Search
Close this search box.

Internasionale Liefdadigheidsdag: Só dra naastediens by tot Fonties se groei

Gepubliseer op: 5 September 2023

Op Internasionale Liefdadigheidsdag, wat op 5 September gevier word, val die fokus opnuut op die belangrikheid van liefdadigheid as ʼn bousteen van verantwoordbare gemeenskappe. Gedagtig aan dié belangrike roeping word die vraag geopper: Waarom is dit vir Akademia-studente belangrik om liefdadigheidswerk te onderneem?

Abigail Fourie, koördineerder van Studentelewe by Akademia, meen liefdadigheidswerk as ʼn vorm van naastediens maak ʼn belangrike deel uit van enige Fontie se persoonlike en professionele mondering. Volgens haar bevorder liefdadigheidswerk ʼn gees van empatie terwyl dit terselfdertyd ʼn sin vir sosiale verantwoordbaarheid kweek wat groei, as ʼn rimpeleffek, fasiliteer.

“Akademia is daartoe verbind om die denke sowel as die hart van sy studente te vorm, en naastediens spreek direk tot die vorming van die hart en elkeen se skeppingsdoel,” verduidelik Fourie. Sy voeg by dat derhalwe die gevoel van vervulling wat met naastediens gepaard gaan, dit ook waardevolle lewenslesse oordra. “Deur op die wekroep van kwesbare gemeenskappe te antwoord, leer Fonties om dapper en innoverend op sosiale kwessies te reageer, dankbaar te wees oor dit wat aan hulle toevertrou is, en om ten spyte van die realiteite van die dag met deernis na ander te kyk,” sê Fourie.

“Of jy nou bloed skenk, rommel optel, tyd met kwesbare kinders spandeer, donasies insamel of jou vaardighede met ʼn niewinsgewende organisasie deel, liefdadigheidswerk maak van jou ʼn hartsmens. ʼn Persoon wat sy of haar besorgdheid en omgee vir ander as ʼn baken van hoop ten toon stel,” meen Fourie.

Sy is dit eens dat daar groot potensiaal in optrede opgesluit lê, en dat dié optrede tot karakterontwikkeling bydra. Ontwikkelingsaspekte in hierdie verband sluit in die vermoë om effektief in ʼn span saam te werk, leierskapsvermoë asook kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede.

Samevattend kan die voordele van liefdadigheidswerk volgens Fourie as volg saamgevat word:

  • Sosiale bande word versterk.
  • Nuwe vriendskappe word gesmee en netwerke word uitgebrei.
  • Naastediens bevorder emosionele welstand.
  • Praktiese ervaring word opgedoen in areas soos projekbeplanning en -bestuur, asook organisering, administrasie, krisisbestuur en leierskap.
  • Kreatiwiteit word gestimuleer en jy word die geleentheid gegun om jou belangstellings en passie uit te leef.
  • Gemeenskapswerk verbreed jou horisonne en stel jou bloot aan verskillende perspektiewe.
  • Sagtevaardighede soos vindingrykheid en samewerking word ontwikkel.

Fourie moedig alle Fonties aan om betrokke te raak in die gemeenskap en om só die hartklop van Akademia oor te dra.

Abigail Fourie, koördineerder van Studentelewe by Akademia, meen liefdadigheidswerk is ʼn belangrike deel van elke Akademia-student se mondering.