Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Waak só teen werksoekslenters – Akademia-kenner gee raad

Gepubliseer op: 5 Maart 2024

Die wêreld van werk verander voortdurend en daarom is dit belangrik om tred te hou met die nuutste tendense ook wat die werksoekproses behels. In die verlede moes werksoekers self by die werkplek van hul keuse aandoen om ʼn CV af te lewer, vandag doen jy dit sommer vanuit die gerief van jou leefvertrek. Méér nog, jy hoef nie net by formele werksoekwebtuistes aan te klop nie, sosialemediaplatforms bied ook verskeie opsies aan werksoekers. In die lig hiervan maan *Morné Venter, ʼn dosent in Bestuurswetenskappe by Akademia, egter dat werksoekers op hul hoede moet wees vir werksoekslenters.

Volgens Venter is daar veral twee aspekte wat vorm gee aan hoe die arbeidsmark vandag daaruit sien, naamlik: pandemie en globalisering. Hy verduidelik dat die aanbreek van die Covid-19-pandemie die rigting waarheen die arbeidsmag op pad was, drasties vervroeg het. Die gevolg hiervan is dat tendense soos virtuele spanne en geïntegreerde werkspasies gouer as wat verwag is gerealiseer het. Hiermee saam het die werksoekproses ook verander en moes almal betrokke (werkgewers én werksoekers) aanpas by wat beskryf word as die sogenaamde “nuwe normaal”. Binne hierdie werklikheid speel tegnologie en die internet ʼn bepalende rol.

Venter is van mening dat hierdie vervroegde migrasie na nuwe tegnologie en die internet baie geleenthede vir werksoekers inhou, naamlik:

  • Aansoekers van dwarsoor die wêreld geniet nou makliker toegang tot beskikbare poste omdat aansoeke nie meer via geregistreerde pos gestuur word nie. In hierdie opsig vergroot die internet die talentpoel en kan werkgewers beter aanstellings maak. Die onderhoudsproses word ook aansienlik vergemaklik deur aanlyn platforms soos Microsoft Teams en Zoom.
  • Terugvoer ná afloop van ʼn onderhoud geskied nou baie vinniger en die aanstellingsproses word bespoedig.
  • Die werksoekproses is in geheel minder tydrowend. Werksoekportale soos byvoorbeeld PNet, Careers24 en Solidariteit se aanlyn werksgemeenskap dra by tot ʼn meer effektiewe siftingsproses en werkgewers hoef nie meer deur honderde aansoeke te werk om ʼn kandidaatlys op te stel nie.

Die ander kant van dié werksoekmuntstuk is egter dat werksoekers hulself deeglik moet vergewis van die aard en vereistes wat die internet in terme van werwing stel. Venter meen aansoekers moet tegnologievaardig wees, ten spyte daarvan dat baie werksoekportale so verbruikersvriendelik as moontlik aangebied word. In Suid-Afrika verteenwoordig beurtkrag voorts ʼn wesenlike uitdaging omdat dit kan inmeng met die aanlyn opstel van ʼn aanlyn CV of selfs ʼn onderhoud in die wiele kan ry. Hy voorspel verder dat die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in die nabye toekoms ʼn nuwe en onbekende dimensie tot die werksoekproses sal bring.

Venter sê werksoekers moet op hul hoede wees vir kuberskurke en kansvatters. Volgens hom vereis die Wet op Indiensnemingsdienste (nommer 4 van 2014), wat in Augustus 2015 in werking getree het, dat alle werwingsagentskappe by die Departement van Arbeid geregistreer moet wees. Hierdie wetgewing is juis in plek gestel om werksoekers te beskerm teen uitbuiting. Laasgenoemde is volgens Venter ʼn hartseer realiteit gegewe die nasionale werkloosheidsyfer van omtrent 36% en het tot gevolg dat desperate werksoekers enige werksaanbieding, ongeag die geldigheid daarvan, sal aanvaar. Hy noem gevolglik dat werwingsagentskappe hulself ook by APSO (Federation of African Professional Staffing Organisations) – die grootste professionele liggaam vir diesulke agentskappe in die land, kan skaar.

Die volgende wenke kan werksoekers met die werksoekproses help:

  • Onthou, die goue reël: as iets té goed is om waar te wees, is dit waarskynlik die geval.
  • Doen deeglike navorsing oor die maatskappy waar jy aansoek doen, asook die werwingsagtentskap wat gebruik word.
  • Vra die belangrike vrae. Dit sluit byvoorbeeld in: “Is hierdie ʼn nuwe pos of ʼn bestaande pos?” Indien dit ʼn nuwe pos is, kan dit ʼn aanduiding van groei wees. Dan kan jy opvolg met ʼn vraag soos “Watter groeimoontlikhede is daar vir my?”. Indien dit ʼn bestaande pos is, vra waarom die vorige werknemer bedank het. Dit kan dui op uitdagings soos werkspanning en onvoldoende vergoeding.
  • Indien die onderhoudvoerder onprofessioneel voorkom, is dit ʼn teken dat alles dalk nie pluis is nie. Dit kan byvoorbeeld insluit die voortdurende herskedulering van jou onderhoud, onvanpaste aanmerkings of dat hy/sy ander personeellede met jou bespreek. Wees ook op jou hoede as iemand ʼn onderhoud via e-pos of selfs ʼn SMS voorstel, óf dit stel dat ʼn onderhoud nie nodig is nie.
  • Werwers mag jou nie vra om ʼn fooi vooraf te betaal nie.
  • Let op die e-posadres van die personeelwerwer. Stem dit ooreen met dié van die werkgewer se webblad-domein? Indien dit nié ooreenstem nie, doen verdere ondersoek.
  • Moenie meer persoonlike inligting verskaf, as wat relevant is tot die pos waarvoor jy aansoek doen nie. Dit is byvoorbeeld nie nodig om jou kredietkaartbesonderhede te verskaf nie.

Venter sluit af deur te sê dat werksoekers die werksoekproses met ʼn oopkop moet benader. Om ʼn werk te kry en om die regte werk te kry, is twee heeltemal verskillende dinge. As jy suksesvol wil wees in jou soektog na werk, moet jy daarop fokus om die regte werk te kry. Neem genoeg tyd en berei jouself goed voor.

* Venter spesialiseer in Menslike Hulpbronbestuur en Arbeidsverhoudinge.

Morné Venter, ʼn dosent in Bestuurswetenskappe, meen die aanlyn werwingswêreld vergemaklik die werksoekproses. Hy maan werksoekers egter om versigtig te wees vir werksoekslenters.