Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Studenteregsimposium: Meesters in die reg bied beroepsgerigte leiding

Gepubliseer op: 28 Februarie 2024

Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid het, in samewerking met die Solidariteit Regsnetwerk, op Saterdag 24 Februarie 2023 by die Leriba-kampus ʼn studentesimposium en netwerkgeleentheid aangebied. Dié simposium, het deel uitgemaak van die fakulteit se regsvaardighedeprojek, en het dit ten doel gehad om studente, in samehang met die teorie, aan die werklikhede van die praktyk bloot te stel. Tydens hierdie geleentheid het regspraktisyns tersaaklike onderwerpe met studente bespreek, terwyl regsvaardighede prakties geslyp is, waardevolle inligting gedeel is en professionele netwerke gevorm en uitgebrei is.

Bewese regslui van so ver as Rotterdam in Nederland het studente oor hul onderskeie spesialisregsvelde toegespreek. Hierdie sprekers het ingesluit: Dawid Beyers (besigheidsregspesialis), Andries Stander (spesialislitigant), Ruan Wepener (kandidaatprokureur) en dr. Llewelyn Curlewis (strafregkenner).

Volgens prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, is netwerkgeleenthede soos die regsimposium uiters waardevol vir studente en praktisyns. “Netwerke bied aan studente die geleentheid om deel te word van die groter regsgemeenskap, terwyl dit ook voordele soos mentorskap, verbeterde kollegialiteit en vriendskap tot gevolg kan hê.” Sy voeg by dat die netwerke wat ʼn student nou bou die grondslag vir toekomstige gemeenskappe verteenwoordig. Elk van die sprekers was dit eens dat studente reeds van die begin van hul studie af erns moet maak met hul voorsiende toekoms en rol in die regsgemeenskap. Aspekte wat aangeraak is sluit onder meer in die belangrikheid van veeltaligheid (veral in terme van internasionale regspleging), die verskillende spesialisrigtings binne die regswese, geskilbeslegting, die regulering van die regspraktyk en die proses wat gevolg moet word om as ʼn kandidaatprokureur te registreer.

ʼn Paneelgesprek oor die rol van ʼn regsgeleerde in die gemeenskap is deur Sarita Gerber (programkoördineerder: LLB) gefasiliteer terwyl Zandri van der Westhuizen (deeltydse dosent: Privaat- en Handelsreg) en dr. Alex Politis (dosent: Privaat- en Handelsreg) dit aan studente gestel het dat ʼn beroep in die regte as ʼn roepingstaak gesien moet word.

Twee praktiese werkswinkels het die klem voorts op navorsing- en skryfvaardighede sowel as litigasietegnieke geplaas. Dié werkswinkels is onderskeidelik deur Coetzee, Natasha Venter (dosent: Publiek- en Prosesreg), dr. Willem Gravett (departementshoof: Publiek- en Prosesreg) en Politis aangebied.

Riaan Visser, hoof van Solidariteit se Regsnetwerk, het dié netwerk se splinternuwe slypskool aan studente bekend gestel. Hierdie slypskool het dit ten doel om regstudente meer praktykgereed te maak en só die gaping tussen akademie en die praktyk te oorbrug. Die slypskool is aanlyn beskikbaar en die modules fokus daarop om studente en kandidaatprokureurs in staat te stel om ʼn mededingende voordeel tot die beroep te ontvang en om waarde tot die praktyk toe te voeg deur meer beroepsgereed te wees.

Die volgende modules word by wyse van die slypskool aangebied: kernbeginsels en verhoudinge, hofadministrasie en praktykbestuur, konsultasietegnieke en saakanalise, skryfvermoë en goue reëls, asook etiek. Meesters in die regsberoep het dié slypskool saamgestel.

Studente van oraloor het die simposium bygewoon.
Prof. Hermie Coetzee, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, het studente aangemoedig om van elke geleentheid moontlik gebruik te maak om hul vaardighede te verskerp.

Tydens die paneelgesprek het Sarita Gerber, Zandri van der Westhuizen en dr. Alex Politis – dosente in Privaat- en Handelsreg, oor die rol van regspraktisyns in die gemeenskap besin.
Akademia-student, Ruan Wepener, het die LLB-program aan die einde van 2023 voltooi en het sy ervaring as ʼn kandidaatprokureur met die studente gedeel.