Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Nagraadse Onderwyssertifikaat die sleutel tot my beroepsvervulling – Akademia-student

Gepubliseer op: 5 Maart 2024

Die 2024-skooljaar is in volle swang en dwarsoor die land is onderwysers hard aan die werk. Een só ʼn onderwyser is Alessandro Casaleggio (31), wat 2023 op ʼn hoë noot afgesluit het deur ʼn Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en Verdere Onderwys en Opleiding-onderwys)-program aan Akademia te voltooi. Dié program, wat via Akademia se nauurse afstandsmodel aangebied word, staan in kort as NGOS bekend, en bied aan gegradueerdes die geleentheid om hulself in die opvoedkundige werkplek te vestig.

Casaleggio is reeds vir sewe jaar betrokke in die onderwys en is tans werksaam by Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging. Hy meen dat dié loopaankeuse vir hom soveel méér as net ʼn dagtaak en ʼn salaris aan die einde van die maand beteken, en dat hy homself gelukkig ag om elke dag sy passie te kan uitleef. “Ek het ʼn BA-graad in Kommunikasie en Tale, en het nooit gedink dat ek in die onderwyssektor sou beland nie, maar nadat ek in 2016 in ʼn aflosonderwyspos uitgehelp het, is ek daarvan oortuig dat ek my roeping gevind het,” sê Casaleggio.

Hy vertel dat hy reeds sedert 2020 daarvan gedroom het om ʼn nagraadse onderwysprogram aan te pak, maar dat die koronaviruspandemie ʼn tydelike stokkie voor dié doelwit gesteek het. Casaleggio het in November 2021 vir NGOS by Akademia aansoek gedoen, en het gevolglik dié program oor ʼn tydperk van twee jaar voltooi.

“Die feit dat ek my studie in Afrikaans kon aanpak was vir my ʼn groot trekpleister, maar ek was veral beïndruk met die instelling se puik administratiewe diens,” vertel Casaleggio en voeg by dat elke navraag spoedig en effektief beantwoord is. Die aansoek- en gevolglike registrasieproses het ook naatloos verloop. “As ek nou terugkyk oor die afgelope twee jaar, kan ek heelhartig getuig van die kundigheid en behulpsaamheid van Akademia se personeelkorps. Ek lig veral my hoed vir die personeel van die Fakulteit Opvoedkunde, en in besonder dr. Annelise de Vries en dr. Maretha Steyn,” sê Casaleggio.

Hy erken dat dit soms uitdagend was om voltyds te werk en te studeer, maar dat hy nie vir ʼn oomblik spyt is oor dié belegging in sy professionele mondering nie. Dit is juis hierdie belegging wat hom help om die wanpersepsie rondom die onderwysberoep weer te lê. “Daar is steeds mense wat die onderwys as ʼn maklike of sagte studierigting beskou – iets wat nie verder van die werklikheid af verwyderd kan wees nie! Onderwys is ʼn roepingstaak wat nie net met groot omsigtigheid gepaard gaan nie, maar ook met visie, passie en bowenal, hoop.” Casaleggio gaan voort deur te sê dat alhoewel onderwys nie vir almal beskore is nie, dit vir “hart-en-siel-onderwysers” ʼn vervullende beroep is en dat hy danksy die NGOS-program deel van dié groep kan wees.

As dit kom by toekomsdrome, is Casaleggio opgewonde oor die vooruitsig om homself steeds verder te bekwaam ten einde homself in die hoedanigheid van ʼn vakhoof, departementshoof en uiteindelik ʼn skoolhoof te kan vestig. “Akademia het my gehelp om my onderwysvlerke te sprei, en ek beveel dié hoëronderwysinstelling aan vir enige gegradueerde wat daarvan droom om te help vorm aan die toekoms van ons land se jong mense,” sluit Casaleggio af.

Alessandro Casaleggio meen onderwys is sy lewensroeping. Hy het verlede jaar die NGOS-program, aan Akademia voltooi.