Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademiese geletterdheid in die era van kunsmatige intelligensie

Gepubliseer op: 8 September 2023

Geskryf deur Monique Alberts, ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde, by Akademia.

Internasionale Geletterdheidsdag word jaarliks op 8 September gevier. Dié dag, wat al sedert 1967 gevier word, het dit ten doel om gemeenskappe se aandag op die belangrikheid van geletterdheid te vestig.

Akademiese geletterdheid verwys na ʼn reeks vaardighede wat leerders benodig om suksesvol binne ʼn akademiese omgewing te presteer. Hierdie onontbeerlike vaardighede sluit onder meer ʼn omvattende woordeskat, kritiese leesvermoë, beredeneringsvermoë, skryfvaardighede sowel as toepasbare navorsingsvaardighede in.

Gegewe die snelle ontwikkeling en voorkoms van kunsmatige intelligensie (KI) is die wêreldwye akademiese gemeenskap toenemend bekommerd oor die invloed hiervan op die ontwikkeling van geletterdheidsvaardighede. Die gebruik van KI, soos byvoorbeeld die ChatGPT-kletsbot, laat hierdie kommer verder toeneem.

Die ontwikkeling van akademiese geletterdheid begin reeds op skool, waar die realiteit van akademiese oneerlikheid vir onderwysers ʼn daadwerklike uitdaging verteenwoordig. Akademiese oneerlikheid is nie ʼn nuwe probleem nie; dit het eenvoudig ʼn nuwe gedaante aangeneem in die tyd van kunsmatige intelligensie en as sodanig is dit tans moeiliker om op te spoor en uit te wys. Hierdie realiteit skep ʼn komplekse vraagstuk en vereis ʼn deurdagte benadering om akademiese geletterdheid in skole te bevorder.

As opvoeders is dit belangrik om te verseker dat leerders toegerus is om die uitdagings van die digitale era doeltreffend aan te pak. Uiteindelik is dit die leerder wat die meeste benadeel word deur akademiese oneerlikheid, aangesien dit die ontwikkeling van die waardevolle vaardighede wat akademiese geletterdheid onderlê, belemmer. Om hierdie probleem aan te spreek, kan onderwysers ʼn paar stappe neem om ʼn positiewe verandering teweeg te bring.

Die eerste stap is om die redes agter akademiese oneerlikheid te verstaan. Dit sluit ʼn vrees vir mislukking, swak tydsbestuur, akademiese mededinging en misverstande oor beleide met betrekking tot plagiaat en akademiese integriteit in. In die lig hiervan is dit krities belangrik om duidelike en toepaslike beleide oor akademiese integriteit en plagiaat in plek te hê. Hierdie beleide moet deeglik met leerders bespreek word, insluitend die konsepte van intellektuele eiendomsreg en die korrekte hantering van bronne.

Onderwysers kan ʼn waardevolle rol speel in die ontwikkeling van leerders se vaardighede vir die korrekte aanhaling van bronne. Daar is ʼn oorvloed van aanlyn hulpbronne beskikbaar wat leerders in hierdie verband kan raadpleeg. Dit is ook nuttig vir skole om ʼn gestandaardiseerde verwysingsgids te hê wat leerders duidelikheid en riglyne bied vir die verantwoordelike en etiese hantering van bronne in akademiese werk. Klik hier om die Akademia-verwysingsgids te bekom.

ʼn Interessante benadering wat deur Redelinghuys en Groenen (2023) by die onlangse Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig (SAVT)-konferensie voorgestel is, is die bevordering van KI-geletterdheid. Hierdie benadering hou in dat onderwysers aktief hul leerders oor kunsmatige intelligensie (KI) moet onderrig, insluitend die beperkings en moontlikhede daarvan. ʼn Praktiese strategie wat voorgestel word, is om ʼn spesifieke onderwerp aan die leerders voor te stel waaroor hulle moet skryf. Nadat hulle hul eie skryfwerk voltooi het, kan hulle dieselfde onderwerp in ʼn kletsbot, soos ChatGPT invoer om ʼn aanvullende perspektief te verkry. Hierdie benadering stel die klas in staat om saam te reflekteer oor die inhoud wat deur die kletsbot gegenereer is en om beredeneerde gesprekke te voer oor die sterk- en swakpunte van die inligting wat verkry is. Hierdie oefening kan leerders help om kritiese leesvaardighede te ontwikkel en om die betroubaarheid van inligting krities te evalueer, wat beide noodsaaklike vaardighede in die digitale era is.

Verder is dit belangrik vir onderwysers om nie slegs die klem op prestasie te plaas nie, maar om ʼn leergerigte benadering te omhels. Die doel behoort nie net te wees om goeie punte te behaal nie, maar om ʼn passie vir leer en selfontplooiing te kweek. Hierdie benadering moedig leerders aan om aktief betrokke te raak by hul eie opvoeding, om nuuskierigheid te koester en om die vaardighede en kennis te ontwikkel wat hulle sal help om sukses te behaal, nie net in die klaskamer nie, maar ook in die toekoms. Lees gerus meer oor hoe veilige mislukking leerders kan help om akademiese integriteit te behou op Turnitin.

Laastens, moet onderwysers dit oorweeg om hul assesseringsmetodes aan te pas om leerders aan te moedig om hul eie werk te doen en hulle kreatiwiteit te benut. In plaas daarvan om ʼn eenmalige assessering aan leerders te gee wat hulle dan moet voltooi, kan opvoeders hul assessering opdeel in afsonderlike dele wat hulle in die klas moet voltooi.

ʼn Meer effektiewe benadering is om meervoudige modaliteite en groepswerk as ʼn integrale deel van jou assessering in te sluit. Dit bevorder samewerking, kreatiewe denke en ʼn dieper begrip van die onderwerp. Die wyse waarop terugvoer gegee en assesserings evalueer word, moet ook herbesin word. ʼn Handige hulpmiddel is om ʼn rubriek te gebruik wat spesifieke kriteria insluit vir eie werk, brongebruik en kreatiewe bydraes. Daarbenewens is verskeie aanlyn hulpbronne beskikbaar om onderwysers te help om hul assesseringspraktyk aan te pas, insluitend ʼn kontrolelys vir leerders om die kwaliteit van hul werk te waarborg.

In die besef van die uitdagings en die belang van akademiese geletterdheid in ʼn digitale era, blyk dit duidelik dat ʼn gemeenskap van onderwysers, leerders, en ander belanghebbendes saam moet werk om hierdie vaardighede te bevorder en te beskerm.

Monique Alberts meen KI-geletterdheid behoort ʼn toegewyde fokus in skole te wees. Dié tipe geletterdheid sal die uitdaging van akademiese oneerlikheid help aanspreek.