Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent ontvang CIMA-Uitnemendheidstoekenning

Gepubliseer op: 14 Desember 2021

Akademia het vandag aangekondig dat die instelling ʼn CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Onderrig (eervolle vermelding) ontvang het op 10 Desember 2021 by die tweede CIMA-Uitnemendheidstoekenningsgeleentheid wat virtueel plaasgevind het. Hierdie toekenning gee erkenning aan ʼn dosent wat uitstekende betrokkenheid by studente toon en op doeltreffende wyse die studente se begrip van die vak versterk. Vanjaar is Michelle Coetzee, dosent in Ouditkunde en Belasting by Akademia, erken vir haar passie vir die vakgebied en toewyding aan haar studente.

Die jaarlikse CIMA-Uitnemendheidstoekennings verleen erkenning aan instellings en individue dwarsoor die wêreld wat soveel meer doen as wat verwag word om die volgende geslag van geoktrooieerde globale bestuursrekenmeesters te vorm en uiteindelik die rekeningkundige beroep die toekoms in te lei. Hierdie geleentheid is geborg deur die Vereniging vir Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters (Association of International Certified Professional Accountants), ʼn globale rekenkundige organisasie wat die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA) en die Amerikaanse Instituut vir Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters (American Institute of CPAs – AICPA) verteenwoordig.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, sê:

“Dit is ʼn groot pluimpie vir Michelle Coetzee dat haar studente haar genomineer het vir hierdie toekenning op grond van haar toewyding, betrokkenheid by die studente en uitstekende vermoë om kennis van haar vakgebied oor te dra. Die toekenning dui weer eens op die gehalte van Akademia se onderrig en kwalifikasies soos beoordeel deur ʼn onafhanklike internasionale professionele liggaam.”

Tariro Mutizwa, streeksvisepresident Afrika – AICPA & CIMA, sê:

“Ek erken die sterk vennootskappe wat ons met universiteite en die akademie het wat die indiensneembaarheid van studente versterk asook hulle gereedheid om by te dra tot die ekonomieë waarin hulle werk.”

Andrew Harding, FCMA, CGMA, uitvoerende hoof van bestuursrekeningkunde by AICPA & CIMA, lewer soos volg kommentaar:

“Dit is ʼn eer om diegene te erken en te vier wat merkwaardige toewyding aan hulle studente en die rekeningkundige beroep die afgelope jaar getoon het. Al ons wenners en genomineerdes doen ongelooflike werk om te help dat die toekomstige geslagte hulle potensiaal bereik om hulle ʼn voorsprong te gee in hulle loopbane. Ons is trots daarop om julle ons vennote te noem en waardeer werklik julle ondersteuning.”

Meer as 400 nominasies van opvoedkundige instellings en individue is vanjaar ingedien vir oorweging in vier kategorieë: CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Onderrig, CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Navorsing, CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Kampuskultuur, en CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Indiensneembaarheid. Daarbenewens het ʼn sentrale toekenningskomitee wenners gekies vir die CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir die Pryswenner, CIMA- Globale Uitnemendheidstoekenning, en die CGMA-Toekenning vir die Kampus van die Jaar gegrond op die CIMA-eksamenprestasie in 2020 en 2021.

Besoek die CIMA-webwerf vir ʼn volledige lys van die wenners van die 2021-CIMA-Uitnemendheidstoekennings.

Baie geluk aan Michelle Coetzee, dosent by Akademia, wat die CIMA-Uitnemendheidstoekenning vir Onderrig (eervolle vermelding) ontvang het.

Oor die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters

Gestig in 1919, is die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (The Chartered Institute of Management Accountants® (CIMA®)) die wêreld se voorste en grootste professionele liggaam vir bestuursrekenmeesters. As deel van die Vereniging vir Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters (Association of International Certified Professional Accountants®), werk CIMA en sy lede en studente in 192 lande en gebiede, in die hart van besighede – in die industrie, handel, die openbare sektor en organisasies sonder winsoogmerk. CIMA werk nóú saam met werkgewers en borg voorpuntnavorsing, is deurlopend besig om sy professionele kwalifikasies en ondervindingsvereistes by te hou om te verseker dat hulle die werkgewer se keuse bly as dit by die werwing van finansieel-opgeleide sakeleiers kom.

Oor die Vereniging vir Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters, en AICPA & CIMA

Die Vereniging vir Internasionale Gesertifiseerde Professionele Rekenmeesters (die Vereniging) verteenwoordig AICPA® & CIMA®. Ons bevorder die globale rekeningkundige en finansiële beroep deur ons werk namens die AICPA- en CIMA-lede, -studente en betrokke beroepslui in 192 lande en gebiede. Saam is ons die wêreldwye leier rakende openbare en bestuurskundige aangeleenthede deur voorspraak, ondersteuning vir die CPA-lisensie, die CGMA-benamings en gespesialiseerde vaardighede, professionele ontwikkeling en denkleierskap. Ons bou vertroue deur ons lede en betrokke beroepslui toe te rus met kennis en geleenthede om leiers te wees in die verbreding van welvaart vir ʼn meer inklusiewe, volhoubare en veerkragtige toekoms.

Oor Akademia

Akademia is gestig in 2011 as ʼn Afrikaanse gemeenskapshoëronderwysinstelling om toegang tot tersiêre onderrig vir Afrikaansprekende studente te bevorder. Akademia onderskei haarself van ander hoëronderwysinstellings deur leergeleenthede en studenteondersteuning te bied deur middel van moderne tegnologiese stelsels. Akademia strewe daarna om onderrig van hoë gehalte én diepte te verskaf. Akademia is ʼn Christelike hoëronderwysinstelling wat ʼn leidende rol op ʼn oop en kritiese wyse in die kontemporêre universiteitstelsel speel. Akademia is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat Afrikaanse hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997. Vir meer inligting, klik hier.