Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Klassieke onderwys bespreek by openbare lesing vanuit Akademia se Fakulteit Opvoedkunde

Gepubliseer op: 11 September 2023

Akademia se Fakulteit Opvoedkunde het op Donderdag 7 September ʼn openbare lesing en oop gesprek by Leriba in Centurion aangebied. Die hoofrede is gelewer deur Nel Brace, direkteur van die Potchefstroom-tak van Ratio Christi Suid-Afrika. Die hoofrede is gevolg deur ʼn paneelgesprek wat gevoer is deur Brace, prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, asook dr. Nic de Jager en dr. Annelise de Vries, dosente in Opvoedkunde. Die geleentheid is bygewoon deur personeel van Akademia, sowel as ander uitgenooide gaste.

Die hooftema van die openbare lesing was: Klassieke onderwys: Uitdagings vir onderwysopleiding. Van die kerntemas wat die dag bespreek was die beskrywing van klassieke onderwys, die Groot Boeke en die gebruik daarvan in klassieke onderwys, asook praktiese implikasies van ʼn klassieke benadering in die klaskamer.

Santie Louw, dosent in Opvoedkunde, beskryf klassieke onderwys as volg:

“Die opvoeding en opleiding van die kind met die fokus op sy siel; die kweek van wysheid en deugde wat hom bestand maak teen vals invloede deur die waardes van skoonheid, goedheid en waarheid in alle leerervarings na te streef, met die opbou van ʼn samehangende geheel soos verbeeld in die Groot Boeke.”

Van die hindernisse vir onderwysopleiding wat uitgelig is by die openbare lesing sluit in: kurrikulum wat deur die regering voorgeskryf word, toepassing van teorie op groot skaal en gebrek aan begrip en ondersteuning vanaf ouers. Louw noem dat studente tans onder moeilike omstandighede verkeer maar dat die Fakulteit Opvoedkunde die denke en hart van hul studente help vorm sodat hul die uitdagings te bowe kan kom.

Volgens Louw het opvoedkunde ʼn enorme reikwydte en daarom het Akademia se Fakulteit Opvoedkunde ʼn groot verantwoordelikheid om die goeie, skone en ware na te streef. “Dit is vir ons belangrik om goeie waardes in ons Opvoedkunde-programme te kan oordra aan ons studente. Die openbare lesing het ons die geleentheid gegee om saam te dink oor die klassieke onderwys en hoe dit verder by Akademia geïmplementeer kan word,” sluit sy af.

Dr. Annelise de Vries, dosent in Opvoedkunde, prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, Nel Brace, direkteur van Ratio Christi se Potchefstroom-tak, Santie Louw, dosent in Opvoedkunde, dr. Nic de Jager, dosent in Opvoedkunde, asook dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by die openbare lesing vanuit die Fakulteit Opvoedkunde op 7 September 2023.