Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-koorfees versterk bande tussen koorgemeenskappe in Gauteng

Gepubliseer op: 4 September 2023

Akademia het op Woensdag 30 Augustus sy tweede koorfees by die NG Universiteitsoord in Pretoria aangebied. Die aand se tema was Cantate, et exultate, oftewel Sing en wees bly! Drie skoolkore, een kamerkoor en die Akademia-koor het die gehoor die aand vermaak.

Volgens Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder van die Skolemark by Akademia, is die instelling tot die ideale van die klassieke universiteitswese verbind. “Die Akademia-koorfees dra by tot kulturele verryking onder ons eie studente, asook lede van skool- en kamerkore in die omgewing. Dit help ook met gemeenskapsbou en kweek ʼn gevoel van verbondenheid onder koorlede van verskillende ouderdomme en agtergronde,” noem sy. “Die Akademia-koorfees skep ʼn geleentheid vir koorlede van Gauteng om hul liefde vir koormusiek uit te leef en met ander te deel.”

Sy skryf ook die aand se sukses toe aan die gehalte van al die kore wat by die aand betrek is. “Dit was ʼn spoggeleentheid en ons het die kans gehad om verskeie kore te sien optree wat as wenners en naaswenners uit die stryd getree het by verskillende koorkompetisies vanjaar.”

Die kore wat aan die Akademia-koorfees deelgeneem het, was:

  • Die Akademia-koor
  • Hoërskool Eldoraigne-koor
  • Rheinberger Kamerkoor
  • Hoërskool Waterkloof-koor
  • Hoërskool Garsfontein-koor

Die kore het ʼn groot verskeidenheid liedere opgevoer en die aand is pragtig afgesluit met Akademia se universiteitslied. Pretorius noem dat elke koor wat deelgeneem ʼn unieke klank en repertoire gehad het wat ʼn hoogtepunt van die aand was. “Met hierdie stralende samekoms van stemme kon ons die universele taal wat ons almal verbind vier – musiek.”

Franco Prinsloo, koordirigent van die Akademia-koor, het die aand beskryf as ʼn lieflike ervaring. Hy noem dat dit hom altyd inspireer om tydens sulke geleenthede te sien hoe die koorlede hulself uitleef. “Ons kan trots wees op ʼn ongelooflike mooi aand van puik koorsang en op die feit dat ons deur hierdie platform koormusiek in Suid Afrika kan bevorder.”

Prinsloo beklemtoon ook die groei wat die Akademia-koor vanaf verlede jaar se koorfees tot nou ervaar het. “Die studente groei met elke oefening en elke konsert. As mens dink aan die begin was ons maar ʼn handjievol, maar nou is ons ʼn sterk groep wat in eenheid saamgroei.”

Pretorius noem dat hierdie jaarlikse instelling van krag tot krag gaan. “Ons is altyd besig om te bou op wat ons in die verlede gedoen het. Die publiek kan daarom uitsien na nog ʼn musikale praggeleentheid in 2024. Ons is in die bevoorregte posisie om van die land se vooraanstaande kore sommer hier naby ons te hê en ons kyk daarna om elke jaar ander kore te betrek. Die publiek kan beslis ons sosiale media dophou vir die aankondiging oor wie die verhoog volgende met ons gaan deel,” sluit sy af.

Die Akademia-koor tydens hul optrede by die Akademia-koorfees
Franco Prinsloo, koordirigent van die Akademia-koor, tydens die Akademia-koorfees.