Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kundige neem voortou met model in forensiese rekeningkunde

Gepubliseer op: 19 Julie 2023

ʼn Groot eer het onlangs vir Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, te beurt geval tydens die tweejaarlikse internasionale konferensie van die Suider-Afrikaanse Rekeningkundige Vereniging (SAAA) wat vanaf 28 tot 30 Junie by Sun City plaasgevind het. Wannenburg was een van slegs 22 akademici wêreldwyd wat die geleentheid gebied is om ʼn referaat tydens dié konferensieverrigtinge te lewer. Dit was ook die eerste keer dat akademici van Akademia by dié konferensie ʼn referaat gelewer het.

Dié konferensie bied aan akademici binne die rekeningkundige veld die geleentheid om hul navorsing ten toon te stel, met hul nasionale en internasionale eweknieë te netwerk én om moontlike sinergieë te ontgin. Vanjaar se tema het gefokus op die strewe na aanspreeklikheid binne ʼn geïntegreerde wêreldkonteks.

Wannenburg, ʼn geregistreerde forensiese rekeningkundige, het tydens die konferensie ʼn literatuuroorsig gelewer oor die proses wat gevolg word gedurende ʼn kommersiële forensiese ondersoek na witboordjiemisdade. Dié oorsig vorm deel van die navorsingsfokus van Wannenburg se meestersgraadstudie in Bedrog Risikobestuur. Haar referaat se titel was: “A literature review of commercial forensic investigations of white-collar crime”.

Wannenburg verduidelik dat dié oorsig dit ten doel gehad het om op die verskillende elemente van ʼn kommersiële forensiese ondersoek te fokus. Dit volg nadat daar ʼn behoefte geïdentifiseer is om so ʼn proses te ontwikkel vanweë die beperking op bestaande literatuur in die verband. In haar voorlegging het Wannenburg onder meer relevante internasionale en nasionale beste praktyke bestudeer en aan die hand hiervan ʼn Suid-Afrikaanse proses voorgestel.

Die waarde van Wannenburg se navorsing lê opgesluit in die beduidende implikasie wat dit vir die bestuur van kommersiële forensiese ondersoekpraktyke het. Volgens Wannenburg is hierdie implikasie veral sigbaar in die verbeterde gehalte van soortgelyke ondersoeke en die gevolglik suksesvolle vervolging van witboordjiemisdade.

*Vier ander lede van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia het ook die konferensie bygewoon, naamlik Rika Nieuwoudt, Daniëlla du Preez, Nicolene Steenkamp en Nicolene Coetzee.

Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe, het as deel van haar meestersgraadstudie ʼn proses ontwikkel vir kommersiële forensiese ondersoeke in Suid-Afrika.