Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se gholf- en rolbaldag help studente om studies te voltooi

Gepubliseer op: 25 Augustus 2023

Op 24 Augustus vanjaar het Akademia hul derde gholfdag by die Irene Buiteklub aangebied. Hiermee saam is daar ook vir die eerste keer ʼn rolbalkompetisie gehou vir diegene wat nie kranige gholfspelers is nie, maar wie steeds deel van die pret wou wees. ʼn Rekordbedrag van R100 000 is vanjaar by die geleentheid ingesamel.

Die fondse wat deur die gholf- en rolbaldag ingesamel is, word gebruik om Akademia se studente finansieel by te staan sodat hulle, hulle studies aan die instelling kan voltooi. Volgens Liana van Rooy, registrateur by Akademia, bou die instelling saam met studente aan ’n betekenisvolle en vrye toekoms. “Daar is egter van die studente wat jaarliks, ongeag hul potensiaal en toewyding aan hul studies, ernstige ekonomiese uitdagings in die gesig staar wat hul akademiese reis belemmer en selfs kan beëindig,” noem sy. “In ʼn wêreld waar opleiding en opvoeding ʼn sleutel is tot die ontsluiting van geleenthede glo Akademia dat geen student teruggehou behoort te word deur finansiële uitdagings wat ervaar word nie.”

Van Rooy noem verder dat baie van dié studente reeds in die pylvak van hul akademiese reis is, met die vooruitsig om hul vaardighede en kennis te gebruik tot voordeel van die gemeenskappe waarin hulle diensbaar wil wees. “Die gholf- en rolbaldag het vir die gemeenskap die geleentheid gebied om weer in studente se lewens terug te ploeg en ʼn tasbare verskil te kan maak.”

In totaal was daar 33 vierbalspanne wat aan die gholfdag deelgeneem het met agt spanne wat die rolbaluitdaging aangedurf het. Die onderskeie putjies, soos beman deur borge en Akademia-studente, het deur die dag gesorg vir goeie vermaak en verversings in die heerlike warm weer. Die dag is afgesluit met ʼn ete, prysuitdeling asook vermaak deur Ampie du Preez wat as gaskunstenaar opgetree het.

Akademia bedank elke borg en speler vir hul aandeel in die sukses van die dag, onder andere CIBA (Chartered Institute for Business Accountants) wat as hoofborg opgetree het, Case IH Industrial Southern Africa en AfriForumSport. “Danksy almal se deelname aan hierdie spesiale dag kan ons dit vir verskeie studente moontlik maak om hul studiereis by Akademia te voltooi,” sê Van Rooy.

“Die gholf- en rolbaldag bring die gemeenskap bymekaar om in ʼn pret manier ʼn groot verskil te maak in van ons studente se lewens. Die behoefte is egter groot en daar word nog heelwat finansiële hulp benodig om ons studente te help,” noem Leah van Heerden, projekkoördineerder by Akademia. “Die dag was gevul met sonskyn, goeie gees en vriendelike mense. Die dag was ʼn dawerende sukses en ons kan nie wag om te sien hoe dit in 2024 groei nie.”

Indien jy in die toekoms by Akademia se gholfdag wil betrokke raak, stuur gerus ʼn e-pos na leah@akademia.ac.za. As jy graag meer wil uitvind oor hoe jy Akademia se studente finansieel kan bystaan, klik hier en vind uit hoe jy betrokke kan raak.

Die spangees was aansteeklik by die rolbal.
Agt spanne het aan die rolbalkompetisie deelgeneem.
ʼn Totaal van 33 vierbalspanne het aan die gholfdag deelgeneem.
Die weer was perfek vir ʼn potjie gholf.
Die Irene Buiteklub het as gasheer opgetree vir vanjaar se gholf- en rolbaldag.