Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Dr. André van Zyl lewer openbare lesing oor C.S. Lewis se sienings

Gepubliseer op: 24 Augustus 2023

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum

Op Maandag 21 Augustus het Akademia dr. André Van Zyl van die Universiteit van Johannesburg (UJ) verwelkom om die NP Van Wyk Louw-sentrum se maandelikse openbare lesing te lewer. Van Zyl het die tyd gebruik om Akademia se studente en personeel, asook die breër publiek toe te spreek oor die bekende letterkundige, C.S. Lewis, se lesing getiteld “Fern-seed and Elephants”.

C.S. Lewis was uiters diep ingegrawe in antieke literatuur en kon baie van hierdie antieke tekste boonop ook in hul oorspronklike tale van, onder andere, Grieks en Latyn lees. Nadat hy ’n Christen geword het, het hy ook die Nuwe Testament van hoek tot kant in Grieks bestudeer. In 1959 het Lewis die geleentheid gekry om die teologiestudente van Cambridge toe te spreek. Op hierdie stadium het die sogenaamde Hoër Kritiek reeds die hoofstroom- akademiese teoloë van Europa se vertroue in die Nuwe Testamentiese teks laat wankel.

Lewis het egter in hierdie lesing aan Cambridge se teologiestudente die groot verskil tussen mites, fabels, stories en historiese skrywes uitgewys. Vir hom, as ’n briljante kenner van antieke mites, is dit byna onmoontlik om die Nuwe Testament af te maak as ’n blote mite of storietjie. Dit is uit en uit historiese skrywes wat gebaseer is op ooggetuies se waarnemings.

Van Zyl het tydens sy lesing weer die gehoor stap vir stap deur Lewis se argument geneem wat ingekleur is met vlymskerp kommentaar en belangrike opmerkings oor die antibonatuurlike en suspisieuse benadering van die Hoër Kritici tot die Nuwe Testament. Dit is ’n benadering wat uiteindelik nie eerlik oor die historisiteiteienskappe van die Nuwe Testament is nie.

Daarmee saam het Van Zyl ook genoem hoe belangrik dit vir hoë kwaliteit teologiese opleiding in Suid-Afrika is aangesien dit iets is wat die laaste paar dekades stelselmatig aan die verdwyn is. Volgens hom is die beste pad vir teologiese opleiding nie om maar net bloot saam met die stroom van teologiese liberalisme en die Hoër Kritiek te swem nie, maar om eerder weer om te draai en ons ryk historiese en klassieke Christelike tradisie te herwin. In hierdie verband wys C.S. Lewis ook vir ons hoe om dit weer te doen.

Dr. Daniël Maritz, dr. André van Zyl en prof. Danie Goosen by die maandelikse openbare lesing vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum op 21 Augustus by Akademia.