Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Discovery Institute deel wetenskaplike kennis tydens konferensie by Akademia

Gepubliseer op: 4 September 2023

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.

Die Discovery Institute (DI), geleë in Seattle, VSA, het vanjaar ʼn span van drie kenners na Suid-Afrika gestuur. Hierdie kenners is ʼn prokureur en geoloog, dr. Casey Luskin, ʼn fisikus, dr. Brian Miller en ʼn historikus, dr. Richard Weikart. Akademia was bevoorreg om tydens hul besoek aan Suid-Afrika gasheer te wees vir ʼn tweedagkonferensie vanaf 28 tot 29 Augustus. Tydens die konferensie het hierdie drie geleerdes verskeie temas – van intelligente ontwerp in die kosmos en biologie tot die sosiale implikasies van darwinisme – onder die loep geneem.

Die konferensie is vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia gehou, wat ʼn denkforum is wat ten doel het om toe te sien dat die klassieke universiteitsidee (die vormingsideaal) aan Akademia gevestig, uitgebou en ook aan die breër wêreld uitgedra word.

Die DI is ook ʼn denkforum wat die lewensveranderende moontlikhede van ʼn heelal vol inligting, betekenis en intelligente ontwerp ondersoek. Hierdie denkforum stel belang in die manier hoe die wetenskap openbare beleide kan toelig, menswaardigheid kan bevorder, en die metafisiese grondslae van ʼn vrye samelewing kan ondersteun.

Uiteindelik het Luskin, Miller en Weikart vir die gehoor gedemonstreer hoe die heelal die resultaat is van intelligente ontwerp en dus ʼn heelal vol doel en betekenis is. Daar is nie ruimte vir blinde en rigtinglose prosesse nie, maar eerder ʼn doelgerigte werklikheid wat getuig van hoogs komplekse ontwerp en wat uiteindelik gekenmerk kan word deur die waarheid, goedheid en skoonheid. Dit is ook waarna daar gestrewe word by Akademia.

Saam met die spreker se diep wetenskaplike insig is die kollig ook weer gewerp op die inherente waarde van die menslike spesie en hoe sosiale darwinisme gebruik is om dit in die geskiedenis te ondermyn. Volgens ons Christelike grondslag is die mens as die beeld van God geskape met sekere gelyke en onvervreembare regte. Met die opkoms van darwinisme is dit egter ideologies en sosiaal ook ingespan om imperialisme, rasisme, aborsie, kindermoord en eugenetiek (rasverbeteringsleer) te regverdig.

Die studente, dosente en publiek wat die geleentheid bygewoon het, het dit uiters verrykend gevind. Akademia hoop om weer in die toekoms met die DI saam te werk en belangrike denke verder te bespreek.

Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.
Dr. Brian Miller was een van die sprekers tydens die Discovery Institute-konferensie by Akademia.