Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Wetenskap en moedertaal: Só word kennis en begrip vervleg

Gepubliseer op: 8 Maart 2024

Geskryf deur Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Moedertaalonderrig – veral in die Suid-Afrikaanse konteks, bly ʼn punt van bespreking. Die noodsaaklikheid daarvan word verder op die spits gedryf ná die bekendmaking van die 2030-Leespaneel-verslag wat vroeër uitgereik is. Aldus dié verslag kan altesaam 82% van plaaslike graad 4-leerders nie met begrip lees nie.

In die lig van dié skokstatistiek en die belangrikheid van skoolvakke soos Wiskunde en Wetenskap, moet daar ernstig besin word oor die waarde van taalvaardighede in die wetenskapsklaskamer. Myns insiens is elke wetenskapsles ook in wese ʼn taalles. Op die keper beskou omvat die wetenskap ʼn unieke taal, wat baie spesifieke lees, skryf en verbale kommunikasievaardighede, asook visuele geletterdheid vereis.

Die Deense fisikus en Nobelpryswenner, Niels Bohr, bepleit die waardevolle rol van taal in die wetenskapsleerproses. Volgens Bohr word begrip deur taal gefasiliteer en moet die inhoud van wiskunde en wetenskap nie in isolasie beskou word nie. In kort: Begrip van dié velde vereis méér as net die kennis van wiskundige formules en teorieë. Trouens, ontoereikende taalvermoë beperk nie net begripsvorming nie, maar ook kreatiwiteit.

Die tradisionele siening van taal in die wetenskapsklaskamer – as ʼn blote voertuig waardeur inligting vanaf ʼn sender (onderwyser) na ʼn ontvanger (leerder) oorgedra word, moet gevolglik as ʼn saak van dringendheid hersien word. Taalkundiges self wys ook op die ontoereikendheid van hierdie tradisionele standpunt. Dit is duidelik dat die leerder net so aktief soos die onderwyser moet wees om die inhoud van die boodskap uit te brei en te konseptualiseer. Betekenis wat in die wetenskapklaskamer ontsluit word kan nie deur taal geskei word van ons bestaande en bewese kennis van die wêreld nie. Om dié rede is die taal- en kommunikasievaardighede van die wetenskapklaskamer fyn verweef met die unieke taal van die wetenskap. Hierdie vaardighede moet op ʼn relevante, nuttige en toepaslike wyse ontwikkel en gebruik word ten voordeel en uitbouing van:

  • Verbale kommunikasievaardighede
  • Leesvaardighede
  • Skryfvaardighede
  • Visuele geletterdheid (semiotiek)

Ongeag die vele perspektiewe, opinies en oortuigings rakende moedertaalonderrig, bly dit ʼn netelige kwessie binne die ryke Suid-Afrikaanse taallandskap. In vele opsigte verteenwoordig moedertaalonderrig ʼn brandpunt waaroor daar nog nie ʼn omvattende antwoord is nie. Aan die een kant beskerm die Grondwet die reg van leerders om onderrig- en leerpraktyke in die taal van hul keuse te ontvang. Die ander kant van dié muntstuk is egter dat die onderwyssektor daadwerklike uitdagings in die gesig staar as dit by die implementering van dié vryheid kom.

ʼn Paar praktiese probleme wat hierdie ideaal in die gesig staar sluit onder andere in:

  • Die Nasionale Hersiene Kurrikulumverklaring (NHKV) is hoofsaaklik slegs beskikbaar in Afrikaans en Engels. Geen voorsiening word gemaak vir enge van die ander amptelike landstale nie.
  • Akademiese opleiding van onderwysers geskied in óf Afrikaans óf Engels.
  • Toegang tot handboeke, ondersteuningsmateriaal, onderrighulpmiddels, gidse en literatuur in tale uitsluitend Afrikaans en Engels is beperk.

Die realiteit is dat ʼn enkele taal, soos byvoorbeeld Engels, dikwels as die gekose taal van onderrig beskou word. Hierdie eendimensionele taalomgewing bied vele uitdagings aan leerders én onderwysers in die wetenskapsklas. Voorbeelde hiervan is ʼn verlies van begrip, verwarring, misverstande en die inperking wat kognitiewe taalvaardighede. Laasgenoemde speel ʼn belangrike rol in ʼn leerder se voorbereiding vir hoër onderwys en later sy/haar optimale funksionering binne ʼn gesofistikeerde werksomgewing.

Gegewe die struikelblokke wat onderwysers in die gesig staar as dit kom by die suksesvolle implementering van moedertaalonderrig in die klaskamer, is dit belangrik om te verhoed dat leerders nie in die proses as gevolg van taal benadeel word nie.

Ten einde begrip en konseptualisering in die wetenskapklaskamer te bevorder, moet die leerders toegerus word deur die voortdurende ontwikkeling en versterking van die onderwyser se sosiale vaardighede te benadruk.

Onderwysers moet oor die vermoë beskik om kennis op ʼn praktiese wyse oor te dra sodat die konseptualisering van abstrakte konsepte en beginsels effektief en suksesvol kan plaasvind. Hierdie sinvolle vaslegging van begrip dra uiteindelik by tot impakvolle onderrig-en-leerpraktyke. Terselfdertyd verbeter sosiale bewustheid nie net ʼn onderwyser se probleemoplossingsvermoë nie, maar dit stel hom/haar ook in staat om leerders se gedrag en gevoelens beter te verstaan.

Die belangrikheid van nieverbale kommunikasie moet egter ook nie buite berekening gelaat word nie. Dit moet byvoorbeeld ingesluit word in ʼn praktiese kurrikulum as ʼn manier om konseptualisering en leerderprestasie te verseker – veral in gevalle waar leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie.

Uitnemende onderwysers is onderwysers wat by uitstek oor goeie verbale kommunikasievaardighede beskik en wat gevolglik goeie lees- en skryfvaardighede aan die dag lê én ʼn visuele ingesteldheid toon. Diesulke onderwysers beskik voorts oor die vermoë om hul vaktaal op ʼn logiese wyse te organiseer wat konstruktiewe leer bevorder. In die wetenskapsklas beteken dit dat só ʼn onderwyser, ongeag die taal van onderrig, in staat is om:

  • Inligting op ʼn duidelike en verstaanbare manier oor te dra.
  • Leerders bystaan om hul idees in woorde én op ʼn logiese wyse weer te gee.
  • Voortdurend hul leerders te motiveer om hul lees- en skryfvaardighede asook hul verbale kommunikasievaardighede verder te ontwikkel.
  • Visuele geletterdheid aanwakker deur die gebruik van gepaste analogieë om wetenskapsprestasie te verhoog.

Onderwysers se taalvermoëns moet as die bloudruk van opvoedkundige sukses beskou word en as sodanig moet daar voortdurend daarna gestreef word om betekenisvolle onderrig-en-leer praktyke te skep.

Daar behoort opnuut stukrag gegee te word aan die uitbreiding van Sintutale (ook genoem Afrikatale) as onderrigtaal. In die wetenskapsklas sal hierdie uitbreiding nie net tot ʼn verdere ontsluiting van wetenskaplike feite en teorieë lei nie, maar leerders ook toerus met ʼn beter begrip van hul onderskeie konsepsuele ruimtes.

Moreen Coetzee, ʼn dosent verbonde aan die Fakulteit Opvoedkunde, meen daar is ʼn nou verband tussen taal en wetenskapsonderrig.