele vryhede, oor die kritiek op die gelykskakelingsprojekte van die rewolusionêre era, oor ʼn voorspraak vir dié geregtigheid waarvolgens elkeen tot sy reg kan kom, en oor die aansluiting by en gesprek met die groot bronne vanuit ons geestesgeskiedenis: ons geloofsbronne, ons intellektuele bronne, ons regs- en politieke bronne.

Waarom? Omdat so ʼn gesprek ook ʼn goeie, skeppende en lewende toekoms moontlik maak. Ad futurum per fontes.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, deel sy beweegrede agter die NP van Wyk Louw-sentrum