Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia bied eerste Teologie en Filosofie-konferensie aan

Gepubliseer op: 19 Julie 2023

Akademia se eerste internasionale Teologie en Filosofie-konferensie het vanjaar vanaf 13 tot 15 Julie in Centurion plaasgevind. Hierdie gebeurtenis sal vanaf vanjaar DV ’n jaarlikse instelling by Akademia wees wat poog om ’n ruimte te skep waar die ryk samehang tussen die dissiplines van teologie en filosofie weer herwin kan word.

Vanjaar is daar sewe plaaslike en drie internasionale sprekers by hierdie geleentheid verwelkom. Die konferensie het die aandag van studente, predikante en akademici getrek en die temas het ook goeie gesprekke oopgemaak wat relevant vir die kerk in Suid-Afrika is.

Die rede vir die bestaan van hierdie inisiatief is om Akademia se toekomsdroom vir die dissipline van teologie uit te lig. Volgens dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, kan die aanwesigheid van vele uitdagings wat die kerk in die oë staar, en die feit dat die kerk nie altyd goeie antwoorde op hierdie uitdagings bied nie, tot ’n groot mate teruggetrek word na die afwesigheid van goeie filosofie in die kerk. “Die kerkganger, predikant, en Christen-akademikus moet dus weer in die lewe van die kerk die belangrike rol van filosofie besef en beoefen.”

Volgens Maritz noem dat teologie in die eeue oue Christelike tradisie as die koningin van die wetenskappe beskou word met filosofie as haar dienskneg. Norman Geisler se volgende aanhaling som die huidige situasie volgens Maritz goed op: “Tensy filosowe nie goeie Bybelse eksegete in ons skole word nie, óf diegene wat ons nou Bybelse eksegete noem nie die strewe na filosofie ernstig en voldoende najaag nie, en daar nie ’n samevoeging van hierdie twee dissiplines is nie, naamlik Bybelse eksegese en filosofiese intelligensie, kan daar geen einde aan teologiese probleme vir ons skole, en die Christelike Kerk wees nie.”

Mag Akademia se jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie ’n klein bydrae tot hierdie belangrike saak wees.

Dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia, het gaste by die instelling se eerste Teologie en Filosofie-konferensie verwelkom en die geleentheid geopen.
Gaste by die eerste Teologie en Filosofie-konferensie het oor verskeie kwessies gesels rakende die huidige teologiese en filosofiese landskap.