Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus vertel oor haar studentereis

Gepubliseer op: 11 Januarie 2022

Geskryf deur Daniélle Kleyn, Akademia-alumnus in BCom (Ekonomie en Regte)

Ek het my studiereis in 2017 by die Akademia-studiesentrum in Somerset-Wes begin, waarna ek na die Lynnwood-sentrum in Pretoria oorgeskuif het. My drie groot passies was nog altyd die reg, besigheid en skryf. Die BCom (Ekonomie en Regte)-graad het my toegelaat om al drie hierdie passies gelyktydig uit te leef. Die nauurse onderrigleermodel, wat studente toelaat om te werk terwyl hul studeer, asook die feit dat jy in jou moedertaal kan studeer, het groot aantrekkingskrag gehad en het my op Akademia as my studietuiste laat besluit.

Om voldag te werk en heeldag op jou voete te wees en dan tot laat in die aand klas te draf was nie altyd maklik nie, maar met genoeg deursettingsvermoë, en uiters bekwame dosente (en energiedrankies!) het dit vinnig deel van my roetine geword.

In my drie jaar by Akademia het ek so baie wonderlike mense ontmoet, onder andere my mentor, Monique Visser (ʼn Akademia-dosent), wat vandag nog ʼn rol in my lewe speel. Ek was ook gelukkig om in my tweede en derde jaar op die studenteraad te dien in die kultuur- en ondervoorsitter-portefeuljes onderskeidelik. Bogenoemde het my toegelaat om my leierskapsvaardighede te slyp, liefdadigheidswerk te doen en aktief aan die studentelewe deel te neem. Akademia het my ook van baie geleenthede voorsien, en ek het die voorreg gehad om in 2018 die Vereniging van Regslui in Afrikaans se jaarlikse dinee saam met van my regsdosente by te woon en skouers te skuur met ander passievolle persone in die regsberoep.

Ek was deel van die eerste groep wat die BCom (Ekonomie en Regte)-kwalifikasie in 2019 by Akademia voltooi het, maar ons kon ongelukkig weens Covid-19 nie ʼn kwalifikasieplegtigheid hou nie. Ek is egter baie dankbaar dat ek Akademia gekies het as hoëronderwysinstelling, want die kennis wat ek in my graad opgedoen het, gebruik ek daagliks. Tans werk ek vir ʼn prokureur terwyl ek my LLB-graad by UNISA voltooi, en skryf ek ook deeltyds vir verskeie publikasies en besighede. My skryfwerk is al op verskeie platforms soos Sarie, The Baby Girl Club, en die Afrikaanse besigheidstydskrif Stigter geplaas. Ek is ook betrokke as vrywilliger by Silent Rights, ʼn organisasie sonder winsoogmerk, waar ek regsraad en ondersteuning gee aan slagoffers van huishoudelike geweld. So kombineer ek my passies vir die reg, besigheid en skryf.

My toekomsplan is om in die akademie in te beweeg en regte te doseer. Ek hoop ook om my LLM-graad en uiteindelik my LLD-graad te behaal. Dankie aan Akademia vir al die geleenthede wat julle vir my gebied het!

Daniélle Kleyn is ʼn Akademia-alumnus in BCom (Ekonomie en Regte) met ʼn groot passie vir die Suid-Afrikaanse reg.