Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sekretaressedag: Kantoorpraktisyns dien in die voorste linie van besigheidsukses

Gepubliseer op: 6 September 2023

Administratiewe beampte. Kantoorpraktisyn. Persoonlike assistent. Sekretaresse. Dit maak nie saak hoe jy na die praktyk van kantooradministrasie verwys nie, dié beroepslui is alombekend as die onbesonge helde van besighede dwarsoor Suid-Afrika. Gedagtig aan dié realiteit word Sekretaressedag vanjaar op 6 September gevier, en Akademia gee erkenning aan elke sekretaresse en student in die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie-program vir hul harde werk en deursettingsvermoë.

Volgens Marthe-Mari Herbst, programkoördineerder van die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie by Akademia, speel kantoorpraktisyns ʼn integrale rol in die suksesverhaal van enige besigheid. “Hierdie persone tel nie net die los draadjies op nie, maar vervleg daaglikse uitdagings en besigheidstrategie op ʼn kundige manier tot ʼn veelkleurige en multidimensionele tapisserie wat spreek van effektiwiteit en doelgerigtheid,” verduidelik Herbst. Sy voeg by dat kantoorpraktisyns ʼn verskil en ʼn impak maak, deur inisiatief en leiding te neem, en dag tot dag praktiese besigheidsoorwegings kundig toe te pas.

“Kantoorpraktisyns voel soms dat hulle nie na waarde geag word nie, maar dit is van kardinale belang dat hulle, hul plek volwaardig in die beroepsgemeenskap sal volstaan as spesialiste,” sê Herbst. Sy voeg by dat die volgende aspekte belangrik is vir die ontwikkeling van ʼn professionele mondering as kantoorpraktisyn:

  • Kennis van digitale hulpbronne
  • Vindingryke probleemoplossingsvaardighede
  • Goeie etiket – persoonlik én professioneel
  • Emosionele intelligensie en interpersoonlike sensitiwiteit
  • Die gawe om vooruit te beplan en te antisipeer
  • ʼn Veeldoelige aanslag
  • ʼn Gees van aanpasbaarheid
  • Onberispelike organisatoriese vaardighede
  • ʼn Dienende gees
  • Deursettingsvermoë en veerkragtigheid
  • Effektiewe kommunikasievaardighede
  • Goeie tydsbestuur

Akademia se Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie rus studente toe met waardevolle kennis en vaardighede wat hul toelaat om die werkplek met selfvertroue te betree. Herbst verduidelik dat modules soos Dataverwerking, Etiek, Sakeberekeninge en Kantoortegnologie toekomstige kantoorpraktisyns voorberei om in die voorste linie van kantooradministrasie ʼn sukses te bewerkstellig. Ander vaardighede wat ontwikkel word sluit in kennis van teoretiese én administratiewe praktyk, strategieë wat relevant is vir die skedulering en koördinering van administratiewe inligting en stelsels, verslaghouding, organisasie en dataversekering binne die administratiewe omgewing.

’n Geïntegreerde projekadministrasie-module versterk die program verder om die student ook begrip en vaardighede ten opsigte van projekbestuurondersteuning te gee. Die Inleiding tot die Reg-module onderrig studente om regsterme te verstaan en binne die regspraktyk as akte-tikster of regsadministrateur toe te pas.

Studieaansoeke vir hierdie dinamiese program word tans ingewag. Klik hier vir meer inligting.

Marthe-Mari-Herbst
Marthe-Marie Herbst, programkoördineerder van die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie by Akademia, meen kantoorpraktisyns moet hul volwaardige plek in die beroepsgemeenskap volstaan as spesialiste in eie reg.