Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademiese geletterdheid onder die loep tydens openbare lesing by Akademia

Gepubliseer op: 30 Augustus 2023

Die kwessie van akademiese geletterdheid is van besondere belang vir die hoëronderwyssektor. Nie net is dit ʼn belangrike faktor vir studente in die suksesvolle voltooiing van hul naskoolse studies nie, dit het ook ʼn groot impak op die deurvloeisyfer van ʼn instelling asook die aflewering van graduandi wat van gehalte spreek. 

In die lig hiervan het die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia op 17 Augustus, ʼn openbare lesing deur prof. Tobie van Dyk, ʼn kenner op die gebied van Toegepaste Taalkunde en Akademiese Geletterdheid, aangebied. Tydens die geleentheid het Van Dyk, wat aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verbonde is, twee onderwerpe aangeraak, naamlik akademiese geletterdheidsintervensies en voorlopige insigte tot die implementering van ʼn taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwys in Suid-Afrika.  

Volgens Van Dyk behels toegang tot hoër onderwys, by beide openbare en private instellings, meer as net formele toegang tot graadstudie. Hy verduidelik dat dit voorts nodig is om te besin oor die kwessie van epistemologiese toegang en die verbandhoudende hindernisse op die pad na studiesukses. Alhoewel verhoogde toegang tot universiteitstudie in post-Apartheid Suid-Afrika suksesvol in beide die openbare en private domein is, blyk dit volgens Van Dyk dat hoë uitvalsyfers daarop dui dat epistemologiese toegang nie noodwendig voldoende aandag geniet nie.

Een van die belangrikste veranderlikes wat ter sprake kom tydens gesprekke oor studiesukses is dié van akademiese taalvermoë. ʼn Eerste bydraende faktor tot gebrekkige akademiese taalvermoë is die aangeleentheid van die hegemonie van Engels en die gevolglike voortgesette beweging na die verengelsing van Suid-Afrikaanse universiteite. Laasgenoemde skep bykomende struikelblokke vir studente, veral vir diegene wat nie Engels as huistaal handhaaf nie. ʼn Tweede bydraende faktor is dat akademiese taal geag kan word as ʼn vreemde taal wat verwerf moet word. Die verontstelling is dat die kenmerke en gebruik van akademiese taal beduidend verskil van taalgebruik vir algemene of sosiale doeleindes.

Tydens sy lesing het Van Dyk ook verwys na die Suid-Afrikaanse taalbeleidsraamwerk vir openbare universiteite wat in Januarie 2022 gepromulgeer is. Hierdie raamwerk moet binne die volgende twee jaar sektorwyd geïmplementeer word. Hy verduidelik dat, in wese, hierdie raamwerk veeltaligheid in die algemeen wil bevorder, met ʼn besondere fokus op die inheemse tale. Ten einde dié proses te fasiliteer het die South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR) ʼn mandaat van Universiteite Suid-Afrika (USAf) ontvang om ʼn  taalhulpbronoudit by hoëronderwysinstellings uit te voer om insigte te verkry in benaderings, hulpbronne en behoeftes wat die implementering van die raamwerk sal beïnvloed.

Dr. Annelise de Vries, ʼn dosent in Afrikaans Huistaal-onderwys by Akademia, het ná afloop van die openbare lesing gesê dat kennis oor taalhulpbronne en taalbeleidsraamwerke vir Akademia van belang is omrede die openbare hoëronderwyslandskap tans in ʼn stryd oor taalhegemonie (taal en mag) gewikkel is. “Ofskoon Akademia ʼn onafhanklike hoëronderwysinstelling is, vorm hy steeds deel van die breër hoëronderwyslandskap en volg hy ʼn eentalige taalbeleid wat in sommige hoëronderwyskringe, en in ag genome van die huidige diskoers oor taalbeleid, skerp gekritiseer word,” verduidelik De Vries. Sy voeg by dat Akademia en sy taalbeleid volle bestaansreg het en daarom nie moet wegskram van die kritiek of konformeer nie. Dit is volgens haar om dié redes belangrik dat Akademia kennis neem van die kwessies met betrekking tot taalhulpbronne en taalbeleidsraamwerke.

Sy sluit af deur te sê dat die kundigheid wat eksterne persone by wyse van intervensies soos openbare lesings tot die tafel bring, nuwe perspektiewe ontsluit en probleemoplossing fasiliteer. 

Prof. Tobie van Dyk meen dat daar deeglik besin moet word oor epistemologiese toegang by hoëronderwysinstellings en dat verbandhoudende hindernisse aangespreek moet word.
Dr. Annelise de Vries, dosent by Akademia, sê dit is vir die instelling belangrik om kennis te neem van die kwessies met betrekking tot taalhulpbronne en taalbeleidsraamwerke.