Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Jy verdien ʼn blaaskans hierdie Desember

Gepubliseer op: 1 Desember 2021

Voel jou koppie ook hierdie tyd van die jaar halfleeg en voel jy uitgeput ná die jaar se harde werk? Dit is heeltemal normaal om so te voel nadat die jaar sy tol geëis het. Al die spanning, harde werk en gejaag van die lewe haal ʼn mens in. Dit is nie volhoubaar om teen dieselfde tempo aan te gaan sonder om ʼn oomblik stil te staan en weer jou asem terug te kry nie. Dink maar net aan ʼn landloopatleet of iemand wat die Comrades-maraton hardloop; een of ander tyd moet daar ʼn eindstreep wees waar die atleet kan ophou hardloop, herstel en herlaai voordat hy/sy weer die volgende wedloop aandurf.

Dieselfde geld vir die wedloop van die lewe. Ons kan nie bloot aangaan sonder om êrens langs die pad stil te staan en weer asem te skep nie. Daarom is dit so nodig om ʼn behoorlike ruskans te neem gedurende die Kersseisoen. Jy moet vir jouself die geleentheid gee om uit te rus en jou koppie weer vol te tap, sodat jy die nuwe jaar met nuwe krag, energie en moed kan aanpak.

Wanneer ʼn saag stomp is, is die impak minder en vat dit soveel langer om ʼn boom te saag. Dit is daarom belangrik om tyd te neem om die lem skerp te maak, sodat mens makliker, vinniger en meer effektief by die einddoel kan uitkom. Net so is dit ook belangrik om na jouself te kyk en tyd te neem om jou energie weer op te bou (of jou eie lem weer skerp te maak). Sodoende kan jy weer voluit gaan, meer produktief wees en as ʼn gesonde mens aanhou hardloop.

Die lewe is te kort om net op ernstige dinge te fokus. Gun jouself daarom ʼn lekker lang vakansie, lees ʼn boek of doen daardie dinge waarvoor jy nooit tyd kry nie. Skop die skoene uit, voel die seesand tussen jou tone en geniet daardie tweede roomys. Hoekom? Want jy verdien dit!

Michelle van Niekerk is die studenteondersteuningskoördineerder by Akademia.