Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademiese kennis en passie deel van Akademia-alumnus se suksesresep

Gepubliseer op: 12 September 2023

Vir Akademia-alumnus, Louisa Fouche, is daar niks lekkerder as die reuk van varsgebakte koekies of die smaak van botterversiersel nie. Inteendeel, dié oud-Fontie, wat in 2022 haar BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie voltooi het, het haar passie vir bak in ʼn suksesvolle besigheid, La Essence Creations, omskep.

Die idee van ʼn bakkery het reeds tydens Fouche se studiereis as nauurse afstandstudent posgevat en haar toewyding tot die verwesenliking van dié droom is tydens haar finale jaar beloon toe sy as een van die topdriekandidate in die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie aangewys is. Die res is soos hulle sê, geskiedenis, en in November vanjaar sal Fouche se bakkery reeds ʼn jaar in bedryf wees.

Fouche verduidelik dat elke woord in haar bakkery se naam ʼn spesiale betekenis het. Die ‘La’ is ʼn verwysing na haar tante Lalla wat vir haar as ʼn daaglikse inspirasie dien. Tante Lalla was ʼn stylvolle vrou en het graag keurig onthaal. Sy het in 2018 haar stryd teen kanker verloor, en Fouche eer haar nagedagtenis en invloed op hierdie spesiale manier. ‘Essence’, soos dit in die naam gebruik word, is ʼn verwysing na vanieljegeursel, wat geur tot die wêreld voeg.

“Die wêreld is vol haat en seer, en ek probeer om doelbewus ʼn verskil te bewerkstellig deur my gawe vir bak met ander te deel,” sê Fouche en vertel dat liefdadigheidswerk ʼn belangrike deel van haar besigheidsfilosofie uitmaak. Laastens verwys die woord ‘Creations’ na ʼn baie persoonlike saak vir Fouche. Sy het ʼn eetversteuring in haar jeug oorkom, en moes die les en waarde van selfaanvaarding op ʼn moeilike manier leer. “Vandag glo ek dat ons elkeen unieke en geliefde ‘creations’ in God se koninkryk is en as sodanig moet ons elke dag die besluit neem om Sy identiteit te lééf. Hy is waarlik die pottebakker en ons die klei,” meen Fouche.

As Fouche met heimwee terugdink aan haar kinderjare dan onthou sy hoe sy, haar ma en sussies gedurende die Desembervakansie saam koekies gebak het. Dié tradisie dateer terug na haar laerskooljare en sy skryf haar passie vir bak toe aan hierdie spesiale tye. Sy vertel dat sy aanvanklik daarvan gedroom het om ʼn onderwyseres te word, maar na haar eerste besigheidsklas het sy geweet dat sy haar in die besigheidswêreld wou vestig.

Ná afloop van haar studies het sy as jong gegradueerde, gewapen met ywer en akademiese kennis, haar spaargeld gebruik om die bestanddele vir haar eerste bakprojek te koop. “Ek het vroeg in die oggend begin bak, en eers laatnag die kombuislig afgeskakel,” onthou Fouche. Sy voeg by dat uitdagings soos beurtkrag en moeilike klante haar soms met haar hande in haar hare gelaat het, maar meen dat dié uitdagings ook haar persoonlike en besigheidsmondering versterk het. Vandag het sy die deursettingsvermoë en ervaring om die geleentheid in elke uitdaging raak te sien.

As entrepreneur is die lekkerste deel van haar dagtaak die wete dat sy proaktief aan haar toekoms bou. Die feit dat haar werk haar boonop “ongekende vreugde” verskaf, is die kersie op die koek. Met dié gewaarwording in gedagte, motiveer Fouche ander opkomende entrepreneurs om nie moed op te gee na die eerste terugslag nie. “Maak God die fondasie van jou droom en roep Hom aan in tye van swaarkry. Bid voor elke besluit wat jy neem en put jou sterkte uit Christus wie jou krag gee,” sê Fouche.

Sy voeg verder by dat haar akademiese fundering wat sy as Akademia-student ontvang het, ʼn hoeksteen van haar sukses is. “Elke module wat ek oor my drie jaar van studie onderneem het, het waarde tot my droom gevoeg en ek pas dié kennis daagliks toe. Sy is veral dankbaar vir die leiding van Monique Visser, een van Akademia se Ondernemingsbestuurdosente, wat haar stap vir stap deur die Sakeplankompetisie gelei het. Entrepreneurskap was nóg een van Fouche se gunstelingmodules.

Op die vraag waar sy haarself oor vyf jaar sien, antwoord Fouche opgewonde dat sy graag die eienaar van haar eie koffiewinkel, in ʼn Franse styl, wil wees. Dié koffiewinkel sal natuurlik ook ʼn uithaler bakkery insluit. Tot dié droom verwesenlik word, bak sy onverpoosd voort en geniet elke (soete) oomblik daarvan. Sy nooi die gemeenskap hartlik uit om haar Facebook-blad te besoek, en haar gebak op die proef te stel.

Akademia is trots op sy oudstudente en dit is verblydend om te sien hoe lede van die alumni-gemeenskap hul drome najaag. Die instelling hou Fouche se blink toekoms met afwagting dop.

Louisa Fouche lééf haar passie vir bak uit as ʼn entrepreneur. Sy skryf haar besigheidsukses toe aan haar geloof en gehalte akademiese opleiding by Akademia.