Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Verdere opleiding en studies vir die mededingend voordeel

Gepubliseer op: 1 Desember 2021

Die feit dat jy ʼn Akademia-alumnus is beteken dat jy deel van 5,6% Suid-Afrikaners is wat ʼn basiese tersiêre kwalifikasie verwerf het. Ons wil jou weereens gelukwens met die prestasie en jou bedank dat jy ʼn trotse ambassadeur van Akademia is. Maar is dit genoeg in ʼn sterk mededingende samelewing en in die huidige ekonomiese omstandighede?

Volgens Statistiek Suid-Afrika staan die werkloosheidsyfer tans op 34,4% en individue wat werk soek tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar op 64,4%. Hierdie syfers dui aan dat indien jy moontlik aansoek doen vir ʼn pos, jy met baie aansoekers gaan meeding en daarom moet jy jouself van ander kandidate onderskei. Dit is belangrik om jouself in die werkgewer se skoene te plaas. Wie sal jy kies as twee persone dieselfde ervaring het, maar die een is hoër gekwalifiseerd as die ander? Of, wanneer jy as werkgewer afleggings moet doen, wie gaan jy laat gaan, die een met of sonder verdere studies en opleiding?

Dit is waar dat nie alle posisies wat jy beklee of gaan beklee, verdere studies of nagraadse kwalifikasies gaan vereis nie, maar wanneer prestasie-evaluering, bonusse of bevordering ter sprake is, kan dit ʼn spelwisselaar (game changer) wees. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum is die topdrievaardighede wat benodig word in die werkplek:

  • analitiese denke en innovasie,
  • aktiewe leer en leerstrategieë, en
  • komplekse probleemoplossing.

 

Dit is vaardighede waarna werkgewers in die veranderende wêreld van werk op soek is. Verdere studies en opleiding kan jou beter toerus om hierdie vaardighede aan te leer. Dit behels onder andere om oor spesifieke temas te lees, te skryf, bespekings te doen en probleme op te los. Dít bevorder jou vermoë om te kan analiseer en evalueer. Verder sal dit jou toerus om onafhanklik en gedissiplineerd te funksioneer omdat jy byvoorbeeld jou eie studieskedule moet bestuur, navorsing moet doen en by sperdatums moet hou. Dit is juis hierdie eienskappe wat jou gaan onderskei van die gemiddelde individu. Die opoffering is dalk nou groot, maar vir ʼn beter toekoms is dit die moeite werd.

Bestuurders en toesighouers moedig verdere studies aan omdat dit bevorderlik is vir die vooruitgang in die werksomgewing. So baat beide die werkplek en die individu by die nuutste neigings in die mark en tegnologie wat dit ondersteun. Werkgewers weet wat dit verg om verdere studies aan te pak en watter vaardighede en karaktertrekke mens benodig om dit suksesvol te voltooi. Dus heers daar ʼn mate van respek in die werkplek vir diegene met verdere studies en opleiding op hul kerfstok en wys dit dat jy jouself wil verbeter en onderskei.

Die feit dat daar ander mense is wat saam met jou inskryf vir verdere studies en opleiding, bied die geleentheid om te netwerk en jou kommunikasievaardighede op te skerp. Jy word blootgestel aan ander persone se sieninge en idees wat jou horisonne en kennis in ʼn bepaalde veld verbreed. Dit skep vir jou ʼn veilige omgewing om nuwe idees te deel en oop debatte te voer. So bou jy jou selfvertroue om in die werkplek ook jou opinie te kan gee wat beter begrond is as voorheen.

Verdere studies kan jou bewus maak van ander onderwerpe, studierigtings of beroepe wat jy nooit andersins sou oorweeg het nie. In die proses leer jy ook meer van jouself en ontwikkel jou menswees om op ʼn hoër vlak uitsette te lewer as die gemiddelde kollega.

Lewenslange leer moet deel van jou DNS vorm. Al begin jy nie nou dadelik met verdere studies nie, wil ons jou aanmoedig om jouself te verryk. Skryf vir ʼn kortkursus in, woon konferensies by, skakel by aanlyn gesprekke/besprekings in, of lees net om op hoogte te bly van wat in jou belangstellingveld gebeur. Daar is ʼn spreekwoord wat lui: “Die wetende eet die onwetende” – bly altyd meer ingelig as die persoon langs jou sodat jy ʼn mededingende voordeel kan hê.

Indien jy wel gereed is vir verdere studies en opleiding, kan jy gaan loer na wat Akademia jou kan bied. Hiermee ʼn paar voorbeelde:

  • Met ʼn hoërsertifikaatkwalifikasie kan jy moontlik toegang kry tot die graadkwalifikasies.
  • Met ʼn graadkwalifikasies kan jy moontlik toegang kry tot die nagraadse diplomas: Nagraadse Onderwyssertifikaat en Gevorderde Diploma in Projekbestuur. Jy is ook welkom om aansoek te doen vir honneursgrade by ander instellings totdat Akademia haar aanbod uitbrei na honneurs-, meesters- en doktorsgrade.

 

Met die bogenoemde inligting en motivering hoop ons dat jy verdere studies en opleiding sal oorweeg om jouself te verryk en te onderskei.

Elize-Mari Coetzer
Departementshoof: Bestuurswetenskappe