Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se hande versterk met nuwe hoof van Studentesake

Gepubliseer op: 6 September 2023

Akademia kondig met trots die aanstelling van Heleen Coetzee, ʼn ervare kliniese sielkundige, bemarkingspesialis en studentelewekenner, as hoof van Studentesake met die ingang van 1 September 2023 aan. Met dié aanstelling fokus die instelling daarop om strategieë, strukture, stelsels en prosesse daar te stel om sy lewenskragtige studentelewe verder uit te brei en na hoër hoogtes te lei.

Coetzee, ʼn kundige in die veld van ontwikkelingsielkunde, was voor haar skuif na Pretoria werksaam as ʼn senior dosent in Sielkunde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Psigososiale Welstand in Potchefstroom. Hier het sy voorgraads en nagraads doseer, navorsing gedoen oor kinder en adolessente patologie én as koördineerder van die magistergraadstudies in Kliniese Sielkunde opgetree. Coetzee het ook haar eie praktyk waar sy deeltyds praktiseer.

Voordat Coetzee haar in die sielkundeveld gevestig het, het sy die rol as adjunkdirekteur van die NWU se Bemarking en Kommunikasie Departement vervul en sy was onder meer verantwoordelik vir studentewerwing, marknavorsing en kliëntediens.

Haar aanstelling as hoof van Studentesake is vir Coetzee ʼn “volsirkel-oomblik” en sy verduidelik dat sy bevoorreg is dat haar werk- en lewenservaring, tot op hede, haar op ʼn pad geneem het waar sy die studentesiklus van begin tot einde kon leer ken en bestuur. As student het sy self aktief aan studenteaktiwiteite deelgeneem en op verskeie studentestrukture gedien. Laasgenoemde sluit primaria van haar koshuis asook studenteraadsvoorsitter in. Sy was ook vir nege jaar die koshuisouer van ʼn dameskoshuis.

Volgens Coetzee is sy baie opgewonde oor haar nuwe rol, en vind sy Akademia se visie, naamlik om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke sowel as die hart ontwikkel word, baie betekenisvol. Dit is dan ook binne die raamwerk van hierdie unieke uitkyk op studenteontwikkeling waarbinne Coetzee en haar span Akademia-studente in totaliteit beskou, respekteer en ontwikkel sodat hulle as trotse ambassadeurs hul toetrede tot die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap kan maak.

“Om die geleentheid gegun te word om daadwerklike pionierswerk te kan doen en te kan help toesien dat studente, stewig gegrond in waardes, in Afrikaans, in geheel gevorm word, is méér as net ʼn opwindende beroepsgeleentheid. Dit is ʼn roeping, ʼn reusevoorreg en ʼn groot verantwoordelikheid,” sê Coetzee.

Coetzee vertel dat om met studente te werk beteken dat jy jou in die voorste vormingslinie van die toekoms plaas. Sy meen voorts dat om te sien hoe jongmense hul volle potensiaal ontdek, groei en verwesenlik betekenis tot haar lewensdoel voeg en as ʼn energie-inspuiting vir haar dien.

Op die vraag wat haar droom is vir Akademia se studente, antwoord Coetzee onomwonde: “… dat Akademia ʼn plek sal wees waar studente se hart en denke verweef en holisties ontwikkel sal word, en dat die studente gesog sal wees in die werksplek, nie net vanweë hul gehalte opleiding nie, maar juis oor hul waardegedrewe begronding. Ek wens ook vir elke student wonderlike herinneringe van hul studentelewe. Herinneringe wat hulle as lojale alumni vir altyd sal bybly en as’t ware deel van hul menswees sal word.”

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, vertel dat hy met groot verwagting uitsien na hoe Studentesake verder uitgebou gaan word. “Ons wens Heleen alle voorspoed toe en sien daarna uit om te ervaar hoe Studentesake van krag-tot-krag groei om ʼn studentelewe-ervaring sonder weerga te vestig en só ons studente voor te berei om gevormde jong volwassenes te wees,” sluit Visser af.

Heleen Coetzee is onlangs aangestel as die hoof van Studentesake by Akademia en sy is gereed om dié departement na nóg hoër hoogtes te voer.