Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Huisouers by nuwe privaat studenteverblyf, koshuis@Leriba, aangewys

Gepubliseer op: 13 Desember 2021

Daar is onlangs aangekondig wie die trotse huisouers van koshuis@Leriba gaan wees. Yolande Dodds en Tinus Dodds is twee passievolle mense en ouers wat die Akademia-studente by die koshuis gaan bystaan en ondersteun.

koshuis@Leriba is op 19 November vanjaar bekendgestel. Hierdie splinternuwe studenteverblyf vir mans- en damesstudente in Centurion bied veilige oop studenteparkering, toegang tot ʼn gimnasium, swembaddens, braaigeriewe, luukse studentekamers, Wi-Fi, ontspanningsareas, ʼn eetsaal en ʼn restaurant. Die perseel is ook slegs 2,5 km vanaf Akademia se voltydse Gerhardstraat-kampus in Centurion.

Tinus is die afgelope twee jaar werksaam by Akademia se operasionele afdeling, terwyl Yolande die afgelope drie jaar in diens was by die Pretoria High School for Girls. Hulle het mekaar in Bloemfontein ontmoet en woon sedert 1995 in Pretoria. Hulle het ook twee pragtige dogters, Donay (23) en Denike (21). “Met ons twee dogters wat die wonderlikste studentelewe gehad het, wil ons vir die koshuis@Leriba-studente ook ʼn veilige en lekker omgewing skep waar hulle in harmonie met ander kan saamleef en kan uitgaan in die werkersmark met gehalte onderrig,” noem Tinus.

“Ons is beide mense-mense en dit verstom ons altyd hoe baie iemand kan groei. Ons sien die meeste daarna uit om by koshuis@Leriba te sien hoe die nuwe studente in hierdie mooi en rustige omgewing gaan ontwikkel van meestal skoolverlaters tot jong volwassenes,” vertel Tinus, wat reeds by Huis Valorem, Akademia se eerste koshuis, betrokke is en nóú saam met studentesake by die instelling werk. Hy noem ook dat hulle sal seker maak dat elkeen se vordering opgeteken word en dat hul persoonlike groei vir hulle as koshuisouers na aan die hart lê. “Verder het ons harte wat omgee, genoegsame liefde en hope verstaan van jonkwees. Ons verstaan ook die verskil in ʼn student se stemtoon oor die foon laat in die nag!” spot Tinus.

Die Dodds-egpaar glo dat die koshuis@Leriba-studentelewe die beste drie tot vier jaar van die studente se lewe sal wees en dat daar baie tyd sal wees om lewenslange vriendskappe te bou. “As ons net na die omgewing en fasiliteite kyk, wil dit vir ons voorkom of koshuis@Leriba die nuwe hoofstad van Akademia-studente gaan word.”

Yolande vertel dat haar gunstelingherinnerring aan universiteit die sleep en interaksie met ander koshuise was. Sy onthou ook die mooi aandrokke wat haar ma vir formele aande moes optower en natuurlik die sokkie-aande. “Ek was deel van my koshuis se huiskomitee en die ontmoet van nuwe mense en lewenslange vriendskappe sal my altyd bybly.” Sy glo dat dit ook die geval by koshuis@Leriba gaan wees en sy sien daarna uit om die studente hier te sien blom.

Tinus onthou weer die raak-rugby saam met sy koshuisgang en die kompetisies oor wie se ma die beste beskuit en koekies kon bak. Hy hoop dat die koshuis@Leriba-studente ook ná hul tyd hier sal kan wegstap met ʼn hele tas vol goeie herinnerringe.

Volgens die Dodds-egpaar moet studente koshuis@Leriba as hul nuwe tuiste oorweeg omdat hulle hier sal leer waartoe hulle werklik in staat is. “Dit is ʼn goeie en veilige plek om lewenslesse te leer wat jy jou lewe deur sal kan gebruik en jy sal hier mense van verskillende plekke en agtergronde ontmoet en uitstap as ware vriende.”

Die tipiese student wat volgens Tinus by koshuis@Leriba sal inpas is ʼn jong, lewenslustige mens wat die begeerte het om meer te leer van die lewe en wat op ʼn goeie ontdekkingstog wil gaan saam mense met dieselfde waardes.

“koshuis@Leriba voel soos ʼn eie klein studentedorpie. Met die mooi omgewing voel dit asof jy met vakansie is terwyl jy leer,” sê Yolande. Sy noem dat die koshuiskultuur kan ontwikkel na iets waaroor ander plekke net kan droom. “Die manier van doen by koshuis@Leriba gaan baie spesiaal wees.”

Die huiskomitee gaan baie nóú saam met die koshuisouers werk en hulle sal die eerste linie van kontak tussen die studente en die ouers wees. “Hulle sal dien as die oë en ore wat alle studentebehoeftes sal optel,” reken Tinus.

Tinus het met sy betrokkenheid by Huis Valorem, Akademia se eerste koshuis by die Centurion-kampus, ʼn paar lesse geleer: “Luister eers en vra dan. Moenie altyd die ergste verwag nie. Lag maak alles beter. Saam eet is ʼn wenner vir enige moeilike omstandigheid. Daar is geen Akademia-student wat nie die vermoë het om te onderhandel nie. ALLE Akademia-studente is oulik en goed. Bure is maar net bure.”

As jy in ʼn veilige omgewing wil woon waar jy jou beste kan gee op akademiese gebied en aan verskeie buitemuurse aktiwiteite wil deelneem, dan is koshuis@Leriba vir jou. Jy het nog tyd om jou verblyf vas te maak, maar jy sal moet vinnig spring aangesien daar ʼn beperkte hoeveelheid kamers beskikbaar is. Aansoeke vir studenteverblyf sluit 31 Januarie 2022 en kan deur die studieaansoekproses gedoen word. Stuur gerus ʼn e-pos na studenteverblyf@akademia.ac.za vir enige navrae of klik hier.

Yolande Dodds en Tinus Dodds is aangewys as die koshuisouers van die privaat verblyf, koshuis@Leriba, waar Akademia-studente gaan woon.
koshuis@Leriba het plek vir 116 studente om hulself hier uit te leef.
Die eetsaal sal teen ʼn addisionele koste al die student se etes voorsien.
Die dubbelkamers is ingerig vir twee studente om gerieflik saam te woon.