Inligtingsessies en opedae

Search
Close this search box.

Wysheid en nuttige kennis

Gepubliseer op: 17 Januarie 2022

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Reeds vir eeue word oor die aard van teoretiese kennis en in die besonder oor wysheid nagedink. Vanaf ten minste die ou Griekse filosowe uit die Klassieke tydperk word gevra: Wat is die aard van wysheid? Waar kom wysheid vandaan? Watter soort kennis is wysheid? Wat kenmerk ʼn wyse mens? Nog meer, wat is die verskil tussen wysheid en nuttige kennis.

Ons gaan nie probeer om genoemde vrae te beantwoord nie. (Enigeen wat volledig daarop kan antwoord, moet self oor wysheid beskik!). Ons wil eerder net ʼn enkele gedagte oor die laaste van bogenoemde vrae opper: Wat is die verskil tussen wysheid en nuttige (of praktiese) kennis?

Tydens die afgelope dekades (sommige sal selfs sê tydens die afgelope eeu) fokus universiteite toenemend in hul onderrig op studente se verwerwing van nuttige kennis, handige inligting en selfs net bruikbare data. Universiteite, word aangevoer, moet hul studente met nuttige kennis toerus. Dit wil sê kennis wat studente uiteindelik in hul beroepslewe kan inspan, gebruik en toepas.

Nou, die verwerwing van praktiese en bruikbare kennis is vir universiteite belangrik. Trouens, universiteite sal hul verantwoordelikheid ontduik as hulle nie hul studente vir die praktiese wêreld van die beroepslewe voorberei nie. Bruikbare, nuttige en toepaslike kennis en inligting is daarvoor onontbeerlik.

Maar ʼn ongewilde saak moet hierby gevoeg word: Universiteite wat in hul onderrig slegs op praktiese en bruikbare kennis fokus, kom ook nie hul verantwoordelikheid jeens hul studente na nie. Maar waarom nie? Waarom is sodanige universiteite onverantwoordelik?

Dit is op hierdie punt dat ons slegs ʼn enkele opmerking oor teoretiese kennis (en in die besonder ʼn bepaalde vorm van teoretiese kennis, naamlik wysheid) moet maak. Universiteite het in die verlede ook klem geplaas op die belangrikheid van teoretiese insig en wysheid. Universiteite wat vandag in hul onderrig nalaat om dit te doen, is ook onverantwoordelik.

Waarom? Ons het begrip vir lesers wat met ongeduld op bogenoemde stelling reageer. Teoretiese kennis en in die besonder wysheid is (met die eerste oogopslag) inderdaad onprakties, onnuttig, selfs disfunksioneel. Hoe op dese aarde, kan met reg gevra word, word studente toegerus om die harde wêreld van die praktyk te hanteer as hulle geleer word om met hul kop in die wolke van teorie rond te loop?

So ʼn ongeduld is vandag verstaanbaar. Ons lewe immers in ʼn land wat beroepsgewys besondere uitdagings aan studente in die algemeen maar veral aan Afrikaner-studente stel. Ons studente moet inderdaad met die bes moontlike praktiese kennis toegerus word om dié uitdagings te hanteer.

Om op genoemde ongeduld te antwoord, moet slegs kortliks verwys word na wat ons die ‘paradoks van wysheid’ kan noem.

Met die eerste oogopslag is wysheid inderdaad onprakties, onnuttig en selfs disfunksioneel. Net soos wat dikwels beweer word. Een van die oudste stories uit die Griekse filosofie self dien ironies genoeg as bewys daarvoor. Dit is die bekende storie oor Thales die filosoof wat in ʼn gat geval het terwyl hy (om die storie effens te buig) besig was om so in die loop oor allerlei teoretiese kwessies te dink, te mymer en te bespiegel. Volgens die verhaal het die omstanders geskaterlag oor Thales se onpraktiese handeling.

Uit hierdie storie kan ʼn duidelike les afgelei word. Diegene wat na teoretiese insig en wysheid strewe, is onbeholpe, onprakties, en daarom ook selfs ʼn objek van bespotting.

Maar daar is ook ʼn ander kant wat vertel moet word. Dit hou juis met genoemde paradoks verband. In vele opsigte weerspreek dit die les van Thales. Ons kan dit so formuleer: Dit is so dat teoretiese kennis en in die besonder die ideaal van wysheid van praktiese kennis verskil. Ons kan wysheid omskryf as die vermoë om verbande raak te sien; om die groter prentjie te begryp; om insig te toon in die – soos filosowe dit soms kan formuleer – teoretiese beginsels ten grondslag van die werklikheid self (dit is ten grondslag van byvoorbeeld die fisika, die chemie, die letterkunde, die sielkunde, die geskiedenis, die politiek, ensovoorts).

Juis hierin is die paradoks van wysheid geleë. Alhoewel wysheid soos wat dit pas omskryf is oënskynlik niks met die praktiese wêreld te doen het nie, leer ons ervaring iets van die teendeel. Ervaring leer ons dat hoe sterker ons in teoretiese kennis begrond is; hoe meer ons die verbande en selfs die groter geheel kan raaksien; hoe sterker insig ons in ‘eerste beginsels’ toon; ensovoorts – des te beter vaar ons in die harde wêreld van die praktiese, die nuttige en die funksionele.

Uiteraard is daar uitsonderings op hierdie paradoks. Maar in den brede funksioneer ons in die harde praktyk beter wanneer ons goed teoreties onderlê is. Met goeie teorie, insig en wysheid is ons eenvoudig beter daartoe in staat om praktiese probleme raak te sien en met oplossings vorendag te kom. Kortom, met goeie akademiese begronding in teoretiese kennis vaar ons – en dit bewys navorsing – beter in ons werk en in die besonder in ons beroepslewe.

Ons sluit met ʼn opmerking wat reeds vroeër gemaak is: Universiteite wat op beide fokus – op sowel goeie prakties-nuttige kennis as goeie teoretiese begronding – kom hul verantwoordelikheid jeens studente die beste na.

Prof. Danie is die akademiese hoof van Akademia en ʼn kenner op die veld van universiteitswese.