Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Steunpilaar en heel eerste akademiese hoof van Akademia tree af

Gepubliseer op: 14 Desember 2021

Wanneer Desember aanbreek is dit oor die algemeen ʼn tyd van vreugde. Dit is egter ook vanjaar die tyd wat Akademia een van haar strydrosse moet groet. Sό beskryf Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, die aftrede van een van die groot steunpilare, voormalige akademiese hoof, en koördineerder: Voldoening en Gehalteversekering van die instelling, dr. Paul Steyn.

Steyn was die tweede personeellid wat by Akademia aangestel is. Alhoewel hy reeds op kontrak gedurende 2010/11 vir ons werk gedoen het, word hy op 1 Mei 2011 voltyds as akademiese hoof aangestel. Sy opdrag was om die akademie in Akademia op die been te kry. Hy moes dus beide die instelling registreer, en die programme wat die instelling wou aanbied akkrediteer. Verder moes hy dan ook toesien dat hierdie programme suksesvol aangebied word – personeel aanstel, mentor wees, studiemateriaal ontwikkel en vele meer.

“Paul was by uitstek die regte persoon om hierdie groot taak uitgevoer te kry,” vertel Visser. Sy ervaring in beide die openbare sektor (Unisa) en die privaat sektor (Educor en Centurion Akademie) het hom hiervoor geskool. Hy het ook gedurende sy loopbaan gedien op die Akkreditasiekomitee van die Raad op Hoër Onderwys wat hom in staat gestel het om op die hoogte te bly van akkreditasievereistes.

Steyn is ʼn gewese Afrikaansonderwyser en was ʼn professor in universiteitsdidaktiek vir 20 jaar met spesialisering in afstandsonderrig. “ʼn Nuwe, privaat Afrikaanse afstandsonderriginstelling wat vir mense die geleenthede gaan bied om hulle lewens en loopbane te verbeter – wie sou nie opgewonde kan wees nie?” vertel hy oor hoe hy gevoel het toe hy by Akademia begin het.

Sy gunstelingherinnering van sy reis by Akademia was die jong, opgewonde akademiese personeel wat nie geskroom het om te leer nie, asook die middagetes saam en die lekker intellektuele en soms ook ligtelike gesprekke wat hulle met behae kon hê. “Die nalatenskap van die suksesvolle akkreditasie van 22 programme in ʼn kort periode van net tien jaar, sal altyd ʼn positiewe herinnering bly.” Hy noem dat dit vir hom groot oomblikke was toe die eerste programme geakkrediteer is en toe die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vir Akademia volle, onvoorwaardelike registrasie gegee het.

Hy vertel verder dat die groei van Akademia as instelling absoluut bo verwagting vinnig was. “Ons kon werklikwaar die regte programme op die regte tye uitrol. Die intellektuele en volwassenheidsgroei by die personeel was ook merkwaardig.”

Hy glo dat hy so lank by Akademia was omdat dit die beste plek bly vir die Afrikaanse moedertaalspreker om ʼn goeie kwalifikasie te bekom. “Akademia staan vir eerlikheid, gehalteopleiding en die nastrewing van gesonde intellektuele ontwikkeling. Dit is ʼn instelling uit die Afrikaanse gemeenskap vir die Afrikaanse gemeenskap wat ʼn uitmuntende diens lewer sonder winsbejag, anders as ander privaat instellings.”

Steyn glo egter nie dat sy aftrede beteken dat hy gaan stilsit nie. “Ek sit nog op akademiese rade en senate van vier privaat instansies waarmee ek sal voortgaan en ek sal ook uithelp met die ontwikkeling van ʼn nuwe gespesialiseerde opleidingsinstituut. Dit was nog altyd lekker om iets nuuts te begin.” Hy noem ook dat hy pas 72 jaar oud geword het en minstens nog vir so tien jaar motorfiets kan ry wat vir hom ʼn groot lekkerte is.

Hy sien uit om te sien waar Akademia oor ʼn verdere tien jaar gaan wees en hy glo dat die nauurse model se e-leeropsie die potensiaal het om te groei tot 15 000 studente oor die hele wêreld.” Dit was ʼn wonderlike ervaring om van meet af aan deel te kon wees van die daarstelling van ʼn unieke (vir Suid-Afrika) instelling wat gevorderde tegnologie gebruik,” sê Steyn.

“Paul se rol in die ontwikkeling van Akademia sedert 2011 tot vandag was van onskatbare waarde. Dit was vir my ʼn groot voorreg om saam met Paul hierdie taak te kon aanpak en uitvoer. Ek is werklik dankbaar dat hy die laaste tien jaar van sy formele loopbaan by Akademia gesluit het,” vertel Visser.

“Ons is vandag dankbaar dat Paul saam met ons geglo het in ons droom. Ons is dankbaar vir sy energie, kennis, ingesteldheid en veral vir sy jarelange vriendskap. Ons wens vir hom is om sy volgende hoofstuk ook met ywer aan te pak en die aftrede terdeë te geniet!” sluit Visser af.

Dr. Paul Steyn was ʼn steunpilaar van Akademia, en die instelling se heel eerste akademiese hoof. Hy tree vanjaar af ná jarelange diens aan Akademia.
Prof. Gawie du Toit en dr. Paul Steyn by Steyn se laaste jaareindfunksie by Akademia. Foto deur: Cornel van Heerden