Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Rus 2024-matriekgroep toe met méér as net tradisionele leerpraktyke

Gepubliseer op: 29 Februarie 2024

Geskryf deur Moreen Coetzee, ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, en Celeste Labuschagne, ʼn vakspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Die nuus dat die matriekgroep van 2023 die beste slaagsyfer sedert 1995 behaal het is nog vars in almal se geheue, méér nog vir vanjaar se matrikulante wat sal poog om dié prestasie te verbeter. Wanneer daar noukeurig gekyk word na die 82,9%-slaagsyfer is ʼn ongewone patroon egter bespeurbaar, naamlik ʼn verbeterde prestasie in Fisiese Wetenskap met ʼn gepaardgaande verswakking in Wiskunde.

Hierdie ongewone patroon, wat veral in KwaZulu-Natal en Mpumalange duidelik na vore tree, veroorsaak ʼn ongemaklikheid en plaas die klem opnuut op gehalteversekeringsprosesse. Die vraag word tereg gevra: Watter waarde word gekoppel aan billike assesseringspraktyke en die geloofwaardigheid van die resultate?

Ten spyte van die versekering van dr. Mafu Rakometsi, die uitvoerende hoof van Umalusi (die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding), dat die gehalte van die eksamenproses die hoogste moontlike prioriteit geniet, erken hy self  dat daar in 2023 ernstige uitdagings was. Hierdie uitdagings sluit onder meer in: ongeakkrediteerde eksamensentums, vraestelle vol drukfoute, en swak vertalings van eksamenvraestelle. In KwaZulu-Natal en Mpumalanga waar ʼn skielike oplewing in Fisiese Wetenskap en Wiskunde met groot fanfare aangekondig is, was 945 kandidate betrokke by die groepkopiëring van die NSS, met onderskeidelik 763 en 164 kandidate wat van oneerlikheid beskuldig is. Hierteenoor meen prof. Yunus Ballin, voorsitter van die Umalusi-raad, dat die NSS die spreekwoordelike seël van goedkeuring, ten opsigte van gehalteversekering en integriteit, dra. Ter voorbereiding van die 2024-eindeksamen sal die raad egter ʼn verbeteringsplan ter tafel lê om die wederkerige uitdagings – soos druk- en verpakkingsfoute en die voordurende opduiking van groepkopiëring die hoof te bied.

Maar wat moet daar intussen gedoen word?

Daar moenie vir ʼn oomblik uit die oog verloor word dat die matriekeindeksamen billik én regverdig moet wees nie. Die vraestelle moet ook ʼn ware weerspiëling van die kurrikuluminhoud wees. In die lig hiervan, en vanuit ʼn akademiese perspektief, speel onderwysers ʼn kardinale rol, veral ten opsigte van die suksesvolle voorbereiding van matrikulante vir die eindeksamen. Die uitdaging lê daarin dat baie onderwysers in praktyk reeds vanaf hul eerste kontaksessie met hul matrikulante op sistemiese afrigting fokus. Hierdie fokus het dit egter slegs ten doel om matrikulante toe te rus om die eindeksamenvraestelle te kan beantwoord en nié om deeglike begrip en konseptualisering te bevorder nie. Laasgenoemde is veral belangrik in vakgebiede soos wiskunde en wetenskap.

Faktore wat ʼn rol speel in gehalte onderrig-en-leerpraktyke sluit onder meer in: die skoolomgewing, klaskamerpraktyke, en die kognitiewe vermoëns van leerders. Binne hierdie raamwerk verteenwoordig klaskamerpraktyke die hoeksteen van betekenisvolle onderrig-en-leerpraktyke. Die navorsing van Jean Piaget dui aan dat kennis en leer bevorder word deur ervaring, interaksie, en deur bestaande kennis te bevraagteken. Hierdie leergesentreerde onderwyspraktyk, wat as konstruktivisme bekend staan, word ontsluit waneer leerders begin om hulself by wyse van eksperimente en redenering met vakinhoude besig te hou.

In leerdergesentreerde klaskamers bly die onderwyser die gesagsfiguur, maar weerhou hom-/haarself daarvan om bloot op ʼn direkte en tradisionele manier kennis aan leerders oor te dra. Op hul beurt speel leerders ʼn aktiewe rol in die leerproses by wyse van eksperimentering, navorsing en probleemoplossing. Kennisvaslegging wat op hierdie maniere plaasvind spreek tot outentieke leer en dien as die bloudruk van konstruktivistiese onderrig-en-leerpraktyke. Die kenmerke van diesulke leerpraktyke sluit in:

  • Leer as ʼn aktiewe proses van ontdekking.
  • Leer veronderstel ʼn kognitiewe proses.
  • Leer hou direk verband met taal.
  • Leer is ʼn sosiale aktwiteit en vind nie in isolasie plaas nie.
  • Leer is kontekstueel en vind voortdurend plaas.
  • Leer vind effektief plaas wanneer bestaande kennis op ʼn dinamiese wyse aangevul word.
  • Leer is nie oombliklik nie en vind oor ʼn tydperk plaas.
  • Leer word deur motivering gestimuleer.

Ten spyte van die uitdagings wat jaar ná jaar met die matriekeindeksamen gepaard gaan, en die voortdurende strewe na verbeterde gehalteversekeringsprosesse, bly die rol van die onderwyser, as ʼn primêre leerfasiliteerder, baie belangrik. Om dié rede moet onderwyspraktyke in die klaskamer dinamies en outentiek van aard wees. Die dae van sistematiese eenrigting-onderrig-en-leerpraktyke is verby. Mag vanjaar se matriekgroep baat vind by verligte onderwyspraktyke wat hul toerus met die nodige kognitiewe vaardighede, ʼn gesonde sin van nuuskierigheid en die vermoë om ʼn lewe van voortdurende leer en toekomsukses na te streef.

Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde, meen konstruktiewe leerpraktyke sal matrikulante effektief vir die eindeksamen toe rus.