Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Bobaasbakker, Zané: Só befonds ek self my studie

Gepubliseer op: 12 Maart 2024

Akademia-student, Zané Bekker (21) van Roodepoort in Gauteng, is op haar gelukkigste in die kombuis met haar voorskoot aan, maatkoppies in die hand en die reuk van varsgebakte koekies wat in die lug hang. Vir dié tweedejaarstudent, wat die BCom (Ondernemingsbestuur)-program via die nauurse afstandsmodel volg, is koekbak méér as net ʼn stokperdjie. Elke baksel is ʼn hartsaak.

Bekker is ʼn bewese entrepreneur en haar tuisnywerheid, Something Nice, sal in April vanjaar sy vierde bestaansjaar vier. Sy vertel dat sy haar voorliefde vir bak van haar ouma, Poppie, geërf het. Dié het haar nie net die geheim van haar soetkoekieresep geleer nie, maar haar ook in die kombuis touwys gemaak. Haar ouers, Attie en Leoni, het ook ʼn groot rol gespeel in haar loopbaankeuse. “Ons Bekkers vier spesiale geleenthede met groot opgewondenheid en soetgebak, veral kolwyntjies! Daar is net iets ongelooflik spesiaal aan die manier waarop ʼn mooi verjaardagkoek of ʼn dekadente kolwyntjie jou laat voel, en ek poog om deur my besigheid hierdie liefdesgevoel met ander te deel,” sê Bekker.

Die besluit om by Akademia te studeer was volgens Bekker voor die hand liggend omdat die nauurse afstandsmodel haar die vryheid bied om bedags haar onverdeelde aandag aan haar besigheid te gee. Sy rus haarself terselfdertyd met die nodige akademiese vaardighede toe om haar in staat te stel om haar besigheidsdroom as ʼn entrepreneur ʼn werklikheid te maak. Bekker volg die e-leeropsie en haar gunstelingmodule is Bemarking. Sy geniet dit om dit wat sy in die klas leer, prakties in haar besigheid toe te pas. ʼn Voorbeeld hiervan is die toepassing van kwantitatiewe elementêre metodes om die hoeveelhede van haar bestanddele mee uit te werk.

Wat Bekker egter die meeste geniet van haar nauurse afstandstudie is dat sy die geleentheid het om vir haar eie studie te betaal. Sy vertel dat sy elke week tussen 150 en 300 kleinkoekies vir ʼn bekende motorhandelaar in Johannesburg bak, en dat dié langtermynkontrak haar in staat stel om haar studielening by Helpende Hand te delg. “Dit is vir my baie belangrik om selfstandig te wees en om só die druk op my ouers te help verlig. Ná alles wat hulle al vir my opgeoffer het, is dit lekker om op hierdie manier ook na hulle om te sien,” sluit Bekker af.

Besoek gerus Something Nice se Facebook-blad vir meer inligting.

Akademia-student, Zané Bekker, is ʼn bobaasbakker en haar tuisnywerheid, Something Nice, is veral bekend vir spesialisgebak, soos trou- en temakoeke.