Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia vestig ereleerstoel in kultuurkritiek

Gepubliseer op: 6 Desember 2021

Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, is aangewys as die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel van Akademia.

Akademia het in 2020, via haar direksie, besluit om ereleerstoele te vestig met die doel om die akademiese statuur van die instelling te vestig en uit te bou; om die kultuur van navorsing aan Akademia uit te bou en te versterk; en om die opvoedingsideaal van die instelling te ondersteun.

Die NP van Wyk Louw-ereleerstoel vir kultuurkritiek is vanjaar in samewerking met die FAK gevestig en mnr. Boshoff staan nou aan die hoof van dié erestoel. Die nuwe amp wat Boshoff nou beklee, kan met dié van ’n ereprofessor vergelyk word. Die amp hoop om kritiese denke aan te moedig oor die kultuur van die Afrikaner, met vrae oor die waarde, toekoms en plek van die Afrikanerkultuur binne die breër Suid-Afrikaanse konteks.

Boshoff is ʼn baie geskikte eerste bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in kultuurkritiek by Akademia. Hy word allerweë as ʼn kenner van NP van Wyk Louw beskou. Boshoff het reeds verskeie publikasies, waaronder ʼn verhandeling asook ʼn onlangse boek, oor die nalatenskap van Louw die lig laat sien. Verder vind Boshoff se hermeneutiese benadering jeens Louw baie aanknopingspunte by lewensbeskoulike uitgangspunte ten grondslag van Akademia. Boshoff se aanstelling strek nie net Akademia se verbintenis tot die nalatenskap van NP van Wyk Louw ten goede nie, maar ook die akademiese lewe aan Akademia.

Boshoff het al verskeie ampsposisies beklee en hy was onder andere ook ’n lid van die Noord-Kaapse wetgewer. Hy het’n meestersgraad in Kultuurgeskiedenis behaal, waarna hy aangegaan het om aktief aan die politiek deel te neem. Boshoff is deurlopend betrokke by aktivistiese veldtogte ten einde die Afrikaners se saak op die openbare verhoog te bevorder.

Boshoff het tydens ʼn besonderse geleentheid op 28 Oktober 2021 om 17:30 sy intreerede as bekendstellingslesing in die Kruger-galery by die Voortrekkermonument aangebied. Hy is deur die dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, prof. Pieter Duvenage, voorgestel en sy tema was: “Die nasionalisme van NP van Wyk Louw”.

In sy intreerede het Boshoff gesê ons as Afrikaners moet soos Van Wyk Louw nasionalisme uit ’n liberale hoek benader. In die opsig is daar ʼn wedersydse verhouding tussen die individu en die gemeenskap. Hy het ’n voorspraak gemaak vir ’n Afrikaneridentiteit wat beide gewortel is in ’n ryke tradisie, maar wat ook ontvanklik is vir die verskeidenheid van verskillende uitings wat hierdie tradisie oplewer. “As ons nie ons eie bestaansvoorwaardes deurdink nie, gaan niemand dit vir ons doen nie. Alles is nie verlore nie, want wat ons kan dink, kan ons doen.”

Akademia is trots om die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in Kultuurkritiek in haar midde te verwelkom. Hierdie verwelkoming is verder verdiep met ʼn skenking van NP van Wyk Louw se persoonlike boeke deur sy seun Peter Louw vroeër in Oktober. Hierdie skenking bevestig Akademia se verbintenis tot een van die grootste denkers en digters in die Afrikaanse taal en kultuur.

Prof. Pieter Duvenage (links), dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, saam met Carel Boshoff (regs) wat aangewys is as die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel.