Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kundige meen moedertaalonderrig is ʼn gemeenskaplike doelwit

Gepubliseer op: 18 September 2023

Geskryf deur Monique Alberts, ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Die inspirerende tema van vanjaar se konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig (SAVT) was: “Bevordering van meertaligheid – die ontginning van ons taalrykdom.” Hierdie tema is besonders gepas vir die Suid-Afrikaanse konteks wat ʼn rykdom van nie minder nie as twaalf amptelike landstale omsluit. Dit is egter ʼn hartseer gewaarwording dat nie al hierdie tale die aandag en erkenning binne die akademiese sfeer ontvang wat hulle toekom nie.

Daar bestaan vele bewyse uit nasionale en internasionale navorsingstudies dat moedertaalonderrig ʼn beduidende impak op akademiese prestasie en geletterdheid het. Boonop moedig die Suid-Afrikaanse grondwet die bevordering van inheemse tale aan. Dit is daarom betreurenswaardig dat Engels dikwels as die gestandaardiseerde en primêre medium van onderrig gebesig word.

Tydens die konferensie is daar opnuut gefokus op die voordele verbonde aan moedertaalonderrig. Hierdie voordele sluit benewens akademiese prestasie en verhoogde geletterdheidsvlakke, ook die aansienlike verbetering van die vermoë om tale effektief aan te leer. Daar is veral opgemerk dat oor die langduur, moedertaalonderrig ook meer koste-effektief blyk te wees. Gegewe hierdie onteenseglike voordele ontstaan die vraag: “Watter rol, indien enige, kan gemeenskappe speel in die bevordering en gepaardgaande uitbouing van moedertaalonderrig?”

As onafhanklike hoëronderwysinstelling vereenselwig Akademia homself ten sterkste met die beginsel van moedertaalonderrig en méér nog, die bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap deur gemeenskapsbetrokkenheid. Studente aan dié instelling ontvang gehalte onderrig in hul moedertaal, Afrikaans, en die kennis waaroor hul beskik sal hulle in ʼn veeltalige omgewing kan toepas.

Die sleutel tot die ontwikkeling van leesvaardighede by kinders begin reeds voordat ʼn kind die skool betree. Ouers speel daarom ʼn kritieke rol in dié ontwikkelingsproses deur byvoorbeeld vir hul kinders in hul moedertaal voor te lees. Hierdie aktiwiteit kweek ʼn leeskultuur en baan die weg na taalvaardigheid en begrip. Hierdie proses moet nooit as vanselfsprekend beskou word nie. Inteendeel die PIRLS (Progress in International Reading Literacy Study)-verslag toon duidelik dat ʼn groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse jeug nie tyd bestee aan lees vir plesier nie.

Gemeenskapsbetrokkenheid is verder van kardinale belang vir die ontwikkeling van hulpbronne vir kinders van alle ouderdomme wat eie aan hulle moedertaal is. Hierdie hulpbronne sluit onder meer in leesboeke, musiek, televisieprogramme, podsendings en vele meer wat dien as ʼn viering van taalrykdom.

Jong mense het ook ʼn rol om te speel en moet aangemoedig word om in hul moedertaal te skryf en te lééf en sodoende tot die bewaring van die nasionale taalskat by te dra. Die onus rus op ons om hierdie jong taalhelde in ons gemeenskappe te identifiseer en te ondersteun ten einde hulle in staat te stel om as inspirasie vir die jeug te dien.

Laastens, alhoewel daar ʼn duidelike verbintenis bestaan tussen Engels en baie ander tale, moet ons bewus wees van en waak teen die gebruik van anglisismes. As moedertaalvoorstanders is dit ons verantwoordelikheid om tot ons taal by te dra deur nuutskeppings tot die taalrepertoire te voeg en om die korrekte vertalings te gebruik om ons taalrykdom te bewaar en te versterk.

In ʼn land so ryk aan kulturele verskeidenheid en taalverskeidenheid soos Suid-Afrika, is die bewaring en bevordering van moedertaalonderrig ʼn taak wat ons almal aangaan. Ons moet saamwerk as ʼn gemeenskap om ʼn omgewing te skep waarin elke taal ʼn plek het en waarin al ons kinders die geleentheid kry om in hul moedertaal te leer, te groei en te leef. Dit begin by onsself as ouers, opvoeders en aktiewe lede van ons onderskeie gemeenskappe.

Laat ons ons kinders aanmoedig om te lees, te skryf, en te droom in hul huistaal, en mag ons aktief daartoe werk om die vertellers en skrywers van môre te kweek.

Monique Alberts, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, is passievol oor moedertaalonderrig. Sy meen elke gemeenskap het ʼn belangrike rol om te speel in die bevordering van moedertaalonderrig.