Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Is ʼn beroep as programmeerder dalk perfek vir jou?

Gepubliseer op: 12 September 2023

Geskryf deur Jaco-Louis Kruger, waarnemende leier van stelsels en sekuriteit by Akademia.

In die moderne samelewing waar tegnologie deel vorm van ons alledaagse werkverrigting, vermaaklikheid en interaksie met vriende en familie, is die keuse om ʼn programmeerder te word nie net ʼn beroepskeuse nie, maar die sleutel tot die vorming van die samelewing van môre. Ter viering van Internasionale Programmeerdersdag op 13 September kom die vraag op: “Hoe weet ek of ʼn loopbaan as ʼn programmeerder vir my beskore is?”. Hierdie artikel fokus op verskeie eienskappe wat programmeerders benodig om te help bou aan oplossings vir moderne tegnologiese uitdagings.

ʼn Programmeerder moet eerstens vir probleemoplossing lief wees. Programmeerders werk daagliks hard aan nuwe maniere om probleme op te los. Programmeerders moet ook kreatief wees, aangesien unieke probleme kreatiewe oplossings benodig.

Programmeerders moet sterk logiese denkvaardighede besit, aangesien programme gereeld verwerking moet doen van data sodat patrone gevind kan word. Programme moet ook logies uitgelê word.

Programmeerders moet dit geniet om voortdurend te leer, aangesien die tegnologiese wêreld konstant verander. Programmeerders moet lewenslange leerders wees, aangesien daar altyd iets nuut en opwindend is wat gebruik kan word om nuwe kreatiewe oplossings te ontwikkel.

ʼn Liefde vir tegnologie is ʼn vereiste vir elke programmeerder, aangesien programmeerders voortdurend getaak word met die ontwikkeling van nuwe tegnologiese uitvindsels. Programmeerders geniet dit om met nuwe tegnologiese toestelle te speel om te kyk hoe dit aangewend kan word om die lewe vir almal makliker te maak. ʼn Goeie voorbeeld hiervan is programmeerders wat daarvan hou om toestelle op te stel om take in en om die huis te outomatiseer. Dink net aan die outomatisering van ligte en ʼn koffiemasjien. Wanneer jy van die werk af huis toe ry, skakel die koffiemasjien outomaties aan om die perfekte koppie koffie voor te berei vir wanneer jy by die huis aankom.

Van die beste eienskappe van programmeerders is geduld en deursettingsvermoë. Programmeerders geniet dit om foute op te spoor en aan te hou werk totdat die probleem opgelos is. Hierdie gaan gepaard met ʼn entoesiastiese ingesteldheid teenoor uitdagings.

Laastens moet programmeerders dit geniet om sagteware te ontwikkel. Programmeerders het gewoonlik een of meer voorkeurprogrammeringstale waarin hulle ontwikkel, maar hulle kan ook nuwe tale aanleer en gebruik op grond van die behoeftes wat die sagteware moet aanspreek.

Indien jy oor van die bostaande eienskappe beskik, is ʼn beroep as ʼn programmeerder dalk net die regte opwindende beroep vir jou. Hierdie loopbaan sluit verskeie verdere beroepsgeleenthede oop, soos sagteware-ontwikkeling tot en met data-analise. Indien jy bereid is om voortdurend te leer en kreatiewe oplossings te ontwikkel, kan hierdie beroep jou in staat stel om te help bou aan die tegnologie wat die moderne samelewing dryf.

Die doel van die BSc (Rekenaarwetenskappe)-program is om studente in staat te stel om as kreatiewe, kritiese graduandi in die Rekenaarwetenskappe te gradueer. Studieaansoeke vir 2024 is steeds oop. Klik hier vir meer inligting.

Jaco-Louis Kruger is die leier van die stelsels en sekuriteit-span by Akademia.