Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-simposium fokus op Verbruikersbeskermingsreg

Gepubliseer op: 15 September 2023

Aktuele verwikkelinge in verskeie areas van Verbruikersbeskermingsreg was die onderwerp van bespreking tydens ʼn onlangse simposium vanuit Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid. Tydens dié simposium, wat op 8 September in Centurion aangebied is, het kundiges vanuit die akademie en die praktyk temas soos verbruikersveiligheid, produkaanspreeklikheid, verbruikersooreenkomste en aspekte rakende finansiële verbruikers aangespreek.

Volgens prof. Jacolien Barnard, ʼn dosent in Privaat- en Handelsreg by Akademia en organiseerder van die simposium, het die geleentheid dit ten doel gehad om regslui en studente vertroud te maak met die huidige regsposisie en om gespreksvoering in die verband aan te wakker.

Kenners wat tydens die simposium opgetree het sluit in Anja Hofmeyr (Cliffe Dekker Hofmeyr), dr. Alexander Politis (Akademia), Chrislie Boers (Akademia), prof. Johan Lötz (Vivier Lötz Attorneys Inc.), dr. Tronel Joubert (Tilburg Universiteit, Nederland), prof. Jacolien Barnard (Akademia), prof. Corlia van Heerden (Universiteit van Pretoria) en dr. Birgit Kuschke (Akademia).

Barnard verduidelik dat die toepassingsgebied van Verbruikersbeskermingsreg baie wyd is en dat verbruikerskwessies dikwels verweef is met ander regsaangeleenthede. Vanweë die dinamiese en interafhanklike aard word dié regsfokus gekenmerk deur voortdurende ontwikkeling en nuwe toevoegings. ʼn Voorbeeld hiervan is die beskerming van persoonlike inligting van verbruikers met die toename in die voorkoms van kunsmatige intelligensie (KI) en die toepassing daarvan in aanlyn bemarkingspraktyke. In die lig hiervan meen Barnard dat dit belangrik is vir regslui om tred te hou met nuwe verwikkelinge ten einde beter regsadvies aan hul kliente te verskaf.

Volgens Barnard is baie Suid-Afrikaanse verbruikers ten spyte van geredelike toegang tot inligting via die internet, slimfone en ander tegnologie steeds onbewus van hul regte en daarom uiters kwesbaar. Om dié rede is die Fakulteit Regsgeleerdheid daartoe verbind om proaktief as ʼn bron van inligting en opvoeding in die verband te dien.

“Akademia dien as ʼn brug tussen die akademie en praktiserende regslui, asook tussen publieke- en privaat instellings van hoër onderwys. Binne hierdie belangrike rol speel gespreksvoering ʼn kardinale rol om nie net moeilike regskwessies aan te spreek nie, maar ook om effektiewe antwoorde op kwelvrae binne die reg te vind,” sê Barnard. Sy voeg by dat internasionale sprekers nuwe perspektiewe tot die gesprekke voeg.

“Die handevat en netwerkvorming wat nasionaal en internasionaal tydens geleenthede soos hierdie simposium plaasvind spreek tot Akademia se waardes van rentmeesterskap, verbondenheid en die strewe na kennis en wysheid. Dit is vir die instelling, wat verbind is tot uitnemende professionele en beroepsgerigte opleiding, belangrik om holisties na uitdagings te kyk,” meen Barnard.

Sy spreek verder die hoop uit dat soortgelyke regsimposiums voortaan ʼn jaarlikse instelling by Akademia sal wees en moedig akademici, studente en professionele regslui aan om op die uitkyk te wees vir soortgelyke geleenthede wat deur die fakulteit aangebied word.

Verskeie kenners vanuit die akademie en die regspraktyk het aan die simposium deelgeneem. Van links is prof. Hermie Coetzee, prof. Johan Lötz, prof. Jacolien Barnard, dr. Tronel Joubert en dr. Melanie Roestoff.