Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Kenner in kreatiwiteit gee raad aan Akademia-alumni

Gepubliseer op: 30 Nobember 2021

Kobus Neethling, een van die wêreld se grootste kenners in die veld van kreatiwiteit, deel vier praktiese wenke aan alumni om meer kreatief te raak. Neethling het al meer as 90 boeke geskryf, verskeie konferensies gereël en het selfs al met verskillende sportspanne gewerk aan hul kreatiwiteit. Hy is ook die stigter van die Suid-Afrikaanse Kreatiwiteitstigting en het ook tydens oudpresident Nelson Mandela se bewind vir sy personeel opleiding gegee.

Neethling noem dat kreatiwiteit nie ʼn vaste definisie het nie, aangesien kreatiwiteit juis sonder ʼn vaste raamwerk moet wees. Bill Gates het egter kreatiwiteit beskryf as “die kuns van konneksie”, wat volgens Neethling beteken dat ʼn kreatiewe mens enige iets met enige iets anders kan verbind en dat dit presies is hoe nuwe dinge geskep word. Dus het jy geen verskoning nie. Dit is ʼn eienskap wat jy self kan aanwakker of verder ontwikkel.

Hy reken dat kreatiwiteit altyd aangeleer en verbeter kan word en dat dit ʼn gawe is wat nie verdwyn nie, maar aanhou ontwikkel moet word. “Wanneer jy aan vaardighede soos oorspronklikheid, buigbaarheid en positiwiteit bou en skaaf, sal jy al hoe meer kreatief word,” vertel hy. By die Kobus Neethling Instituut kan persone ʼn kursus neem om tegnieke aan te leer deur aktiwiteite te voltooi wat jou kreatiwiteit opskerp.

Kreatiwiteit, volgens Neethling, bied aan ondernemings ʼn mededingende voordeel. Neethling noem dat sakeondernemings kreatiewe werknemers moet aanstel om te keer dat hulle besigheid stagneer. Hy verduidelik verder dat ʼn besigheid en sy werknemers altyd moet vernuwe om ʼn voorloper in die veld te kan wees. “Jy kan baie goeie boekkennis en ander vaardighede hê, maar indien jy nie kreatief is nie, is jy net so goed soos jou mededinger,” meen hy.

Deur dié vier maklike stappe te volg, kan jy self jou kreatiwiteit bevorder.

Wenk een: Kry en wees ʼn mentor

Een van Neethling se grootste mentors was Paul Torrence, bekende Amerikaanse sielkundige wat ook in kreatiwiteit gespesialiseer het. Hy noem dat dit baie belangrik is om ʼn mentor te wees en ook om ʼn mentor in die werkplek te hê. Om suksesvol te wees, moet jy passie, moed en die nodige energie hê om jou take aan te pak. Dit is daarom belangrik om ʼn mentor te identifiseer wat jou hiermee kan help. “Jy het iemand nodig wat jy vertrou en vir wie jy kan bel wanneer jy vrae of onsekerhede het. Kies iemand wat positiewe denke het, wat daarna streef om positief beter te wees en wat jou inspireer om beter en meer te wees.”

Wenk twee: Wees positief

Om ʼn positiewe ingesteldheid te kweek, is dit volgens Neethling belangrik om positief te dink en jouself met mense te omring wat positiwiteit in jou lewe inbring. “Verander jou mentaliteit en soek geleenthede in en om jou. Moenie iets as ʼn probleem sien nie, maar eerder as ʼn uitdaging wat met moontlikhede oorkom kan word,” sê hy.

Wenk drie: Doen dinge anders as gewoonlik

Sy raad om uit die boks te begin dink, is om doodeenvoudig jou roetine te breek. Hy vertel dat as jy nie gereeld klein veranderinge in jou roetine maak nie, jy maklik kan stagneer in die lewe.

Wenk vier: Hou aan leer

Neethling sluit af met die raad aan alumni om nooit op te hou leer nie: “Kennis wat jy betekenisvol aanwend is mag. Jy moet aanhou studeer om vir jou ʼn hupstoot te gee vir more, om ʼn toekoms te kan skep.”

Nou ja, daar het jy dit nou! As jy hierdie wenke in jou lewe toepas, sal jy beslis jou kreatiwiteit kan opskerp.

Kobus Neethling, Suid-Afrika se grootste spesialis op die gebied van kreatiwiteit, deel sy advies aan studente om kreatiwiteit aan te wakker.